Rubrieke - Nataniël

Strandtoneel

Barend was hoegenaamd nie die voorbok op die evolusieleer nie, die fyner detail van hierdie komplekse aardbol het hom nie vir ’n oomblik in die rigting van wysheid gedwing nie, maar iewers, iewers in sy dowwe denke kon hy wel onraad merk toe sy bruid vir die vierde opeenvolgende dag die rusbank se kussings uitlig en die metaalvere met ’n tandeborsel bykom.

Dit was jare voordat Oprah Winfrey haar buiging kom maak het en van die mees algemene emosionele probleme of geestelike afwykings het sonder diagnose amok gemaak onder aardbewoners. Evy was inderdaad ’n slagoffer van die gevreesde Klein-Wêreld-Kontrole, maar is weens gebrek aan insig of uitstekende televisie bloot beskou as pynlik netjies.

So skrop, skuif, vou, vee, kam, poleer en kritiseer sy haar dae verby. Barend sluip saans gespanne deur die hek, los sy skoene op die stoep en sleep koes-koes die blink huisie binne. Hy word gevoer, onderrig, beveel en betig deur sy vrou, ná slegs een jaar van saamwees ’n vreesaanjaende bevelvoerder met die roetine van ’n mal soldaat. Evy het nie meer ’n benul van die buitewêreld, van daaglikse plesiere, ontspanning of ledige oomblikke nie. Daar is nie tyd om te kyk, te verken of te kuier nie, familie en vorige vriende is bloot vae wesens, totaal verlore en ontneem van dryfkrag.

Maar ’n wonderwerk kan sy kop lig selfs op die skoonste werf en ná 15 jaar saam, op een of ander manier (totaal onverklaarbaar en onbespreek), is Barend en Evy uiteindelik die ouers van drie kleintjies.

Die oudste was ’n seun, lank, maer en hees. Hy het gelyk soos die kitaarspeler in ’n spookorkes en het die dorp leeg gesteel. Sy naam was Davy. Die middelkind was Heleen, ’n skugter meisietjie wat van kleins af haar eie hare so styf vasgemaak het dat haar oë eers in standerd drie begin knip het. Die jongste was ’n booswig, ’n dissipel van die donkerte. Klein Barend was ’n tor van ’n kind en kon op die ouderdom van ses maande al ’n vertrek verwoes in minder as twintig minute. Evy was egter slaggereed en het besluit sy sal hom in toom hou al knip dit haar lewe kort.

En dit was hierdie gesin, hierdie vyf unieke wesens, wat op ’n sonnige dag (nie te lank gelede) ’n vol strand tot stilstand bring. Mense het van mekaar se lywe vergeet, hulle roomyse laat smelt en verstom gekyk na ’n toneel wat hulle ewig sou bybly.

Geen skare, geen somersdag of tuimelende brander sou Evy van stryk bring nie. Ná maande se gesmeek en opstandigheid het sy uiteindelik toestemming gegee dat hierdie sinlose vlak tydverdryf, ’n seevakansie, mag plaasvind. Maar sy was paraat en beslis, reëls is neergelê en elke wet is herhaaldelik geleer en voorgedra deur haar onstuimige kroos.

Aan die voet van ’n duin slaan Barend die paal van ’n reusesonsambreel die aarde binne. Aan die paal word drie lang rekke vasgemaak en dan die ander punt aan die enkel van ’n kind. Een pluk aan die rek: Jy is te diep in die water. Twee plukke: Hou op rondkyk. Drie plukke: Met wie praat jy? Vier plukke: Kom eet jou brood.

Die fratswind is deur geen mens verwag of voorspel nie, maar Evy was nog besig om die paartjie op die pienk handdoek aan te spreek oor die volume van hul radio, toe is die sambreel die lug in. ’n Paar tellings later is die speling van die rekke op ’n einde en so word die kroos gelig. Evy was te verstom om ’n geluid te maak. Almal ken tog die reëls, waar kom die wind nou vandaan?

Davy se rek het hom blykbaar eerste laat gaan. Hy’t ’n graanboerdery binnegeval waar hy vir maande ’n verhouding gehad het met ’n vrou sonder grimering. Ná ’n paar voorvalle van gesinsgeweld is hy aangestel as voorman. Hy steel nog steeds.

Heleen het geval in die buiteland. Iemand het haar sien val en ’n rol aangebied in ’n ongure fliek. Sy’t intussen tot inkeer gekom en skryf nou ’n boek.

Klein Barend is net weg. Niemand mis hom nie.