picture_009
Lewe + Liefdes

SARIE-leser Rina Coetzer vertel van haar lewe in Hefei, China

Waar woon julle en waarom?

Ek en my man, Hans, woon die afgelope 19 maande in Hefei, hoofstad van die Anhui-provinsie. Hans se werkgewer het soos baie ander buitelandse maatskappye ’n fabriek hier begin, in sy geval ’n onderneming wat bande vervaardig. Arbeid is nog goedkoop en die mense werk baie hard. Die fabriek doen uitstekend.

Aanpassing en leefwyse daar?

Hefei is nog baie plattelands en bittermin mense kan Engels praat. Alles is in Chinees, en ás iets in Engels geskryf is, maak dit gewoonlik glad nie sin nie. Op ’n mark hier hang ’n Engelse advertensiebord onderstebo, maar niemand kom dit agter nie! Ons sukkel verskriklik om te kommunikeer en kom gewoonlik nie reg nie.

My rokgrootte (XXXL) is baie skaars en ek kry glad nie skoene wat my pas nie. In SA dra ek ‘n nommer 38-rok en my skoengrootte is ‘n 7.

Ons mag nie hier bestuur nie en het ‘n kar met ‘n bestuurder. As ons inkopies gaan doen of uitgaan, moet hy maar wag totdat ons klaar is. Ek kry die bestuurders jammer, want hulle moet lang ure werk. Die mense bestuur verskriklik roekeloos. Motorfietsies en fietse ry oor rooi verkeersligte en mense stap sommer oor ‘n besige straat, dan moet die karre maar stop. 

Ek het in ‘n park van trappe afgeval en 2 vingers gebreek. Ons drywer het my hospitaal toe geneem. My vingers was so geswel dat my trouring afgeknip moes word. In dié moderne hospitaal was daar nêrens ‘n tang nie en moes die brandweer ingeroep word. Hulle het my ring met ‘n yslike tang afgeknip. Dit was vir die joernaliste so nuuswaardig dat ek die volgende oggend in die koerant was!

Die kos?

Sekere kosse is nogal lekker en spotgoedkoop, soos gebraaide rys met groente, eier en sous (gewoonlik rooi rissie). Die “bau zi” (‘n kluitjie met vark in) is ook lekker. Die waterige noedels, sop en seewier is nie vir my smaaklik nie. Baie restaurante sit soms hond, donkie en skilpad voor. Die Chinese restaurante is spotgoedkoop en vir R40 kan jy ‘n koningsmaal geniet. Hulle is teeliefhebbers; plekke wat koffie verkoop is skaars en duur.

Die vroue gaan elke dag mark toe, koop die kos vars en maak dit vir ete. Hulle hou nie van oorskietkos nie en probeer alles so vars moontlik eet. Dis hoekom daar lewende diere in bakke in die supermarkte is.

Hoe ontspan julle?

Gelukkig bly ons in ‘n kompleks met lieflike wandelpaaie en ‘n tennisbaan. Hier naby is ook ‘n berg wat ons kan uitklim. Daar is baie mooi parke waar ons kan gaan stap.

Ons kan net een Engelse TV-kanaal opvang (CCTV News) en so nou en dan wys een van die ander kanale ‘n Engelse fliek. Verder kyk ons maar sport en na die fantastiese musiekkanale op televisie. Die dansers op die verhoog is uitstekend  en kleurvol en dit vermaak ons, al is dit Chinees!

Reis julle baie?

Ons was al by die meeste bekende plekke. Die Groot Muur en die Keiser se paleis met al die prag en praal in Beijing het my asem weggeslaan. Die Terracotta-soldate in Xi’an en die hoë berg, Hua Shan, daar naby was ook ‘n belewenis.

Hoe ervaar jy die mense?

Die Chinese meisie vir wie ek Engels leer, neem my oral  en dra heeltyd geskenke aan. Sy help my baie en niks is te veel moeite nie. Die mense is vrygewig, al kry hulle min geld. Ek ervaar die mense as effens teruggetrokke en baie nederig. Die vroue trek pragtig en modern aan, al het hulle nie veel klere nie. Die jong meisies is ook baie lief vir kort rokkies en hoëhakskoene.

Lekkerste en interessantste van daar wees?

Ek verkyk my aan die strate waar die gedroogde vleis en wasgoed oral hang en niemand steel dit nie. Jy kan oral op straat varsgemaakte kos koop. Partykeer maak hulle rys en rissies op die teerpad droog en die karre moet maar daarom verbyry. Hulle is mal oor vuurwerke, veral met die Chinese Nuwejaar. Die hele stad is in ‘n rookwolk gehul en almal skiet vuurwerke! As hulle iets wil vier, klap die klappers ook.

Ek was nog nooit bang hier nie en voel veilig. Saans lewe die stad en loop die mense oral rond en kuier en eet omdat die winkels laat toemaak. Oral staan fietse en bromponies geparkeer en ‘n hele gesin mét hul inkopies sal op een bromponie ry.

Wat mis jy?

Die see, ‘n  groot stuk vleis en minder mense. Daar is hopeloos te veel mense in China.

Sal julle terugkom?

Ons gaan nie ons kontrak klaarmaak nie en kom beslis vroeër terug. Genoeg is genoeg!

  • Tjaart Herbst

    Ai, ek het jou artikel sommer baie geniet en kan myself in ‘n soortgelyke situasie plaas aangesien dit nie veel verskil van waar ek hier in Thailand is nie. Self het ek probleme om vir my klere te kan koop wat pas aangesien die Oosterse mense klein is en ons Boere ‘reusagtig’ is. Hulle lag altyd as ek vra vir ‘n ‘XXXL’ grootte hemp terwyl dit eintlik maar net ‘n ‘M’ (medium in SA) is.
    Die kos? Ja wel, ek vra liefs nie meer wat ek eet nie want anders sal ek nooit geeet kry nie en net op RYS lewe – wat ek OOK nie meer in die oog kan kyk nie!

    Sou wat wou gee vir ‘n lekker bord BOEREKOS !

  • saki

    ek stem! hier in taiwan MOES ek leer rys eet, wat ek nooit voorheen in SA geeet het nie!
    maar die veiligheid hier weeg vir my baie swaar! ek los gereeld my inkopies op die skoeter buite die winkel en draf by nog ‘n winkel in! ons koop maar klere in SA as ons eenkeer ‘n jaar daar kom!

  • Casper van der Walt

    Hi Rina!

    Ek woon ook hier in Hefei (is al 5 jaar in China)! Het nog nooit ‘n ander Suid-Afrikaner hier in Hefei ontmoet nie. Jy kan gerus vir my ‘n e-pos stuur as jy wil en nog steeds in China is: caspervanderwalt@yahoo.com

    Lekker dag vir jou!

    Casper

  • Gerda Pretorius

    Hallo Rina! Ons woon in Baotou (Inner Mongolia) – my man, Fanie al langer as ‘n jaar,maar ek het eers onlangs ook China toe gekom. Die mense hier is baie vriendelik en alhoewel ons dikwels aangestaar word, voel ons darem nie te ontuis nie. Ek verstom my nog aan al die vreemde goed in die supermark, maar geniet die vars groente wat so goedkoop is. En sal loshande die prys wen vir die stiekieste rys wat al ooit in ‘n "rice cooker" gaargemaak is.

    Wanneer gaan julle terug Suid-Afrika toe? Ek sal ook graag met jou per e-pos wil kommunikeer. My adres is gerda@ewi2.com.