Rubrieke - Nataniël

Om kers op te steek

Dis yskoud in die paleis, sê sy. En ek mag nie eens naby die vuur sit nie.

Is hulle bang jy vat vlam? vra ek.

Elizabeth giggel en doop ’n koekie.

Ek moet seker loop, sê sy. Voor jou mense opdaag. Netnou is dit weer ’n sirkus soos laas.

Ek verwag niemand nie, sê ek.

Nou watsit met al die kerse? vra sy.

Is dit nie vir jou mooi nie? vra ek.

Natuurlik, sê sy. Maar wat’s die okkasie?

Net wat jy wil, sê ek. Ek brand altyd kerse. In die dag, in die nag, dit maak my gelukkig.

Ek het laas soveel kerse gesien met my, sê Elizabeth. Verder steek ons net kerse brand as die krag afgaan. Elke keer as die kinders skandes maak, vergeet ek om te betaal.

Sy doop nog ’n koekie.

Bly nog ’n rukkie, sê ek.

OK, sê sy. Dis nogals vreemd, ek bly in ’n regte paleis en jou huis lyk baie meer soos een.

En dis die waarheid. Oggend, middag en aand, iewers in my blyplek of werkplek is daar altyd ’n woud kerse aan die brand. En nie om een of ander vreemde rede of spookstorie nie, dis mooi, dis verskriklik mooi. Dit skep atmosfeer, fokus, rustigheid en skoonheid. Vir my.

Vir ander is daar ’n ondenkbare hoeveelheid ander redes om ’n wispelturige liggie te laat flikker, ekonomies, histories of godsdienstig. Die doel, simboliek, geskiedenis en gebruik van kerse het ’n lang verhaal met vele vertakkings.

Tot vandag toe is daar nog geen uitsluitsel oor waar en deur wie die eerste kers gemaak is nie. Sommige glo dit was die ou Egiptenare wat olies in kleihouers gebrand het. Ander glo dit kom uit Afrika, waar sade gebrand is. Hierdie sade is later aaneengeryg en opgehang, vandaar die idee van ’n kerspit. Die eerste kerse, soos ons dit ken, is gemaak deur die Japannese en Chinese. Was afkomstig van insekte is in papierhouers gegiet. In Indië het hulle was gemaak deur skuim van kokende kaneel af te skep en in Amerika is olierige tipes vis op ’n stok gemonteer en aan die brand gesteek. Hierdie grillerige fakkel het later verdwyn toe die eerste kerse uit harde dierevet of byewas gemaak is.

In die 19de eeu is kerse gegiet in verskillende vorms en gevlegde tou of papier is gebruik vir die pit. Net ná 1830 is paraffien en moderne kerswas ontwikkel. Kershouers is gemaak uit brons, koper, klei, glas of kristal. Weelderige kandelare het gedrup uit die koepels van kastele en katedrale. Elke kandelaar het klein bakkies gehad waarin die smeltende was opgevang is. Die hitte (en reuk!) tydens ’n spoggerige onthaal moes dodend gewees het. Daar word gereken dit het 200 antieke kerse geneem om dieselfde hoeveelheid lig te verskaf as ’n enkele moderne gloeilamp.

Maar vandag, met al ons geriewe en elektrisiteit, word daar elke sekonde nog miljoene kerse aangesteek. Van ’n primitiewe pondok iewers in ’n arm land tot ’n lanternfees in Japan, van ’n swerwerstent êrens in die woude tot ’n ontwerperstafel in New York, van ’n romantiese badkamer in ’n wittebroodsuite tot ’n altaar in die Vatikaan; niks kon nog die redding, hoop of weelde van ’n kers vervang nie.

Dis weer lente. Wintervet word afgeskud, tuinmeubels word afgevee, swaar gemoedere word afgestof en ’n nuwe siklus word begin. Moenie vir ’n oomblik glo die feestelikheid is beperk tot verjaarsdagkoeke en bruidstafels nie. Steek vir jou ’n kers aan, al sit die son ook waar. En as die weer draai en die verlange sit stewig, steek sommer ’n paar aan. Huldig jou liefde, vier die verlange, bevestig elke traan. Waar jou hart ook al sit, die flikker van ’n kers bly ons mees beskikbare luukse.

Ns. ’n Nota vir Elizabeth: Ounooi, moet jou nie steur aan die klomp in die kasteel nie, steek vanaand vir jouself ’n kers aan. Onthou, as jy ’n reukie soek, gebruik net kerse gegeur met natuurlike olies, nie geurmiddels nie; daar’s genoeg sintetiese walms in die rondte. Brand ’n kers langer as 1 uur en korter as 3 uur; sodoende verhit die was egalig en kry jy die beste gebruik. Liefde vir William.