Rubrieke - Nataniël

Middernag

Mag daar elke dag nog ’n manier van servetvou ontdek word, mag die kweekhuise bly oorloop van tafelblomme, mag die aarde uitswel sodat daar plek is vir nog kandelare en kerse. Ek het dit beslis van my ouma geërf, die ding dat ’n okkasie deel is van jou daaglikse roetine. Niks is te gewoon of te klein nie, ’n namiddagtee, die einde van ’n hoofpyn, die oopmaak van ’n koevert, enigiets kan lei tot ’n onthaal. Kersfees bly natuurlik ’n hoogtepunt, so ook verjaardae, herdenkings, geboortes, dope, aannemings, verlowings, troues, seisoene, konserte, afskeide en ontmoetings.

Behalwe Oujaar, sommige noem dit Nuwejaar, die laaste aand van die jaar, dié bly vir my ’n moeilikheid. Ek kan maande beplan aan ’n verjaardagdinee of die spyskaart vir Kersdag, uitnodigings, kleurskemas, uitrustings, ek het albums vol verruklike oomblikke, maar ek het feitlik geen herinnering aan ’n perfekte Oujaarsaand nie.

Daar was ’n paar middernagtelike eredienste, ’n paar dominees het dit probeer mooimaak met kerslig, ligte wat afgesit word en klokke wat lui, maar ek was elke keer oorweldig deur ’n hartseer en verlatenheid wat ek nie weer wil beleef nie. Daar was ’n paar middernagvertonings gevolg deur die legendariese partytjies in die foyer van die Nico Malan-teater (nou Kunstekaap), waartydens honderde aantreklike mense opgetof rondgestaan en rondgeloer het. Ek het dit elke jaar met blink ogies bygewoon, vas oortuig dat die liefde van my lewe op só ’n aand bo-aan die trap sou verskyn. Daar was niks. Vele ander geleenthede het gevolg, té veel drank, té harde musiek, té luidrugtige mense.

Uiteindelik het uitgaan net gevaarlik en onnodig geword. Huispartytjies met vriende en kollegas het begin. En hoe hard ’n mens ook al probeer, om die een of ander rede bly dit sonder ’n hoogtepunt. Alles is daar, sjampanje, lanterns, kerslig, die heerlikste geregte, musiek en liefde, maar iewers is ’n demper.

Weens die feit dat duisende barbare steeds glo klappers of vuurwerk verskaf opwinding, is daar altyd ’n geskarrel met vreesbevange troeteldiere. Ure voor middernag vertrek die helfte van die gaste. Ander het vergeet van ’n middagslapie en is teen negeuur só vaak dat hulle net elke halfuur kopknik of mompel. Sommige is bang dit reën en begin dus te vroeg vleis braai, teen elfuur is almal flou van die honger. Die meeste se fut is nog uit van al die baljaar oor Kerstyd óf hulle moet huis toe bestuur en het nog nie die kuns van nugter pret bemeester nie. ’n Groot groep (om die waarheid te sê, miljoene) het nog nooit gehoor van oordeelkundig kuier nie en is ure voor die nuwe jaar so dronk dat ’n vonnis meer gepas is as goeie wense.

Ek onthou wel een besonderse Oujaarsaand. Dit was net nadat ek myself in die noorde kom vestig het. Ek het nog nie baie mense geken nie en was druk besig om ’n loopbaan aan die gang te kry. Daar was musiek in die verte, bande het geskree en toeters het geblaas, maar ek was te opgewonde oor my nuwe blyplek en my nuwe lewe. Die kombuisvloer was bedek met koerantpapier en kartondose en ek was besig om al my boekrakke wit te verf.

Om middernag het die wêreld buite ontplof. Ek het ’n bietjie wyn in ’n teekoppie geskink en musiek aangesit. Daar was ’n atmosfeer van afwagting, vooruitsig, nuuskierigheid en hoop, ’n tevredenheid met min en ’n belofte van baie. Tot vandag toe probeer ek hierdie gevoel herleef.

My soeke na die perfekte middernag duur voort. My lewe het verander en die wêreld ook. My boekrakke is klaar geverf en ek woon op ’n plek sonder klappers en toeters. Ek het baie geliefdes, baie resepte en mooi musiek. En ek wil dit bymekaar bring.

Betowering lê in die samekoms van die regte mense, die regte plek en die regte tyd, die perfekte kombinasie van simboliek en seremonie, malwees en stilsit, terugkyk en wegspring, dankbaarheid en doenigheid. Ek probeer hierdie jaar weer.

  • Tallie

    Uitstekend ‘Vintage’ Nataniel magies ek mis hom en Sarie hier in Oz

  • Die soeke na daardie verlange en afwagting het my ook al baie by geval om daardie tyd van die jaar. Daar’s altyd hartseer oor dit wat jy agter laat en dinge wat skeef geloop het en dan…

    HOOP

    na nuwe ontdekkings en nuwe geleenthede om jouself reg te stel en daardie eindelose soek-tog te vind.

    Alhoewel, soos jy sê: "’n tevredenheid met min en ‘n belofte van baie"

    Ek’s mal oor jou rubrieke en manier van hoe jy dinge van jouself kan deel sodat elkeen van ons daarby kan aanpas.

    Dankie.