Lewe + Liefdes

SARIE-leser Tjaart Herbst vertel van sy besoek aan Laos

Van Bangkok het ek tot in die noordooste van Thailand gevlieg en van daar met ‘n bus oor die grens gery. Dit het my omtrent ‘n derde van die prys gekos wat ek sou betaal het as ek direk na Vientiane, die hoofstad van Laos, sou vlieg. As onderwyser moet ek maar my pennies omdraai waar ek kan.

Voor my vertrek het ek die padkaart van Vientiane goed bestudeer sodat ek nie sou verdwaal nie. Dis nie ‘n baie groot stad nie en my plan was om dit te voet aan te durf. Toe die bus tot stilstand kom, het ek verby die toek-toek-drywers geglip wat buite staan en skree: Tuk-tuk?, City tour?, Thai visa? Ek het gemaak asof ek die plek ken en ‘n rigting ingeslaan wat vir my reg gelyk het. Ná ‘n ruk moes ek tog aanwysings vra na die Thailandse ambassade, waar ek die aansoek vir my werkpermit moes indien. 

Op pad soontoe het ek by verskeie interessante plekke gestop om foto’s te neem. Later, met my oog op die horlosie, moes ek hardloop om betyds te wees voor die ambassade sluit. Net om te hoor ek moet my dokumente by die konsulaat indien, wat ‘n paar kilometers daarvandaan was! Al het dit op die kaart nie ver gelyk nie, het ek gou besef ek het baie ver geloop. Vyftien minute voor sluitingstyd het ek al hygende daar aangekom en al my dokumente ingedien. My humeur het my in die steek gelaat toe die vrou nie my dokumente wou aanvaar nie. Volgens haar was dit afskrifte. Al wat deur my gedagtes gemaal het, is die lang tog terug Thailand toe en die ekstra koste om ander dokumente te bekom. Maar gelukkig met ‘n harde stem en ‘n bietjie oorreding is my aansoek uiteindelik aanvaar.

Laos het ‘n interessante geskiedenis. Gedurende 1893 het ‘n Franse oorlogskip in die Menam-rivier opgevaar tot in Bangkok. Onder dwang het Siam (die huidige Thailand) ingestem om alle grondgebied oos van die Mekong-rivier aan Frankryk te oorhandig en so het Laos ‘n Franse kolonie geword. Vandag hoor jy steeds Frans en is daar heelparty koloniale geboue, asook Franse straatname. In 1900 is Viang Chan vir ‘n tweede keer as die administratiewe hoofstad van Laos verklaar. Die uitspraak het gemaak dat die Franse die naam as Vientiane geskryf het en dis later ook so deur die regering aanvaar. 

Patuxai museum Gedurende die 1960’s het Amerika heelwat geld aan die land gegee om onder meer ‘n lughawe te bou. Dis egter gebruik om die Patuxai te bou. Vandag word dit as Vientiane se mees prominente monument beskou. Dis op die konsep van die Arc de Triomphe in Parys gebaseer. Dis egter net die naam wat ooreenstemming toon, aangesien Patuxai vier boogingange het. Sy Franse eweknie het net twee. Die naam ‘Patu’ stem ooreen met ‘Arc’ (pátųu), wat vertaal kan word as ‘boog’, ‘deur’ of ‘hek’.  ‘Xai’ stem ooreen met die Sanskrit-woord ‘oorwinning’ (triomphe). Daar word soms verwys na die monument as die ‘vertikale aanloopbaan’, omdat dit aan die punt van ‘n lang, reguit pad is, en omdat die geld wat vir die bou van die lughawe moes gaan, vir dié doel gebruik is.

Aan die kant van die monument is die ‘World Peace Gong’, wat deur Indonesië aan Laos geskenk is. Laos was die vierde land ná China, Indië en Mosambiek om dit te ontvang.

Die Pha Thatluang-monument is ‘n simbool van die boeddhiste-geloof én die Lao-soewereiniteit. Dis ‘n merkwaardige monument met sy twee tempels genaamd ‘Wat Thatluang Neua’ en ‘Wat Thatluang Tai’, wat albei ná 1566 gebou is. In 1828 het Siamese magte Vientiane ingeval en het die tempels verval nadat dit deur skatsoekers geplunder is.  Eers in die jaar 1900 is dit deur die Franse gerestoureer. Dis ook hier by die Thatluang-tempel waar verskeie boeddha-beelde te sien is, waaronder een in ‘n slapende posisie.

Die Kulturele Saal Ek het van een kant van die stad na die ander geloop. Dis ‘n merkwaardige stad met baie geboue in die Franse boustyl en met tye het dit gevoel asof ek in Parys loop met al die Franse straatname. Onweerswolke wat reën en wind gebring het, het my gedwing om skuiling te soek in die Nasionale Kultuursaal van Laos. Die meeste mense hou nie van hierdie ‘lelike, groot gebou’ nie, alhoewel ek dit indrukwekkend gevind het. Dis deur die Chinese regering gebou en as geskenk aan die ‘Mense van Laos’ oorhandig. Hier word kulturele aanbiedings gehou soos klassieke Lao-danse en skoonheidskompetisies, en Franse films word selfs hier vertoon.
Die Nasionale Kultuursaal  

Afgesien van die armoede en al die telefoon- en kragdrade wat kenmerkend is van die meeste Oosterse lande, het hierdie stad ‘n anderse skoonheid. Klereboetieks (nie waaraan ons gewoond is nie) is oral op straat te sien, asook koffiekroeë en ander opwindende winkeltjies.  Motorfietse en mense op fietse wat hul ware op die mark gaan verkoop, is die paaie vol. Ander dra weer hul ware aan die punte van ‘n stok en gaan iewers op straat sit om dit te verkoop.  Dis ‘n paradys vir toeriste wat op soek is na oudhede en ander antieke ware, omdat dit ongelooflik goedkoop is (in ons geldterme).

Na hierdie land met sy mense en dinge, asook Vientiane waar Frans op straat gehoor word, sal ek graag wil teruggaan. Dit laat my wonder of dit nie dalk die ‘Parys van die Ooste’ genoem kan word nie!

  • Ella Joao

    Pragtige storie!

  • saki marais

    hi tjaart
    was jy net in vientiane? ai, jy moet phonsavan sien – dis ‘n moet! en natuurlik luang prabang – wat ‘n droom. die mense in daai land het my verstom, en van oral waar ek al in asia was, staan laos bo-aan die lys!!
    happy travels. waar gaan jy volgende heen??