briewe_aan_my_kinders
Lewe + Liefdes

Top 5: Hulp, hulp, hulp

Natuurlik moet jy dan ook die geduld hê om deur die boek te werk om die regte inligting te kry wat jou hopelik dan gaan help om jou probleem op te los. Dié week het ek spesiaal boeke gekies wat daarop gemik is om jou te help. Een sal jou help om jou breinpotensiaal beter te ontwikkel. ’n Ander is gemik op paartjies wat miskien bietjie sukkel om te kommunikeer oor probleme sonder dat dit in ’n allamintige argument ontaard. En as jy ’n motorbestuurder is, is daar ’n boek wat jou selfs op die pad kan help. So is daar nog ’n paar ander in hierdie week se keuse. Hoop daar is iets wat jou lewe makliker sal maak.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

Briewe aan my kinders: twiets wat jou laat dink, Jonathan Jansen (Tafelberg en Bookstorm, R120)

“Wees versigtig wat jy aan jou geheue toevertrou: dit kan later in jou lewe by jou kom spook” en “Moet nooit jou ademlose ontsag verloor vir die eenvoudige dinge om jou nie.” Dít is maar twee van die twiets wat in Jansen se bundel verskyn. Jy verloor jouself maklik tussen die blaaie en leer opnuut weer ou lesse wat jou met jou lewe sal help. Jansen het aanvanklik die raad net vir sy eie twee kinders bedoel. Met dit in gedagte het hy ’n jaar lank vir elke dag van die kalenderjaar ’n brief neergepen wat hy deur Facebook en Twitter die wêreld ingestuur het. Hy wou graag hê dat sy meer as 30 000 ander ‘kinders’ ook baat vind by hierdie briewe. Die ‘ander’ kinders is die studente aan die Universiteit van die Vrystaat, waar Jansen die rektor is. Elke brief het ’n les wat van toepassing is op verskillende fasette van die lewe: die liefde, oor skole, oor materialisme, oor die werkplek, oor leierskap, eintlik oor alles. Ek is miskien nie een van Jansen se ‘ander’ kinders nie, maar ek is bly die bundel het die lewenslig aanskou. My gunsteling vir die oomblik is #113: “Die verskil tussen of jy skoolgegaan het en of jy onderwys en opvoeding gekry het, is die aantal boeke wat jy lees.”

I can make you smarter

I can make you smarter, Paul McKenna (Bantam Press, R190)

McKenna het die gids geskryf om mense te help om meer van hul breinpotensiaal te gebruik. Dis gemik daarop om jou boustene te gee wat jou sal help deur jou hele lewe. Sy uitgangspunt is dat jy enigiets kan leer. Jy het die potensiaal; jy moet net leer hoe om dit te ontsluit. Elke hoofstuk bespreek ’n spesifieke onderwerp, bv. die ontwikkeling van beter konsentrasie, hoe om jou leesspoed te verbeter, die geheime van ’n uitstekende geheue. Regdeur die teks gee hy wenke en tegnieke wat jy moet oefen om sukses te behaal. Elke hoofstuk eindig met bondige opsommings oor die kernpunte. Die boek sluit ook 2 hipnose-CD’s in waarmee jy jou brein kan programmeer om ontvanklik te wees vir die strategieë wat jy in die gids aanleer. Dis nie ’n boek wat jy net gaan lees nie, jy moet die praktiese oefeninge doen om die volle nut daaruit te kry.

Die beoefening van vrede in tye van geweld

Die beoefening van vrede in tye van geweld, Pema Chödrön (Naledi, R71,95)

Geweld is deesdae deel van ons lewe, ongeag of dit misdaad is of oorlog in een of ander wêrelddeel. Maak maar ’n koerant oop en daar is ’n storie oor ’n gewelddadige gebeurtenis. Dis hoekom dié klein boekie so waardevol is. Pema Chödrön is ’n non in die Tibettaanse tradisie en sy skryf dan ook uit daardie oogpunt. Tog is die boodskap wat sy oordra ’n universele een en iets waarby elkeen van ons kan baat vind. Dis ’n eenvoudig en maklik leesbare boekie waarin sy verduidelik hoe elkeen van ons die saad van vrede kan saai deur ons eie optrede. Sy verduidelik hoe jy anders moet kyk na aggressie en wat dit beteken om waarlik geduldig te wees. Beslis die moeite werd om te lees en om jou ander insigte te gee oor wat jy kan doen om ’n bewustheid van vrede te help skep.

Zirts uit die Zaps!!

Zirts uit die Zaps!!, Rachel van der Wal (Thusa-Help, R80)

As jy al ’n aanval van padwoede ervaar het, is dié boek net vir jou. Al is dit in ’n ligte trant geskryf, bevat dit waardevolle inligting wat jou kan help om ’n beter padgebruiker te word. Jy sal self jou eie slaggate waarin jy gereeld trap, herken in die 90 scenario’s wat Van der Wal beskryf.

Die doel van die boek is eerstens om jou te help om jou eie houding en optrede as padgebruiker te identifiseer. Daarna gee sy riglyne vir wat jy kan doen om te sorg dat jy die regte houding het. En ek bedoel nou nie daardie houding waar jy die krieketkolf met jou saamry vir ander bestuurders nie!

Padveiligheid is in ons almal se belang, veral in die lig van die hoë padsterftesyfer in SA. Die eerste stap na beter padgebruik begin by jou as verantwoordelike bestuurder en met die lees van dié nuttige boek. Bestel by info@thusa-help.co.za

Imagining Web 3.0

Imagining Web 3.0, Lee-Roy Chetty (Big Red, R198,95)

In die boek, wat eintlik deel is van Chetty se meestersgraad in mediastudies, deel hy sy navorsing oor die internet en die uitwerking wat dit op die moderne wêreld het. Moet net nie dink dis ’n droë akademiese dissertasie nie. Dis ’n baie leesbare boek propvol inligting wat op ’n logiese en verstaanbare manier uitgestippel word. Wie behoort hierdie boek te lees? Almal wat belangstel in die web en hoe die web funksioneer, maar ook mense wat belangstel in hoe die internet mense se lewens en denkprosesse beïnvloed. Hy verduidelik eerstens wat die web is en hoe dit werk en dan kyk hy na gedragspatrone en veranderinge in gedragspatrone. Hy sluit af met ’n hoofstuk waarin hy spesifiek kyk na internetgebruik in Suid-Afrika. Glo my, ek is allesbehalwe gekonfyt in nuwe tegnologie (verkeerde era gebore!), maar ek probeer leer, want in vandag se wêreld moet jy byhou. En hierdie boek het selfs vir my as leek genoeg pitkos gegee om die nuwe digitale wêreld beter te verstaan.

Happily ever after

Happily Ever After, Six Secrets to a Successful Marriage, Gary Chapman (Tyndale House Publishers, R148,95)

Gary Chapman is ’n gewilde en bekende skrywer van boeke wat advies uitdeel. Een van sy bekendste boeke is The Five Love Languages. Hy is reeds die afgelope dertig jaar betrokke by berading vir paartjies en hy het agtergekom dat daar basies ses sake is waaroor mense in verhoudings baklei. In dié boek bespreek hy die ses sake deurdringend en gee ook praktiese riglyne om elkeen te hanteer. Die ses kwessies volgens hom is: pare se onvermoë om konflik op te los sonder dat dit in ’n argument ontaard; ’n aanhoudende stryd om te onderhandel oor persoonlike verandering; geldsake; aanpassing in die getroude lewe ná die geboorte van kinders; bedsake en verhoudings met die skoonfamilie. Hy glo paartjies wat kan leer om hul konfliksituasies te hanteer sonder om daaroor te argumenteer, staan ’n beter kans om getroud te bly. Sy fokus is dus op positiewe maniere hoe om konflik te hanteer. Die boek is vir paartjies ’n nuttige stuk gereedskap waarmee hulle die gehalte van hul huwelik en ander familieverhoudings kan verbeter.

Ontdek jou sielskrag

Ontdek jou sielskrag, dr. Hennie de Villiers (Tafelberg, R160)

Die skrywer is ’n afgetrede sielkundige wat vroeër in sy loopbaan ook ’n professor in sielkunde was. Hy het reeds ’n paar leservriendelike boeke oor spiritualiteit en selfontwikkeling geskryf. In dié boek fokus hy “op die rol van die siel in die mens se lewe. Die uitgangspunt is dat die siel ’n spirituele entiteit is wat oor vermoëns beskik wat die mens in staat stel om sy probleme te oorwin.”

Wat jy uit hierdie boek gaan leer, is om insig in jouself en jou probleme te kry. Dit sal help dat jy weer die betekenis van jou lewe herontdek en weer lief word vir jouself. Probleme hoef nie ’n berg in jou lewe te word nie. In die loop van jou lewe gaan daar altyd probleme opduik. Dis hóé jy die probleme hanteer, wat gaan bepaal hoe gelukkig jy met jou lewe is.