Rubrieke - Nataniël

‘n Klaar verhaal

Ek het hom ses jaar gelede as ’n geskenk van die uitgewers van die Harry Potter-boeke ontvang. Dis nadat ek wyd en syd verkondig het hoe mal ek is oor hierdie reeks towenaarsverhale. (Ten spyte van die paar lawwes wat destyds ’n kortstondige opstandheidjie beleef het, want toor is sonde.)

Toor is fantasties. Toor het niks te doen met bose geeste en vlamme uit die hel nie, toor is die vermoë om met jou talente die wêreld om jou ’n wonderlike plek te
maak. Mariah Carey toor met haar stem, Topsi Venter toor met haar kos, Catharina de Bliquy toor met haar verfkwas, Floris Louw toor met my kostuums, Charl du Plessis toor met sy klavier − ek is omring deur towenaars en Harry Potter is maar net een van hulle.

Laasnag het ek ure lank sit en kyk na ’n dokumentêr oor die lewe van J.K. Rowling, skrywer van die Harry Potter-verhale, ’n werklose enkelmoeder wat gely het aan depressie, maar rondgeloop het met ’n storie in haar kop. Eendag het sy dit neergeskryf en sy is vandag die rykste vrou in Engeland.

Ons ken almal die tipiese feëverhaal, die ashoop-tot-glaskas-sprokie, elke tweede televisieprogram wil van iemand ’n ster of miljoenêr maak, dobbelhuise smous met kitsdrome, tydskrifte wys hoe elkeen oornag in ’n skoonheid kan verander, ons almal stort ’n traan wanneer die swartskaap oor die wenstreep hardloop.

Ons almal ken die teorie dat elkeen se pad reeds uitgelê is, dat elkeen se lot reeds beklink is, jy moet dit net volvoer. Sommige glo dis die hand van die Skepper,
ander glo dis die posisie van die planete, die luies glo daar is ’n ding soos die noodlot, ’n paar dapper soldaatjies glo alles is moontlik deur die menslike wil, nog ’n lotjie glo ons het baie lewens, ons kom oor en oor terug aarde toe totdat ons al ons foute reggemaak het. (Indien dit wel so is, mag ek volgende keer asseblief
terugkeer sonder ’n eetlus.)

Hoekom is party dan slim en ander simpel? Hoekom sweef sommige van sukses tot sukses terwyl ander ploeter van mislukking tot mislukking? Hoekom vind party liefde en ander nooit? Hoekom word party skatryk terwyl ander sukkel? Hoekom het sekeres insig terwyl ander totaal onbewus is van die waarheid? Hoekom is sommige tevrede met min terwyl ander koorsig soek na meer?

Ek glo alles gaan oor ’n verhaal. Reeds uitgedink. Net selde opgespoor.

J.K. Rowling moes haar verhaal neerskryf om die suksesvolste skrywer in die geskiedenis te word. Dit het ook gelei tot finansiële gemoedsrus, ’n tweede kans op
liefde, ’n gesin, roem en inspirasie vir miljoene. Iemand anders moet syne ook neerskryf, nie noodwendig om op ’n winkelrak te verskyn nie, maar om te lei tot begrip en genesing. ’n Ander moet sy verhaal navors om te ontdek waar hy vandaan kom, om te verstaan hoekom daar kwaad, woede of gebrek is en ’n rigting om te ontdek.

Sommige se verhale bevat siekte, dood, lyding of hartseer om ander te waarsku of te skok tot verantwoordelikheid. Ander se verhale is so flou of eensydig dat dit lei tot afskeid, verslawing, afhanklikheid, afguns of verwyt. ’n Paar se verhale is bloot so vermaaklik en opwindend dat dit die verbeelding aangryp, vreugde verskaf en rykdom meebring.

Dis eers wanneer jy jou storie uitgrawe, afstof en sonder leuens vertel dat jy besef hoeveel foute daar is, hoeveel vergifnis nodig is, hoeveel pret jy miskyk, hoe min jy nog geleef het, hoe ver die pad nog is, hoeveel jy het om te deel. Ek wens daar was genoeg tyd of energie om elke familie of vriendekring of woonstelblok
of kantoor of gemeente of koor se stories te versamel, te versorg en te versprei. Wat ’n toordery sou dit afgee!

  • Nicolette

    Dit is die beste artikel wat Nataniël al ooit geskryf het!

  • Susan Botha

    Nataniel se artikels is soos ‘n sjokoladetjie. Jy maak hom oop en ervaar elke keer ‘n verassing tot aan die einde wanneer jy die laaste lekkerte ingesluk het en wens daar was meer meer meer