Rubrieke - Nataniël

Soggens

Natuurlik, sê ek.

Ek weet dat ek dikwels soveel voorregte geniet waarvoor die meeste mense duisende rande moet uitgee. En hoewel ek nog steeds my eie huis verkies bo enige verblyf in die wêreld, is daar ’n baie spesiale plesier aan ’n eksotiese ligging of ’n splinternuwe slaapkamer. Of so het ek gedink.

Vir die soveelste keer stap ek ’n luukse hotelsuite binne. Ek kyk na die reusebed met die berg kussings. In die hoek staan ’n leunstoel met net te veel patrone. Die gordyne het strepe, knolle, bobbels en strikke, die badkamervloer is bestrooi met droë blommetjies, op die koffietafel lê toestelletjies om die televisie, die rekenaar, die lugverkoeling en jou gewete mee te beheer, daar is ’n silwerbordjie met laventelbrosbrood en ’n oordadige emmertjie met ’n yskoue bottel wyn.

Skielik klop my hart vinniger. Op ’n klein tafeltjie langs die bed lê die ontbytkaart. Rye en rye blokkies met keuses waarvolgens jy die perfekte ontbyt kan ontwerp. Ek maak onmiddellik kruisies langs al my gunstelinge (as ’n verkiesing net soveel vreugde sou kon waarborg!) en hang die kaart buite my deur.

Die volgende oggend is daar ’n diskrete klop aan die deur, ek sit al lankal gereed, maar probeer my bes om kalm te vertoon. ’n Hotelfeetjie verskyn met ’n skinkbord in haar arms en trippel geluidloos oor die dik tapyt. Sy dek die tafel voor die venster en verdwyn met ’n glimlag. Ek lig die silwerkoepel van die bord. Sagte roereiers met gerookte salm en grasuie. Roosterbrood omring deur ’n verskeidenheid van konfyte in miniatuurhouers. Stoomwarm koffie en vars vrugtesap. Franse broodjies met sagte kaas. Uiteindelik is my lewe volmaak.

Ek weet dat so ’n ontbyt my sal doodmaak, sou ek hiervan ’n gewoonte maak. Ek weet dat daar by die huis nooit die tyd is om elke oggend ’n dinee voor te berei nie. Ek weet ook dat vrugte, jogurt en ’n verskeidenheid van medies-goedgekeurde graanvlokkies die beter keuse is. Maar ek verbeel my al jare dat weelderige kos in die vreemde glad nie so vet maak soos by die huis nie, ook dat ’n vertroostende ontbyt die verlange huis toe ’n bietjie meer draaglik maak. Een feit staan egter onwrikbaar waar: ’n Goeie en interessante ontbyt maak van my ’n beter mens, die dag begin met opwinding en eindig met nog ’n belofte.

Terug by die huis vaar ek my boekrak binne, kyk kos-televisie en bel my kombuisvriende. Ek koop glanstydskrifte, wei op Martha Stewart se webwerf en oefen in die kombuis. Daar moet ontbytgeregte wees wat vinnig voorberei, beeldskoon vertoon, verkwik, vul, vertroetel en gesonder is sonder om herinneringe aan hospitaalkos aan te wakker. My bevindinge volg:

Die alleen-ontbyt: Roerbraai gekapte kropslaai met ’n klein bietjie botter. Meng met feta-kaas en skep op (ongesmeerde!) geroosterde rogbrood. Bedek met roereiers, garneer met gekapte pietersielie.

Die piekniek-ontbyt: Sny ’n lang Franse brood in die lengte deur. Rangskik snye soetmelkkaas en vars jong spinasieblare oor (ongesmeerde!) onderste deel. Skep lepelsvol gekaramelliseerde uie oor en geur met grofgemaalde swartpeper. Plaas boonste deel van brood bo-op, sny in porsies en draai toe in servette.

Die romantiese ontbyt: Sny appels, pere, perskes en pruime in skywe en plaas op ’n vel geprikte skilferkorsdeeg. Strooi met bruinsuiker en bak in warm oond vir 30 minute. Laat effens afkoel en garneer met sterk verouderde kaas. Of sprinkel met fyn kaneel en sit voor met effens versoete jogurt en sjampanje.

Die laat-ontbyt: Rol pizza- of pasteideeg dun uit en plaas op bakplaat. Bedek met klein tamaties, swart ontpitte olywe en skywe sagte kaas. Bak in warm oond tot net voor die deeg verbruin. Verwyder uit oond, geur met grofgemaalde swart peper en druppels pesto, rol op en plaas terug in oond totdat deeg verbruin. Sny in skywe en sit voor met heelgekookte eiers en vars groenslaai.

Die fees-ontbyt: Bak botterbroodjies met goue sultanas en sit voor met ongegeurde roomkaas. Berei ’n groot omelet met gekaramelliseerde rooi uie, gekerfte biltong en dun skyfies groenvye. Geur met grofgemaalde swartpeper, laat effens afkoel, sny in skywe en sit voor. Maak ’n koekstruif van vrugtekoek, nartjieskil en geroosterde amandels. Bedrup met sjampanje en sit voor met effens versoete mascarpone.

Ontbyt moet aangepas word volgens die behoeftes, smake, ouderdom, gewig, gesondheid en aktiwiteite van elke huisbewoner. Maar ontbyt moet elke dag ongejaagd en met sorg voorgesit word. Jy verloor dalk ’n halfuur van rondjaag, maar jy wen ’n leeftyd van versorging.Ek waarborg dit.