wat_laat_liefde_werk
Lewe + Liefdes

Top 5: Hoe gemaak met die liefde?

As dit nie werk nie, is dit hartseer en pyn. Nou hoe gemaak om seker te maak jou liefde verryk jou lewe? Veral as jy nou al deur ‘n paar mislukte verhoudings is. Dié week het ek vier boeke gekies wat fokus op selfhelp-aspekte. Dit strek van hoe jy ‘n lewensmaat soek, hoe jy weer ‘n verhouding kan begin na ‘n mislukte een, en wat jy kan doen om kommunikasie in verhoudings te verbeter. Dis praktiese gidse wat vol voorbeelde van situasies is. Die laaste boek het ek suiwer gekies om die liefde te vier. Wat is dan nou mooier as ‘n liefdesgedig in Afrikaans!

Onthou om ons elektroniese winkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.  

Wat laat liefde werk?, Louis Naudé (Lux Verbi.BM, R99,95)

Die skrywer is ‘n berader wat eerstehands voorbeelde kon bymekaar maak oor liefde wat werk en liefde wat nie werk nie. Aan die hand van egpare vir wie die liefde nie gewerk het nie, kon hy skryf hoe liefde wel kan werk. Die eerste les wat hy deel, is dat verliefdheid nie liefde is nie. Hy verduidelik die verskil tussen die twee en gee aan die einde van die stukkie ‘n paar wenke hoe om verliefdheid weer terug te sit in jou verhouding. So bespreek hy verskillende wanopvattings en gebruik die tweede gedeelte van die boek om ware liefde uiteen te sit. Dis in gemaklike verteltrant geskryf, sonder om prekerig of soetsappig oor te kom. Hy gebruik heelwat gevallestudies om sy punte te illustreer. Enigeen wat weer meer wil weet oor die boustene van liefde kan gerus die boek lees. Dis ‘n nuttige doen-dit-self-hulpbron.

Dating the second time around   

Dating the second time around, saamgestel deur Dr Gian Gonzaga (Hamlyn, R93,95)

Hierdie boek is geskryf deur verskillende kenners wat oor verhoudings skryf vir e-Harmony,  ‘n webwerf wat fokus op verhoudings. Deur die jare het die webwerf toegang gehad tot derduisende paartjies van regoor die wêreld om uit te vind waarna hulle soek in ‘n lewensmaat. Die boek word ondersteun deur navorsing wat die kenners oor jare gedoen het. Die eerste hoofstukke  fokus op wat het fout gegaan in vorige verhoudings, hoe kan jy ‘n pasmaat vind, wat wil jy hê in ‘n lewensmaat. Die tweede deel van die boek help jou met die beginfase van ‘n nuwe verhouding, die eerste afspraak, die eerste paar weke van ‘n nuwe verhouding en hoe laat jy die verhouding werk. Die finale deel fokus op die toekoms wanneer jou verhouding gevestig is en watter uitdagings voor jou deur gaan kom lê, hoe jy jou voorberei vir commitment en hoe jy die verhouding vars kan hou. ‘n Nuttige boek vir verwysing waarin jy baie oor verhoudings en afsprake sal leer.

 Choose the right partner  

Choose the right partner, John Pistorius (Elizabeth McCallum, R175)

Hierdie boek is ‘n ernstige selfhelpgids en behoort met aandag deurgewerk te word. Dis nie iets wat jy sit en lees vir ontspanning nie. Pistorius sê sy boek is vir mense wat nog in die mark is vir verhoudings en is nie gemik op mense wat reeds in ‘n ernstige verhouding of huwelik is nie. Of jy jouself vir die eerste keer in ‘n verhouding begewe en of dit jou tweede, derde, vierde of selfs vyfde verhouding is, jy behoort meer voorbereid te wees nadat jy die gids deurgewerk het. Die skrywer neem jou deur verskillende stappe van wat die eienskappe van ‘n gesonde verhouding is. Verder is daar vraelyste wat jy moet invul en oefeninge wat jy moet doen om jouself te bemagtig vir die kies van ‘n lewensmaat. Let wel, hierdie boek is vir mense wat graag selfhelpgidse deurwerk.

 Straight Talk  

Straight Talk – How to manage conversations that scare you, Maureen Collins (Zebra Press, R150)

Om openlik te kan praat in ‘n gesprek met jou baas, ‘n werknemer, jou lewensmaat, ‘n vriendin of familielid is soms een van die moeilikste dinge om te vermag. Dit neem moed om te praat oor ‘n onderwerp wat jy eintlik eerder wil vermy. Sodoende los jy maar en jy krop op tot jy eendag ontplof en die verhouding heeltemal verwoes. In die liefde is eerlike kommunikasie baie belangrik en daarom is die gids ‘n belangrike toevoeging tot jou boekrak. Hierdie boek neem jou deur 28 gesprekke aan die hand van praktiese voorbeelde wat die verskillende omstandighede uitbeeld. By elke scenario word ook wenke gegee van wat jy moet doen om die gesprek aan te pak, hoe jy die gesprek moet lei en hoe jy jou eie vaardighede kan verbeter. Die skrywer beklemtoon dat oefening die beste manier is en dat jou suksesvolle gesprekvoering van jouself gaan afhang. Wat ‘n uitgemaakte saak is, is dat jou stresvlakke behoort te verbeter namate jy hierdie moeilike gesprekke met sukses kan aanpak en dit sal ook lei tot verbeterde verhoudings. ‘n Praktiese gids wat eenvoudig uiteengesit is en maklik lees.

 Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte  

Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte, saamgestel deur Fanie Olivier (Human & Rousseau, R195)

Dis die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte en is weer uitgegee “omdat ons nog steeds bly verlief raak, daarin wegsink; weet dat daar niks is wat die aard van ons alledaagse menswees so ingrypend kan verander nie. Ook tot hartbreek toe.” Watter waar woorde is dit nie. Die liefde is die een ding wat mense hoop gee en met vreugde laat uitsien na die toekoms en ‘n gelukkige lewe. En wat is nou mooier as om in poëtiese vorm oor die liefde te lees – of beter nog, as die held in jou lewe vir jou ‘n paar reëls uit ‘n gedig kan voordra! Ek probeer om my gunsteling uit die bundel te kies, maar dis onmoontlik. Hier is ‘n paar: Gilbert Gibson se waar die perkament van vol is, Ilse van Staden se Miskien, Johann de Lange se Groen. So kan ek aangaan en nog gedigte kies. Hierdie boek het ek suiwer selfsugtig uitgesoek. Dis vir hoop, droom en weer en weer geniet. 

  • Louis Naude

    Baie dankie vir die publisiteit en die uitstekende raakvat van die essensie van my boek. Wat laat liefde werk?

  • Louis Naude

    Baie dankie vir die publisiteit en die uitstekende raakvat van die essensie van my boek. Wat laat liefde werk?