Rubrieke - Nataniël

Treffers

Daar is gewoel en gewikkel en hoewel ’n mens nooit seker is of al die sweet die moeite werd is nie, weet ons ook nie hoe om die tyd te rek nie. Maar dis Kersfees en tussen al die aggressie, onbeskoftheid en swak, swak diens van die afgelope jaar was daar darem ook heelwat treffers. Met dies wat iemand wil bly maak, deel ek graag.

Musiek: Of jy dit wil toedraai of jouself wil lawe, ek het net een voorstel. My album van die jaar en beslis een van die beste plaaslike produksies in jare is The boy inside deur Sean Butler. Hierdie jong sanger het ’n stem soos die wolke en breek jou hart met elke frase. Geen tienerwysies, orige ritmes of lawwe lirieke nie, net skoonheid en genade vir die siel. Koop daai CD nou.

Boeke: Nog steeds die beste geskenk. Hierdie jaar was geen uitsondering nie, daar het arms vol genot op die rak verskyn. Ek maak geen literêre stellings nie, maar ek het twee uitsonderlike ervarings tussen die blaaie gehad. The book of salt deur Monique Truong is anders as enigiets wat ek voorheen gelees het en ’n hele paar vriende gaan dit hierdie Kersfees ontvang. Wat ’n voorreg om bekend gestel te word aan so ’n verbeelding. Dalk nie die geskenk vir jou gunsteling-tannie nie, maar I’m not scared deur Niccolò Ammaniti was ’n hoogtepunt. Hartverskeurend, selfs skokkend, dit sal jou vir ’n lang, lang tyd bybly.

Feeskos: Vir diegene wat wil ontsnap uit al die oordadigheid of ’n eenvoudiger manier soek om ’n werf vol gaste te voer, my voorstel: Panini met bokmelkkaas en geroosterde soetrissie. (Panini is ’n Italiaanse broodjie, ongeveer 10 cm in deursnee.) Meng bokmelkkaas met gekapte basiliekruid, pietersielie en grasuie. Rooster halwe rooi soetrissies (bell peppers), skilkant bo, in die oond. Verwyder swart vel en sny in repies. Besprinkel met suurlemoensap, olyfolie en grof gemaalde swartpeper. Sny panini in helftes, smeer kaasmengsel op en rangskik soetrissie bo-op. Vir variasie, voeg kappertjiesaad of songedroogde tamaties by.

Drankie: Die opwindendste en verfrissendste drankie wat ek hierdie jaar geproe het, is ’n konkoksie van Martha Stewart. Dis by my verjaarsdagete bedien en is beslis op my spyskaart hierdie Kersfees. Suiker en vars tiemie word in water geprut tot ’n stroop. Daarna word dit verkoel en saam met suurlemoensap en vodka oor ys voorgesit. Garneer met vars takkies tiemie.

’n Skoon huis: Vir iemand wat leef in ’n spierwit, minimalistiese wêreld is elke vuilkol ’n ramp. Elke skoonmaakmiddel op aarde is al oor my drumpel. Jare se trauma is uiteindelik beëindig toe ’n vriendin vroeër hierdie jaar by my opdaag met ’n bottel van Sportron se HDL. Dis soos toor, alles is weg! Vergeet van al die ander twak op die mark. Bel ’n agent, koop ’n kis vol en lei jou gemeenskap die toekoms binne.

Geur van die jaar: Ongetwyfeld sitrus. Suurlemoen, lemmetjie, lemoen, nartjie en mandaryn. Gedrink of geëet, gebak of oor vrugte, vars of verwerk, in kombinasie of individueel, in die bad of op die lyf, in olies of kerse, in seep of rome, breek ’n skil en ontdek ’n hele wêreld

Motor: Op Kaalkop hoef jy net te droom of te wens en jy’s waar jy wil wees. Hier op aarde is vervoer heelwat meer veeleisend en probeer ons die daaglikse roetine so genadig as moontlik maak. Die paar wat nie weer sokkies, ’n das of handeroom onder die boom wil los nie, verras jou geliefde met die nuwe Renault Vel Satis. Dis die sexyste, slimste en modernste ding op die pad.

’n Nuwe horison: ’n Jaar gelede het ek ’n foto-album ontvang, iets wat ek nog nooit besit het nie en ’n aktiwiteit waaraan ek my nog nooit gesteur het nie. Dit het vir maande in ’n kas gelê. Op ’n dag het ek ’n paar los kiekies daarin geplak en besef dat ek diewonderlikste oomblikke gereeld miskyk, want daar is bloot te veel wat gebeur. Nou’s daar geen einde nie, ek dra tot ’n kamera by my. Verskuif iemand se grense en gee iets ongewoons en onverwags, ’n paar potlode en ’n sketsboek, ’n paar kwaste en ’n tas vol olieverf, ’n dagboek of ’n versameling resepte. Dwing iemand uit die leunstoel, hy wag al lank

Ten laaste: Oorleef die seisoen en betree die nuwe jaar vyf jaar jonger. Die geheim? Beheer jou humeur. Slaap genoeg. Bly uit die son. En sit R500 eenkant vir ’n blou potjie. Hulle noem dit Clarins Active Night Cream. Dit werk. Seënwense.