Rubrieke - Nataniël

’n Koek op sy tyd

Só lui die foon op ’n waansinnige Vrydag. Dis Therése. (Sy werk voltyds, het ’n aktiewe huwelik en studeer vir ’n graad in die regte.) Nats, sê sy, dit kan nie so aangaan nie, wat van ’n teetjie môreoggend, ek bak ’n koek.

Ek voel onmiddellik soos ’n kameel voor ’n fontein. Die lafenis spoel oor my. Koek! skree my binneste. Vandat ek as koeëlronde kleuter tydens my vierde verjaarsdagpartytjie die sjokoladetrein alleen opgevreet het, bly ’n stuk koek vir my soos ’n tuiskoms.

Die dag ná Therése se oproep lees ek in van my kosboeke dat die berei en bedien van koek soos ons dit vandag ken, eers in die 19de eeu gebruik geword het. Genugtig! Hoe het die voorgeslagte oorleef?

Wat het hulle gedoen in tye van nood? Of blydskap? Hoe het hulle iets gevier? Of mekaar getroos? Die geskiedenis van koek loop langpad saam met dié van brood. In die donker dae, nog lank voor beskawing, is fyngestampte graansoorte met water gemeng, in bolle saamgedruk en op ’n warm klip gaargemaak. Geleidelik het brood ontwikkel. Die Egiptenare was die eerstes wat vrugte en heuning by die mengsels gevoeg het. Later het die Grieke en Romeine neute, sade en soetwyn bygevoeg.

Gis is van bier geskep en gebruik om die baksels te laat rys. Uiteindelik het die Italianers die kuns van bak verfyn en hul vaardighede aan die res van Europa bekendgestel. En in die 18de eeu is daar begin om gis en suurdeeg in koeke te vervang deur geklitste eiers. Soveel as moontlik lug is in die eiers geklits om koeke ’n ligte tekstuur te gee en die sponskoek het sy verskyning gemaak.

Maar nog steeds is koeke eerder gebruik as versiering op die tafels van rykes en adellikes as om te eet. Kunswerke is gebak in elke moontlike vorm, mildelik versier en dan in die middel van ’n kostafel geplaas. ’n Hele honderd jaar later het iemand besluit om ’n hap te vat en nagereg is gebore. So ook die gewoonte om koffie, tee of wyn saam met koek te bedien as ’n versnapering tussen maaltye.

Ongelukkig, soos met die meeste goeie goed op aarde, het die samelewing hierdie lekkerste van lekkernye begin misbruik vir alles behalwe die sintuie. In die 19de eeu is ’n jong meisie eers gekies as bruid as sy haar vaardigheid as bakster van ’n perfekte koek kon bewys. Is dit dalk hoekom ons vandag, 200 jaar later, nog steeds gereeld gekonfronteer word met hemelhoë, winderige baksels sonder ’n teken van smaak? Is dit hoekom tafels nog steeds spog met rubberige monsters, aanmekaargeplak met lagies konfyt en gekookte kondensmelk?

Die woord koek beteken “om saam te voeg” of “bymekaar te meng” en in die kosheelal is daar wel ’n skare skeppers wat gehoor gee hieraan. Ek dink aan die Franse vyekoek wat bestaan uit gedroogde vye en amandels wat saamgebind word, die hemelse Duitse boomkoek wat gemaak word deur ’n lagie deeg op ’n pan te verf en vir ’n paar sekondes onder ’n warm element te braai voordat die volgende lagie geverf word. Tot dertig lagies deeg word gebak om hierdie bros koek te vorm. Ek dink aan die Engelse pound cake met rum en warm mango’s, die beroemde Hongaarse kersiekoek met broodkrummels, geroosterde neute en suurroom, en die Oosterse dadelkoek, ’n dagdroom van eierwitte met vars dadels en versuikerde sitrusskil. En dan my absolute gunsteling, die Amerikaanse lane cake. Dun lae spierwit vanieljekoek word gestapel met ’n deursigtige vla van 12 eiergele en ’n halwe bottel whisky. Die koek word voltooi met gebraaide klapper, neute en koemkwats.

Plaaslik hoef ons glad nie te bloos nie – onlangs het ek myself deeglik beseer by Topsi & Company met ’n sny malvakoek (met ’n laag appelkose binne-in), wat ons toeristebedryf ’n goeie hupstoot kan gee, in elke Seattle-koffiewinkel wag ’n sjokoladeskepping wat jou huwelik kan skade aandoen en ’n sny Woolworths-sponskoek, gevlek met ’n paar druppels port of sjampanje, kan jou horison verskuif.

As jy ooit weer gekaap word deur ’n lewensmoeg laagkoek met margarienversiersel en botteltjiekleursel, hou verby. Twee tree verder wag ’n paradys. Gaan loer in.