Lewe + Liefdes

Sjimpansee Bella is die De Jagers se kind in Nigerië

Hul dogter, Duschinka, het nooit by hulle in Nigerië gewoon nie, want sy was reeds klaar met skool en werk nou in Gordonsbaai. Hul seun, CP,  het sy laaste twee skooljare tuisonderrig gedoen in Nigerië en woon nou saam met Duschinka terwyl hy studeer. Maar wanneer die kinders gaan kuier, maak hulle omtrent ‘n ophef van sussie Bella!

Waar woon julle?
Op Kaboji, ‘n plaas in die noordweste van Nigerië in Niger State. Die naaste dorpie is Kontagora. Dis ongeveer 350 km van Abuja af, waar ons elke maand kruideniersware koop.

Wat doen julle daar?
Ons het in Bethlehem in die Vrystaat geboer. Familie wat in Nigerië gewerk het, het ons ‘n geleentheid aangebied om hier te kom boer. Ons het ons grond verhuur en hiernatoe gekom. Dit was nie maanskyn en rose soos die prentjie wat vir ons geskilder was nie en ons was vir maande sonder krag en lopende water. Net voor ons sak en pak wou teruggaan “huis toe”, is Kobus ‘n pos op Kaboji aangebied. Hy boer vir ‘n maatskappy, Flour Mills of Nigeria, en verbou mielies, soja en kassawe.

Hoe het dit gekom dat julle ‘n sjimpansee in die huis het?
Sedert die tweede week wat ons hier is, het ons al apies. Die eerste een, Bobbie, het ons by ons hekwag gekoop. Daarna is alle beseerde diere, van apies tot krokodille, na ons toe gebring. Ons het Bella gered nadat haar ma geskiet en geslag is. Bella was aan ‘n boom vasgemaak en is met stokke geslaan sodat sy huil en skree. Die ander volwasse sjimpansees het haar probeer help en agt sjimpansees is toe doodgemaak. Bella was sowat 3 maande oud. Sy word vanjaar 3 jaar.

Sy bad, eet en slaap saam met ons. Sy is soos ons eie kind en is ongelooflik slim. Sy vat kanse nes ‘n kind, maak die yskas oop en “steel” kondensmelk. Sy eet alles saam met ons, maar het definitief haar voorkeure en is mal oor roereiers. Deesdae is jellie haar gunsteling. Sy geniet natuurlik die stort en wil ook tande borsel. Sy speel heeldag vrylik buite in die bome, terwyl ek naaldwerk doen of dalk bestellings doen op die rekenaar. Die tuinwerkers hou ‘n ogie, speel bal en hardloop saam met haar rond. Saans gaan slaap sy so teen 7-uur. Sy het haar eie bedjie, maar mamma se arm slaap baie lekkerder! Bella het haar eie Facebook-blad en het tonne mammas wat raad gee as sy siekerig is. Almal geniet haar grootword saam met ons. Dis ‘n ongelooflike voorreg om so dingetjie in ons lewe te hê.

Wat is die moelikste deel daarvan om haar groot te maak?
Dis ‘n voltydse werk. Daar’s nie oumas of oupas wat kleinding bietjie kan vat sodat ons kan rus nie. Sy het vir baie lank saamgegaan Abuja toe as ons kruideniersware gaan koop. Dan slaap sy in haar kampbedjie in die Sheraton by ons. Die mense het ons mal gemaak, want almal wil foto’s neem. Ons moes heeltyd keer, want sy is steeds ‘n wilde dier wat byt as sy verbouereerd raak. Nou bly sy by ons werktuigkundige as ons iewers heen gaan. Hy’s ook van SA. Die moeilikste is om haar tuis te los as ons SA toe gaan vir vakansie. As ons terugkom, hardloop ons in die huis in en gaan sit op ‘n stoel, want sy spring en skree en soen en klouter verskriklik. Ons mis mekaar ongelooflik as ons weg van mekaar is.

Wat gaan later met haar gebeur, gaan sy teruggeplaas word in die natuur?
Ons sal haar nooit self in die natuur kan terugplaas nie. Sy sal eers gerehabiliteer moet word by ’n plek soos Chimp Eden. Ek sal haar nooit hier los nie, want ons sal nie oorleef sonder mekaar nie. En hoe los jy jou kind sommer net so? Sy sal saamgaan SA toe, want ons het ‘n huis in Gordonsbaai en daar naby is ‘n Monkey Town. Ek sal nader aan die tyd met hulle praat oor of Bella soontoe kan gaan.

Was dit moeilik om aan die land gewoond te raak?
Dis moeilik om so ver van winkels af te wees. Ons moet vir minstens 2 maande kruideniersware aankoop. Ek bak brood, plant groente en slag self. Ons is regte egte boere soos in die ou dae! Shoprite het so 6 maande gelede in Abuja oopgemaak. Ek is in die sewende hemel, want nou kan ons SA produkte kry.

Dis ongelooflik stil en natuurlik eensaam hier waar ons is. Dis ver van ander mense af. Maar ons word op die hande gedra deur die land se mense. Hulle is ongelooflik behulpsaam en vriendelik.

Die klimaat is subtropies. Ons het ‘n reënseisoen van Mei tot September en ‘n droë seisoen van Oktober tot April. Gedurende reënseisoen bly dit warm en dit reën byna elke dag. Tydens die droë seisoen val daar vir maande nie ’n enkele druppeltjie reën nie. Dan het ons die harmattan – dit lyk soos mis, maar dis stof. Die wind waai nie, maar die stof kruip oral in en alles is vir maande vol stof. Totdat die sout skielik weer in die potjie vassit as dit begin reën.

Hier is 150 verskillende tale, met die algemene een gelukkig Engels. Maar Nigeriese Engels, waaraan jy gewoond moet raak. Ek het aan die begin gespook om dit te verstaan.

Met die boerdery was die aanpassing groot. Hier is geen koöperasie, ysterware- of onderdele-handelaars nie. ALLES moet bestel en ingevoer word, hetsy van Amerika of van Europa. Ons trekkers, stropers en implemente word van daar af ingevoer. 

Die ergste vir ons is malaria. Ons het dit nie geken nie en nie eens geweet wat die simptome is nie. Ek het malaria gekry op die plaas waar ons nie krag en water gehad het nie en nie geweet dís wat ek het nie. Dit het omgesit in serebrale malaria. Die hospitale en dokters is baie behulpsaam en simpatiek, maar het ongelukkig nie die geriewe om regtig na die behoeftes om te sien nie. Tussen ons gesinslede het ons seker al 30 keer malaria gehad, maar ons weet darem nou wat ons moet drink en doen.

Kom julle terug na SA?
O ja, ons is baie lief vir ons land en ons mense. Ons mis vriende en familie en is altyd bekommerd oor almal se welstand.  Vir eers moet ons nog ‘n paar jaar hier uithou voordat ons kan gaan aftree by die huis. Saam met Bellatjie.

  • Nardus Nel

    Pragtige verhaal!

  • Rensche

    Lizelle, my vriendin, jy is die beste mamma ooit.

  • Duschinka de Jager

    Dit is my baba sussie daai! Ag mis haar sommer baie!!!!

  • Christina Stienie Breed

    Ek volg Bella op haar fb blad al vir lankaal en sy is in ons almal se harte!!!!
    Haar Mens familie verdien n medalje omdat sy gered is en nou n heerlike , vrye plaaslewe kan geniet!!
    EK IS SOOOO LIEF VIR HAAR!! ?

  • Mattie Joubert

    Bella hier is nog ‘n soentjie vir jou! xxx

  • LINDA MULLER

    Die De Jagers se harte en huis was nog altyd oop vir ieder en elk, Bella is ‘n Geseende Chimpkind!

  • Tjaart Herbst

    Ai, heerlik om so storie te kan lees!