Rubrieke - Nataniël

Mooimaak

Ek stoei om die rak op soek na mineraalwater, sy’s reg agter my. By die vars kruie mik sy saam met my vir ’n bos pietersielie. Die bril is nou af en sy kyk my reguit in die oë.

Is jy wie ek dink jy is?

Ek glimlag. Ek weet glad nie wat u vermoedens is nie, sê ek.

Daai sanger, sê sy. Die een met die lipstick.

Ek weet van ’n hele paar met lipstick, sê ek. Maar ek is een van hulle.

Nou wat loop jy so vaal rond? vra die dame.

Ek doen inkopies, sê ek.

Maar jy moet vir jou verf! sê die dame. Dis mooi.

Dankie, sê ek. Maar dis net vir wanneer ek werk. En dis te warm in die dag.

’n Week later is ek een aand op pad na my motor direk ná ’n vertoning. Twee mollige vroue met groot glimlagte spring agter ’n pilaar uit.

O, jy’s pragtig sonder jou grimering, sê die een.

Ja, jy hoef nie daai goed aan te sit nie, ons soek jou net soos jy is, sê die tweede een.

En hoe is dit? dink ek by myself. Wat vir my ’n doodgewone proses is, sonder ’n dag se denke of twyfel of diepe ondersoek, waai nou al byna agtien jaar kuiwe in hierdie samelewing deurmekaar. En hoe het dit begin?

Dit was 1982. Op Stellenbosch. Dit was ’n halfuur voor my heel eerste optrede met ’n mikrofoon en my eie musiek. Ek het in die kleedkamer voor die spieël gaan staan. Die uitrusting sal ek nooit vergeet nie: noupassende swart hemp en driekwartbroek met rye en rye spierwit knopies (self aangewerk!), spierwit kouse en sagte plat swart skoene, soos dié van ’n danser. Ek het gelyk soos ’n kruising tussen ’n spook, ’n hanswors en ’n woedende feetjie, dit was fantasties. Maar iets het kortgekom. Ek het staan en staar na myself en kon glad nie uitwerk wat verkeerd is nie. Skielik het ek die prent van die mimiekkunstenaar Marcel Marceaux bokant my bed onthou. Ek het omgespring, die trappe afgehardloop en my vriendinne in die foyer se handsakke gestroop. Twintig minute later was my gesig geverf, ek was doodgelukkig en die vertoning was ’n reusetreffer. Nooit weer het ek vir ’n oomblik daaroor gedink nie, daar word eers geverf, dan gesing.

Die meeste stof het al gaan lê, maar af en toe loop ek my nog vas teen ’n ontstoke stadsvader, gewonde geestelike leier of verwarde joernalis. En weer en weer vra ek, hoekom?

Mans het in 10 000 v.C. reeds grimering gebruik, ’n direkte nabootsing van die natuur waar die manlike diere gewoonlik kleurryker en glansryker vertoon as hul vroulike maats. Stertvere, maanhare, helderkleurige snawels en blink, welige pels word met trots vertoon. Griekse en Egiptiese mans gebruik duisende jare alreeds gegeurde olies om hul vel te versag en te beskerm, kleursel om hare en naels gesonder te laat vertoon en swart poeier om oë en wenkbroue te aksentueer.

Reeds 7 000 v.C. is olyfolie gebruik om velsorgprodukte vir die manlike geslag te vervaardig. Rooi klei is gebruik om blos te maak vir die kleur van die wange en lippe. Liggaamsreuke is verbloem deur die gebruik van alkoholvrye parfuums en gegeurde olies.

Honderd jaar ná die geboorte van Christus het die Romeine begin om mansgrimering te gebruik bloot vir estetiese en seksuele doeleindes. Rate is bedink vir aknee en velprobleme, gesigte is witter gemaak met poeier en daar is geëksperimenteer met haarverwydering.

In die Victoriaanse tydperk is besluit grimering is uit die bose en uiteindelik het die vaal man van vandag sy verskyning gemaak. (Daar is wel in die leeftyd van Elizabeth I aktief gewoeker met gesigpoeier vir die manlike geslag, ’n noodlottige mengsel van lood en arseen wat soveel sterftes veroorsaak het dat dit later as gewilde moordwapen gedien het.)

En nou? Wat mag en wat mag nie? Wie mag en wie mag nie? Kosmetiese firmas verdien reeds biljoene per jaar uit die massas moderne mans se behoefte om goedversorg of gesond of uniek of viriel of jonk te vertoon. Ander lig die skouers en stel die televisie harder.

Dis ’n nuwe eeu, ’n nuwe era, ’n vryer wêreld en – so bid ek – ’n plek waar met insig en verdraagsaamheid geleef sal word.

Mooi van binne: Dit blyk byna makliker te wees, daar is riglyne en inspirasie. Mooi van buite: Dit bly ’n stryd, dikwels ’n verleentheid, maar uiteindelik is daar die salige wete, smaak verskil.