Rubrieke - Nataniël

Vyf Grotes

En kort-kort vra ek myself, met alle eer aan die Skepping, is dit al wat ons het om te wys? ’n Paar dierasies in die bos?

Vanaf Kaalkop sien ’n mens ons hele wêreld en soms ook ’n paar ander. Jy vul jou lewe met die beste wat daar is. So kleur ek my bestaan met Franse geregte, Griekse kaas, Engelse romans, Italiaanse klere, Poolse glas, Duitse motors en Oosterse sy. Ek het nog nooit die sweep help swaai op die wa van plaaslike lekkerkry nie, as ’n ding die reuk van gehalte om hom dra, gee ek hom staanplek, al kom hy van waar.

Maar nooit sal ek swyg oor wat op eie werf die engele aan die glimlag het nie. Vir elke inheemse wonderwerk wat nog ooit my hart kom streel het, het ek ’n trompet gelig. En vandag weer.

Daar is min vreugdes op aarde soos die soepel stem uit ’n vrouekeel. Geen mansmens, voëlsoort, plaasdier of ateljee-truuk kan voortbring wat ’n geseënde vrouestem kan nie. Sangeresse – vet, maer, swart, wit, sexy, dramaties, wild of beheersd – regeer al vir dekades hierdie aarde. Hulle verskaf genot, inspirasie, trane, nuwe neigings en berge geld. Hier in ons land loop ’n paar rond met wêreldklas-talent, goddelike stemme en unieke vermoëns, wat beslis raakgesien en raakgehoor moet word. (Ook is daar ’n paar wat met ’n plank tot stilte gewiks behoort te word.)

Daar is beslis heelwat meer, maar dié is net een bladsy en hier is my voorstel vir ’n nuwe Groot 5:

Wess-Lee is ’n sangeres wat jou eenvoudig verbyster. Sy is die eienares van verskeie oktawe, feitlik onbeperkte tegniese vermoëns en ’n asemrowende lyf. Sy is ’n groot stem, ’n heerlike komediant en ’n warm siel. (En een van die weinige plaaslikes wat weet wat beteken image.) Die CD se naam is Merry-go-round, koop hom nou.

Nianell was, tot my skande, tot heel onlangs vir my ’n vreemdeling. ’n Vriend het kom kuier uit Duitsland en haar CD in my masjien gedruk. Ek kon nie glo hierdie eksotiese en elegante klanke is op eie bodem voortgebring nie. Dié vrou was voorheen ’n meermin of ’n beeldskone slavin uit ’n ou koninkryk, sy neem jou op reise, breek jou hart en sit jou weer aanmekaar. Haar CD, Who Painted the Moon?, is gewaarborg om die vuur in jou lendelam lewensmaat weer te laat vlamvat. Skaf aan.

Tonia Selley is een van daardie mense wat ’n vertrek herversier deur dit bloot binne te stap. Voorheen hoofsangeres van The Pressure Cookies, nou solo-kunstenaar, is sy eenvoudig ’n ontploffing van energie, sensualiteit, verbode ritmes en fantasie. Nie net loop sy rond met ’n hemelse, wolkerige stem wat orals tuis is nie, van jazz tot blues tot pop, maar is ook ’n gesogte perkussie-speler. Ek het onlangs saam met haar opgetree en moes hard werk om ook ’n bietjie aandag van die gehoor te kry.

Heidi Bouwer is sangeres, aktrise en violis en het onlangs die land getref met haar vertoning en CD, HEAD OVER HEELS met rooi hakskene. Heidi is ’n kunstenaar wat haar solo-loopbaan betree met deeglike opleiding en jare se ondervinding in die teater. Sy beskik oor alles wat nodig is om ’n kultusfiguur te word: talent, ondernemingsgees, ’n heerlike volwasse, donker stem, geen inhibisies en ’n gesonde dosis waansin. Onthou die naam.

Lydia vom Hagen. Gaan ek ooit genoeg kry? Ná tientalle vertonings saam, ook duette, televisieverskynings en opnames, kan ek nie my verslawing aan dié stem onder beheer kry nie. Iewers tussen gesmelte sjokolade en ’n onstuimige oseaan lê hierdie vrou se verbysterende talent. Lydia doen ateljeewerk, sing jazz en pop en tree op in kabarette en musicals. Gaan soek haar.

Ten einde: Dit is nie ’n noodkreet vir plaaslike musiek nie, allermins. Dis ’n guns aan die luisteraar.