Rubrieke - Nataniël

Storms en sterre

Hier woon die Luidrugtiges. Hulle jaag met ou, gaar motorkarre en gil op mekaar, speel klipharde musiek, bekyk heruitsendings op sneeu-oortrekte televisieskerms en lag vir hul eie grappe. Elkeen het hier beland omdat sy bure, kollegas en familie op aarde hard en aanhoudend bly hoop het op ’n verdwyning. Die atmosfeer op Kaalkop is gelukkig van so ’n aard dat ’n mens hierdie gemors nie kan hoor of sien nie.

Een ligjaar, ’n lang soen en twee glase wyn anderkant Koolkop skitter ’n kleinerige ster, Hartskrater. Op hierdie planeet woed storms, waai woedende winde, spoeg vulkane en oorstroom riviere. Hier woon die Hartstogtelikes. Elke inwoner het sy plek hier verdien omdat hy of sy onmoontlike liefde najaag.

Hier word bemin, afskeid geneem, ineengestort en weer herenig, alles met ’n intensiteit wat g’n mens kan begryp tensy hy dit al self beleef het nie. So erg is dit dat Hartskrater in geen spesifieke wentelbaan beweeg nie, maar rukkerig en impulsief rondspring deur die ruimte, somtyds met soveel energie dat een of twee van die Hartstogtelikes afval en op Kaalkop beland.

So sit ek eendag en dagdroom in ’n spierwit boord toe ’n dikkerige meisie langs my neerplof. Ag, nee, sê sy. Nie al weer hierdie vervelige wit plek nie. Het julle toffies? Ek moet kou, sê sy. Of ek word mal. Ek het twee storms laas van hom gehoor.

Is hy met vakansie? vra ek.

Nee, sê sy. Hy kry mood swings. En hy weet nie of hy wil trou nie. Hy sê ek versmoor hom. Het julle biltong?

Ek sê, Julle moet stilsit en dinge uitpraat.

Dit lei net tot voorhuwelikse seks, sug sy. Ons pas glad nie bymekaar nie. Ons kan net vry of baklei.

Nou hoekom los julle dit nie? vra ek.

Die dik meisie kyk my met volkome verbasing aan. Ons het mekaar lief! sê sy. Ons kan dit nooit, nooit los nie!

Is daar nie iemand wat beter by jou pas nie? vra ek. Wil jy die res van jou lewe sit met al hierdie traumas en uitbarstings?

Die meisie is nou heeltemal verstom.

Natuurlik, sê sy. Wat anders?

Ek sê, Baie mense hou daarvan om by iemand te wees wat hulle laat veilig voel. Wat hulle verstaan en dieselfde voel oor dinge.

Goeiste, sê die meisie. En dan?

Dan bly hulle vir die res van hul lewens bymekaar, sê ek. Hulle bou ’n mooi huis en begin met ’n gesin. Hulle hou vakansie en kuier met die familie. Hulle maak tuin, sit saam voor die kaggel of lees koerant.

Die meisie spring op en hardloop met groot treë deur die boord. Sy gooi haar arms in die lug.

Herman! skree sy, Kom haal my! Hierdie spul is kranksinnig! In die verte verskyn Hartskrater en pyl ruk-ruk op ons af.

Ek maak my oë toe en dink aan my lewe, my daaglikse roetine, my werk, my jare lange onafhanklikheid en die paar power pogings tot liefde. Ek is opreg dankbaar dat ’n sieldodende samesyn my tot dusver gespaar gebly het en ernstig jaloers op die hartstogtelikes. Ek dink aan liefdesdramas van Cleopatra, Wallis Simpson en Maria Callas, dies wat nooit, ooit wou opgee of ingee nie, aan die haarkapper-tannie wat weg is met die broodman en aan my vriendin wat elke dag vir haar gesin broodjies inpak met hartseer oë, want haar groot liefde woon nog steeds alleen op sy plaas.

Ek dink aan die miljoene vrouens op aarde wat hul harte moes agterlaat, want kultuur, familie, geldsake, geografie of godsdiens het iets anders dikteer. Ek dink aan die miljoene mans wat rondloer, begeer en stilbly, want iemand iewers het besluit dis deel van manwees. En ek dink aan die ontelbares wat bloot stroom-af drywe sonder ’n vreugde, verlange of ’n vraagteken.

Ja, daar is veel te sê vir stabiliteit, gemoedsrus en die bekende. Elkeen maak sy eie keuses en elkeen betaal sy eie prys. En soos ek hier sit en skryf in my netjiese kantoor, omring van roosters en kalenders, beplanning en skedules, moet ek bely ek is uiteindelik gereed vir daardie allesverterende liefde, die twaalf seisoene per dag, die groot hartstog wat jou tref soos ’n vuishou.

Sodat jy ewig bly ronddobber, verlore tussen storms en sterre.