Lewe + Liefdes

SA taxi’s is ‘n vulletjie in vergelyking met die in Tunisië

Van die ervarings is baie aangenaam, maar dan is daar ander wat jou dankbaar maak dat jy eerder in Suid-Afrika woon. Sy vertel hoe skrikwekkend dit is om in Tunisië te bestuur. Lees ook in die September-uitgawe van SARIE wat sy oor hul lewe daar vertel.

Die grootste uitdaging is steeds om James by die skool en weer by die huis te kry. Hy gaan heel gewillig skool toe. Die probleem is al die motorbestuurders hier met ‘n death wish! Die mense bestuur soos malles. Padreëls bestaan glad nie hier nie! Mense ry sonder om ‘n oog te knip in die teenoorgestelde rigting in ‘n eenrigtingstraat op en druk vir jou toeter en beduie asof jy die skuldige een is. Ek het geleer om met soortgelyke handgebare terug te beduie.

Ek sukkel omdat ek boonop aan die “verkeerde kant” van die motor moet sit om te bestuur. Dit voel heeltyd of karre aan my linkerkant te naby is. As ek skielik van rat wil verwissel, maak ek amper die deur oop. Ek kan nie afstand aan al die kante van die kar skat nie en ry dus te naby aan die regterkant en te ver aan die linkerkant van alles.

Die wit verf op die paaie is ook slegs vir dekoratiewe doeleindes daar. Niemand steur hulle aan soliede strepe of selfs bane nie. Waar die pad ontwerp is vir een baan, kry jy twee bane karre. Waar twee bane geverf is, is sommer vier strome karre langs mekaar. Die eerste keer dat ek in hierdie 4-baan-in-2-baan-spasie vasgekeer was, het ek begin huil. Ek is nie skaam om dit te erken nie.

Taxi-bestuurders by die huis bestuur woes, maar hulle onwettige aksies is ten minste voorspelbaar. Hier’s dit skokkend onvoorspelbaar. Die reël is hou regs en gaan links verby. Ek ry rustig in die middelbaan, dan sal die ou links skielik besef, “o, genade, ek moet regs afdraai!” Hy swaai sommer voor jou in en swaai oor regterbaan toe om af te draai. Soms swaai hy nie eers VOOR jou in nie, maar LANGS jou en moet jy maar briek om hom in te laat. Geen flikkerlig, geen hand wat swaai, geen voorbereiding! ‘n Mens se been is bewerig van die spiere wat heeltyd werk om petrol te trap en konstant gereed te wees om skielik die remme te moet vasskop! Baie motors ry sommer so wydsbeen oor twee bane om hul opsies oop te hou om sonder waarskuwing enige kant toe te skiet. Party stop sommer in die middel van die pad, klim uit om hul besigheid te doen en los die kar in die middel van die straat. En dis nie in stil straatjies nie! Jy moet dan tussen die aankomende verkeer deurvleg om verby hierdie kar te kom. Ek’s nie trots op my luidrugtige woorde nie. Hulle verstaan dit dalk nie, maar ek is seker hulle verstaan die boodskap!

Nog ‘n bron van spanning is die verkeersligte. Daar’s genadiglik nie vreeslik baie nie.  Die verkeersligte verander soos volg: groen, oranje, rooi, oranje, groen. Dus, sodra die oranje lig ná die rooi lig aankom, begin almal vorentoe kruip en toet solank. Die probleem is die kruisverkeer stop nie op hul oranje nie, maar vat gou daai laaste kans. Ek wag soos ‘n goeie, wetsgehoorsame burger vir groen, maar dit veroorsaaak geweldig baie beduie van die mense agter my. Ek ignoreer dit, maar soms probeer iemand my verbysteek, dan skree my kar se “park-assist”-monitors dat ek te naby aan iets is.

Die verkeersligte is ook op onverklaarbare plekke langs die pad. Jy stop reg langs die paal en kan nie die ligte sien nie. Jy moet met jou kop by die venster uithang om die lig te kan sien. Die meeste verkeersligte het ook verskeie fases en jy kan nie net ry wanneer die ander stop nie. My teorie is dat wanneer die getoet ‘n sekere angstigheid bereik, besluit dié wat voor is dat die lig groen moet wees, dan skiet hulle daar weg!

Die moeilikste deel van my rit is die sirkel waarna ek liefdevol verwys as die “sirkel van angs”. Daar’s 5 in- en uitgange. Ek moet hierdeur om by die huis te kom. Die plek waar ek in die sirkel inkom is tegnies ‘n enkelbaan, maar ons ry gewoonlik in twee bane. Aanvanklik het ek iemand ‘n gaping gegee, met die hoop dat ek dan ná daai persoon kan ry. Sodra hulle sien ek gee ‘n gaping, druk vyf karre daar in. Nou knyp ek maar oë toe en trap petrol en vertrou mense gee pad voor! My taktiek is ook om te plak aan die kar voor my. My wiele volg presies waar daai wiele lei. So dit is – ry, stop, asemhaal, bid, ry, skielik stop, vloek, ry, stop dat jou nek ruk, sluk, ry, stop, ry, draai uit, sê dankie!

Gedurende die maand van die fees Eid is daar in byna elke straat ‘n man met ‘n trop skape wat hy verkwansel. Nou moet ek nie net ander karre, motorfietse en voetgangers dophou nie, maar ook uitkyk vir ‘n vlugteling-skaap wat wegbreek! Daar’s selfs ‘n tydelike skaapkraal in die winkelsentrum se parkeerarea. Verbeel jou jy gaan in die middel van ‘n stad na die groot Pick n Pay, betaal binne vir jou dier, stap na buite, kies ‘n lewendige skaap en laai hom in jou kar. Ek het in my geestesoog gesien hoe stoei bebaarde manne die blêrende skape op agtersitplekke in. Sal die skaap dan sy kop by die venster uitsteek soos ‘n hond? Langs die skaap sal die ouma met haar lappe en die swetterjoel kinders ingeprop wees. Een van ons bure het ‘n skaap uit sy kar en in sy tuin ingestoei. Ek het oopmond die spektakel gestaan en dophou.