union_
Lewe + Liefdes

Rugby en nog meer rugby!

En natuurlik eet, drink en slaap baie mense rugby. Moet ook nie vergeet van lees nie! In die gees van dié tyd waarin die Springbokke ons almal se ondersteuning nodig het, glo ek as ek ’n boek met ’n rugby-onderwerp lees, dra dit by tot my ondersteuning vir die Bokke! Al is die Bokke se spelpeil nie altyd wat ek wil hê dit moet wees nie. Geredeneer soos net ’n vrou kan, maar in my kop maak dit sin.

Hierdie week is my keuse ’n klompie rugby-boeke. As jy nie self belangstel nie, is ek seker manlief, jou vriende of selfs die kinders of iemand anders in jou lewe sal. Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

Union – The Heart of Rugby, Paul Thomas met Martin Johnson, John Kirwan, Joel Stransky, Mick Farr-Jones en Philippe Sella (Wild Dog Press, R275)

Wat ’n fantastiese boek! Die foto’s is iets besonders en dit alleen maak die boek uitsonderlik. Maar as jy eers begin lees, kan jy nie anders nie as om te besef rugby is ’n uitsonderlike sport en die spelers ook. Die woorde in groot swart letters, Pride, Team, Honour, Courage, Passion, Heroes, Pain, Glory, begroet jou op die eerste bladsy. En dit is presies dié spel in ’n neutedop. Paul Thomas het met 5 oudspelers onderhoude gevoer waarin hulle oor hierdie eienskappe van rugby gesels. Die spelers is:

Voormalige Australiese kaptein Nick Farr-Jones, wat sy span gelei het toe hulle die Wêreldbeker in 1991 gewen het.

Voormalige kaptein Martin Johnson van die Engelse span wat in 2003 die Wêreldbeker-wenners was.

Voormalige Springbok-losskakel Joel Stransky, wat die wenskop deur die pale geklits het met SA se oorwinning in 1995.

Voormalige vleuel John Kirwan, wat Nieu Seeland se wendrie in 1987 aangeteken het.

Die legendariese Philippe Sella wat in drie Wêreldbeker-toernooie vir die Franse Hane uitgedraf het.

Ek wil afsluit met twee aanhalings uit die boek: “Sport is a universal language, and triumph is always triumph, and disaster is always disater.” – Simon Barnes.

“When played by the best exponents of the game on earth, rugby union satisfies the soul like nothing else.” – Greg Growden. Daarop sê ek: Sela!

Agter die Doellyn

Agter die Doellyn (Christelike Uitgewersmaatskappy, R139,95)

Die boek gee kortliks ’n kykie na die hoogtepunte in SA se rugbygeskiedenis en bring hulde aan die pioniers van die sport. Maar dit bestaan grootliks uit die Christelike getuienisse van rugbyspelers en –afrigters wat in die spel betrokke is of was. Speler 23 verteenwoordig almal in Suid-Afrika wat ons rugbyspelers ondersteun. Johan Smith, geestelike skrywer en mentor vir talle rugbyspelers, skryf in hierdie boek ‘n spesiale boodskap aan Speler 23, naamlik om te onthou dat spelers mense is en dat hulle nie onaantasbaar is nie. En vir die spelers sê hy hulle moet onthou dat hulle in die openbare oog is weens hulle sport, en daarom moet hulle bewus wees daarvan dat mense hulle dophou en vereer. Hulle doen en late laat ‘n merk op ander mense. Van die persoonlike getuienis in hierdie boek kom van Chiliboy Ralepelle, Kobus Wiese, Bakkies Botha, Zane Kirchner, Juan Smith en André Vos, Beast (Tendai) Mtawarira en nog baie ander. Dis ‘n inspirerende boek en behoort wyd aanklank te vind.

Meer as Rugby

Meer as rugby, Pierre Spies met Myan Subrayan (Penguin, R215)

Pierre vertel sy lewensverhaal, omdat hy sy lewensreis tot nou toe wil deel om mense te bemoedig. Sy lewensreis was nie altyd so gelukkig en suksesvol nie. Soos hy self vertel, moes hy teleurstellings en terugslae verduur en hy is bereid om eerlik en openlik hieroor te skryf. Sy afvalligheid van sy geloof, sy terugkeer tot die kerk en ‘n standvastige Christenskap, sy teleurstellings op die sportveld, sy beserings wat sy rugbyloopbaan in die wiele kon ry, sy ouers se egskeiding – hoe al hierdie dinge hom help vorm het en gehelp het om hom sy lewenslesse te leer. Hy voel al is hy nou maar eers 26, het hy ‘n verhaal om te vertel en sy wens is dat sy verhaal mense sal inspireer en help om in hul eie talente te glo en te besef dat die beste dae vir hulle nog voorlê. Pierre leef sy lewe in die oortuiging van sy Christenskap en probeer om ‘n voorbeeld op én af van die veld te wees. Die boek is ‘n toonbeeld daarvan, soos baie van sy spanmaats dan ook daaroor getuig. Die skrywer, Myan Subrayan, sê oor die boek: “Meer as rugby is ‘n bron van ongelooflike hoop en aanmoediging, wat ek glo almal sal inspireer wat dit lees. Dit is ‘n aansporing om altyd lemonade te maak as die wêreld ons met suurlemoene bestook – moet nooit bitter word nie, maar word beter deur te kies om nooit op te gee nie.”

Speel Rugby

Speel Rugby, Andy Colquhoun (Pearson Education, R119,95)

Die boek is eintlik gemik op kinders wat wil leer oor rugby (maar as jy meer wil leer oor rugby om te kan saampraat oor spelposisies, die reëls en so, kan jy maar gerus die boek lees). Dis eenvoudig uiteengesit en Bokkie (die Springbok-gelukbringer) verduidelik alles oor rugby van die begin af – die veld, spelposisies, die reëls, hoe om punte aan te teken, hoe om die bal te vang, hoe om die bal te skop, vaste fasette en hoe om jou opponent te duik. Verder is daar die geskiedenis van balsporte, rugby in die provinsies, skolerugby en internasionale rugby. Daar word ook gekyk na topspelers soos Victor Matfield, Bryan Habana, Os du Randt en Schalk Burger en nog ander. Alles is ryklik verduidelik met foto’s en diagramme. Agterin die boek is ‘n vasvra deur Bokkie sodat jy jou nuwe kennis oor rugby kan toets. Die bonus is die DVD wat verduidelik hoe Bokkie sy ontstaan gekry het. John Smit, die huidige kaptein van die Springbokke, skryf in sy voorwoord die belangrikste boodskap van die boek: “Laat ek vir jou ‘n geheim vertel – die beste van die spel is nie om te wen nie (al is dit sommer baie lekker!), maar om deel te wees van die span, om op die speler langs jou staat te maak en hom te ondersteun, en om die mees fantastiese vriendskappe op daardie vertroue te bou.”

* Ook beskikbaar in Engels as Play Rugby.

Hier Kommie Bokke!

Hier Kommie Bokke!, Die snaaksste Suid-Afrikaanse rugby grapboek ooit (Zebra Press, R150)

As jy een van daai mense is wat graag grappe of snaakse vertellings oor rugby lees, is hierdie boek vir jou. Hierin is kort grappies, lang grappies, snaakse storietjies en eienaardige aanhalings van mense oor alles wat te doene het met rugby. Van die spelers, die ondersteuners, die reëls, skeidsregters, afrigters (‘n hele hoofstuk word afgestaan aan “die man met die snor”), al die spanne hier en in die wêreld tot hoe om ‘n rugbywedstryd te oorleef. Oor die man met die snor word daar gesê: “Peter de Villiers is gedurig in die nuus met sy eienaardige gesegdes en eksentrieke taalgebruik.”  Hier is enkeles uit die boek. Oor Schalk Burger se skorsing tydens die Britse en Ierse Leeusreeks:

‘As ons ons vingers in enige Leeus se oë wil steek, sal ons bosveld toe gaan en dit daar aan hulle doen.’

‘Ek weet dans is ook ‘n kontaksport, maar rugby is nie soos dans nie. As jy saam met die groot honde wil hardloop, moet jy partymaal jou been lig.’

Oor die Bokke se spelplan:

‘Ons is baie georganiseerd op die oomblik; ons wil nie vrugteslaai word nie. . .’

Die boek is perfek vir braavleispraatjies wanneer jy nie veel oor die dag se wedstryd kan praat nie!