Rubrieke - Nataniël

Oupatjie

Vrede op aarde, vars lug, skoon water, welige woude, gelyke regte, waarheid op televisie, minder besoedeling, geen korrupsie, veilige paaie, stilte in die buurt, verslankende modes en goeie tafelmaniere, waaroor was die bohaai? Ek het ’n plooi. Hoe kan ek my ooit weer steur aan enigiets? Grappies maak? Die maan bekyk? Rustig slaap? Die weer bespreek? Gaste nooi vir ete? Ek het ’n plooi!

Dis nie ’n min-slaap-voutjie nie, dis nie ’n ek-het-’n-vakansie-nodig-lyntjie nie, dis nie ’n sjoe-watter-partytjie-strepie nie, dis ’n einde-van-die-aarde-krater, ’n dis-nou-nie-meer-lank-nie-wond. Onder my regteroog, duidelik sigbaar vir enigeen wat nader beweeg in helder lig.

Dankie, Mamma, dankie, Pappa, tot siens almal, hoe het dit gebeur? Ek weet daar is mense tien jaar jonger as ek met velle wat lyk soos koerantpapier in ’n klam kas, ek weet elkeen se gene, lewenstyl en skade is anders, ek weet almal verander, maar ek het iewers diep in my binneste nog altyd geweet ek sal ewig jonk bly, seepglad en vol energie.

Nou’s daar die kraak, die antieke bars. Een oomblik geniet jy die lewe, huppel singend van hoogtepunt tot hoogtepunt, die volgende oomblik gly jy bultaf, hulpeloos op jou bas. Wat weerhou jou van waansin? Hoe bly jy glo daar’s nog enigiets moois in jou toekoms? Wie bly gelukkig? Dié wat nooit omgegee het nie? Dié wat geen langtermynplanne gemaak het nie?

Ek neem aan dat daar – soos met enige ramp – verskillende fases is tydens die proses van veroudering: skok, skok, skok, ontkenning, hartseer, nog skok, woede, erge medikasie, afsondering en, uiteindelik, algehele donkerte. Ek vertoef tans in die fase genaamd histerie: mal van vrees, ontneem van balans of perspektief en hande in die hare, sou daar wees.

Met ouderdom kom alle wonderlike eienskappe soos wysheid, kalmte, insig, geloofwaardigheid en vryheid. Hou dit! Maak nie saak hoeveel dwaasheid, lompheid en koddigheid saamkom nie, gee my jeug en ’n gladde wang! Ek het ’n plooi, ’n wrede, onfotogeniese monster wat nesmaak onder my oog en aktief deelneem aan my sosiale lewe.

Onlangs woon ek die opening van ’n kunstentoonstelling by. Ek staan en gesels met twee jong, aantreklike kunstenaars.

Moet Oupatjie nie maar ry nie? sê ’n stem. Dis reeds ná sewe!

Die twee kunstenaars kyk geskok na my plooi.

Ek hardloop na my motor.

Praat jy nou ook? skree ek.

Wanneer nodig, sê die plooi.

Die volgende aand woon ek ’n ete by en gesels met ’n jong sanger. Die kelner skink witwyn.

Oupatjie het genoeg gehad, sê die plooi kliphard. Kyk, ons is albei bloedrooi.

Die jong sanger draai weg en gesels met ’n jong kitaarspeler.

Dae lank lê ek verslae in my kamer. Dis alles verby. Wat nou?

Oupatjie moet slaap, sê die plooi. Slaap is goed, dit maak my dierbaar.

Ek plak hom toe met ’n pleister. Die volgende week koop ek ’n groter sonbril en gaan soek op die internet na ’n sluier.

My helde, my inspirasies en rolmodelle is almal baie ouer as ek – sterk, eksentrieke, opwindende wesens. Baanbrekers. Met plooie. Dié het my nog nooit gepla nie. Ek het my net verwonder aan hul energie en kreatiwiteit. Sjefs, skrywers, ontwerpers, musikante, skilders, filosowe en dokters, hulle inspireer my, hou my dapper, gee raad en betower. Ouderdom en ondervinding het hulle gebring waar hulle is en waar ek ook wil wees. Hoekom vrees ek dan die ouderdom? Is dit oor hoe ek lyk as ek ’n vertrek instap? Is dit oor hoe kosbaar tyd word as jy nog te veel planne het? Is dit omdat my gesondheid meer aandag nodig het?

Onlangs is ek by ’n drankwinkel in. Kan ek Oom help? het ’n groot lummel van ’n man gevra. Ek moes aan die rak vashou om die floute te oorkom.

Die plooi sal ek beveg tot die einde, ek gaan hom spuit, bestraal, smeer, plak en verf. Die ouderdom? Ek hoop ek maak vrede. Eendag.