Rubrieke - Nataniël

Mark toe

En die belofte van nog ’n feesgety, nog net ’n paar eksamens, die laaste maatskappy-onthale, die ellende van ’n hele paar verpligtinge en uiteindelik is daar weer tyd vir lang buitekuiers, sluwe sexy kelkies in lang glase en ongekompliseerde disse op ’n kraakskoon tafeldoek.

Jaar ná jaar word familie, vriende en liefdes onthaal met moeite en sorg, maar met dieselfde tam geregte en voos idees.

Met hierdie skrywe wil ek hulde bring aan die voedsel van die aarde, die geskenk wat eeue lank steeds skeefgekyk word: groente.

In feitlik elke tydskrif, kookboek of rolprent is ’n asemrowende toneel van ’n mark vol kleurryke groentes, eksentrieke karakters en skoonhede wat met reusemandjies tussen al hierdie skilderagtige onwerklikhede ronddwaal. Ons kyk daarna, dink dis te mooi en gaan roer dan verder binne aan die pot lamlendigheid.

Ek vra mooi, wandel hierdie somer die varsheid binne, doen jouself, jou familie, jou beursie en jou verbeelding ’n guns en hou stil by die mark. En as jy vas glo groente is net daar vir slaplê langs ’n homp vleis of diens doen in ’n strafkampslaai, kyk net hier:

Ertjies: Meng vars tuinertjies met gaar mieliepitte en skep in individuele koppies. Skep dan ’n klein bietjie ongegeurde jogurt bo-oor, garneer met fyngekapte pietersielie en grofgemaalde swartpeper, en sit dit voor.

Patat: Bak heel patats in die oond tot gaar. Sny die skil aan die bokant en vlek dit oop. Skep Franse roomkaas bo-oor, rangskik vars roket bo-op en geur met grofgemaalde swartpeper.

Aspersies: Was en droog vars aspersies. Rangskik dit op ’n bakplaat, geur met sout en peper, en drup olie bo-oor. Bak vir 10 minute in ’n warm oond. Sit dit voor met ’n sous van olyfolie, witwyn, balsamiese asyn en heuning.

Komkommer: Sny vars komkommer en Italiaanse brood in ewe groot blokkies. Meng met gekapte ui en bedrup met druiwe-asyn en olyfolie. Garneer met vars basiliekruid en skep onmiddellik op.

Geelwortels: Rasper jong wortels en skep bo-op ’n bord vol vars bronkors (watercress). Sprinkel met slaaisous van olyfolie en sjerrie.

Sampioene: Vul groot sampioene met ryp kersietamaties en geur met sout en peper. Drup olyfolie bo-oor en draai toe in druiweblare. Bak in oond tot gaar.

Pampoen: Maak ’n paar knoffelhuisies fyn en braai liggies in botter. Roer by fyn, gaar pampoen. Meng fyngerasperde Parmesaankaas by en geur met grofgemaalde swartpeper. Skep lepelsvol op dun roosterbrood, sprinkel met geroosterde dennepitte en sit voor met groenslaai.

Spinasie: Verhit botter in pan en roerbraai knoffel en gekapte ui tot sag, maar nie bruin nie. Voeg vars spinasie by en roer totdat die spinasie net begin verwelk. Verwyder dit van die hitte en besprinkel met suurlemoensap en olyfolie. Geur met sout en peper. Sit dit voor saam met pitabrood en jogurt.

Avokadopeer: Gebruik ‘n kerriemengsel van jou eie keuse en maak ’n sous met uie, knoffel en rooirissie. Rangskik skywe vars avokado op Italiaanse brood, skep sous bo-oor en garneer met Italiaanse pietersielie of koljanderblare.

Tamatie: Maak ’n slaai van heel jong tamaties, gaar baba-aartappels (in die skil!) en fyngekapte swart olywe. Geur met sout, peper, suurlemoensap en olyfolie. Garneer met Italiaanse pietersielie en mentblare.

Broccoli: Verhit ’n klein bietjie olie en botter in ’n pan. Roerbraai repe vars broccoli met fyn knoffel en vars gemmer tot gaar, maar ferm.

Lensies: Sit ’n eenvoudige slaai van gaar lensies, gerasperde suurlemoenskil, rosyntjies, pietersielie en bokmelkkaas voor. Drup met balsamiese asyn en olyfolie en geur met grofgemaalde swartpeper.

Aartappel: Maak gaar aartappels fyn (behou die skil), meng 2 kontrasterende soorte kaas, 1 eier en gekapte grasuie. Geur met sout indien nodig. Skep in ‘n broodpannetjie en bak in die oond. Sny dit in skywe en sit warm of koud voor.

Beet: Draai die heel bete toe in foelie en bak dit in oond tot gaar. Laat dit afkoel en verwyder die skil. Sny dit in dik skywe en geur liggies met growwe sout en varsgemaalde swartpeper. Besprinkel met gekrummelde fetakaas en vars tiemie, bedrup met olyfolie.

Ui: Verhit 2 eetlepels botter, 2 koppies rooiwyn, 1 koppie groente-aftreksel en 1 eetlepel suiker in kastrol. Plaas 6 groot uie of 18 klein uitjies daarin en laat dit prut tot gaar. Verwyder die uie en laat die sous prut tot dik. Gooi oor die uie, geur met grofgemaalde swartpeper en sit voor.

Vinkel: Sny 2 vinkelbolle in skywe en braai dit teen ‘n hoë hitte in ‘n kleefvrye riffelpan. Rangskik op ‘n opdienbord en besprinkel met olyfolie, suurlemoensap, suiker en growwe seesout. Garneer met vars basiliekruid en tamatieskywe

Sien jou by die groengoed.