wat_die_oog_gesien_het
Lewe + Liefdes

Top 5: Ideaal vir wintersdae

Dis maar net in my kop, want eintlik is baie van ons wintersdae hier in Gauteng heerlik. Miskien is dit omdat ek nie ingerig is vir die winter nie. My huis het nie matte of gordyne nie – ek hou nie van matte en gordyne nie. So my huis voel soos ‘n yskas. Maar ek het wel lieflike sementvloere en groot vensters! Natuurlik heerlik in die somer. By die voordeur is ‘n hoop kniekombersies en as iemand by kom kuier, kry hulle met die instap sommer klaar een. Ek wil darem nie hê hulle moet longontsteking opdoen nie . . .

Ek lees nou die dag hierdie aanhaling van T.S. Eliot raak: “I read, much of the night, and go south in the winter.” Toe slaak ek sommer so ‘n sug van versugting: Kan ek nie ook maar suid gaan vir die winter nie? Net totdat ek besef, maar ek is in die Suide, ek sal moet Noorde toe. Maar ek kan bly droom. Intussen lees ek maar.

Onthou om ons elektroniese winkel op Kalahari.com te besoek om van die boeke aanlyn teen afslagpryse te bestel.

Wat die oog gesien het, Christine Barkhuizen-Le Roux (Human & Rousseau, R170)
Hierdie bundel uiteenlopende kortverhale getuig van fyn waarneming. Dit wissel van lig tot somber. Die omslag illustreer: “Op die bruingebrande hand se vingertop kom sit, trillend, die middag se één blou vlinder.” Iets moois of verhewe word raakgesien en dit ontroer of troos. Die reisende vrou is tydelik vry van manlike oorheersing en verwagtinge. Vry om nuwe dinge te ervaar.  Daarteenoor is die vroue in “Boas”, “As Falco ja sê”, “Bed” en die aangrypende “Boom” onderdruk en ingehok. Die vrou wat lief is vir die vlamboom, beeld dit in haar kwiltwerk uit. Haar baasspelerige man wil juis dié geliefde besitting vernietig en sy kom in verset. Vroue uit nederige tot verhewe agtergronde, onder die maritale mag, probeer dit selfs op beskeie maniere ontvlug. - Malene Breytenbach

 

Wortematie, Wortel Strydom (Wortematie Media, R159)

n Mens vlieg deur Wortel (eintlik Theunis) Strydom se debuutroman. Want hoe dan anders as jy oor studentepret lees? In Wortematie ontmoet die leser vir Wortel, ’n student aan die Universiteit Stellenbosch. Dis die jaar 2000, selfone is skaars en die torings in New York het pas getuimel. Maar Wortel kwel hom oor ’n rugbywedstryd, ’n meisie met balletskoene en ’n toets.

So tussendeur die bladsye van ’n studentestorie, die gange van ’n manskoshuis en die strate van Stellenbosch, maak die leser kennis met vreemde byname en skreeusnaakse voorvalle. Want waar het jy al gehoor van hase wat trou of manstudente wat muise versier? Strydom se beskrywings is kleurryk en pittig. En die karakters lyk almal soos bekende televisie- of filmsterre. Wel, naastenby. Verál deur ’n toegewasemde ruit.

Wortematie is ’n lekkerlees-vakansieboek. Ligte leesstof wat jou sal laat lê soos jy lag. Almal wat al ooit ’n student was, sal terugverlang. En iewers in die boek sal jy jou vriende herken. Of dalk jouself. Of miskien ’n voormalige Mej. Suid-Afrika . . .
Charlea Sieberhagen

 

Toring se baai, E. Kotze (Kwela Boeke, R165)

 Dis Kotze se sewende boek oor ‛n tydperk van bykans 30 jaar. In die boek vertel sy van ‘n groepie Weskussers wie se bestaan om ‘n kreeffabriek wentel. Dis nie maklik om hier ‛n bestaan te maak nie en die feit dat die fabriek deur ‛n storm verwoes is, dra nie by om sake te verbeter nie. Die leser word deel van die lief en leed van die paar gesinne wat in hierdie harde wêreld probeer oorleef. Ten spyte van alles gaan mense voort met hul lewens en hul drome. Tipies aan menswees, is daar ook die wat met mekaar oor die weg kom en die wat maar altyd aan die baklei sal wees. In klein geslote gemeenskappe word “inkomelinge“ en hul idees nie altyd verwelkom nie. Ten spyte van die moeilike omstandighede voel jy tog dat daar iets kosbaars verlore gegaan het, toe vooruitgang uiteindelik sy opwagting hier gemaak het. Kotze het aan die Weskus opgegroei, waar haar pa ‘n enjineer by ‘n kreeffabriek was, en is dus goed vertroud met die Weskus en sy mense. – Gert Venter 

 

The Distant Hours, Kate Morton (Macmillan, R185)

Edie Burchill, 30-jarige skryfster/redigeerder, kon nooit verstaan waarom haar ma so emosioneel afsydig is nie. Dit het alles verander die Sondag toe haar ma ‘n brief in die pos kry wat 50 jaar vantevore gepos is. Edie sal nooit die huilklank vergeet wat haar ma geuiter het toe sy die brief begin lees het nie. Hierdie gebeurtenis het Edie se nuuskierigheid geprikkel en haar genoop om meer uit te vind oor wat met haar ma gebeur het tydens die Tweede Wêreldoorlog toe sy as 13-jarige kind om veiligheidsredes weggestuur is na die Engelse platteland. Hierdie speurtog lei Edie na die Milderhurst-kasteel en die eksentrieke Blythe-susters, en uiteindelik beter begrip vir haar ma. 

‘n Boeiende boek gevul met interessante karakters en ‘n goeie storielyn. – Rheta Burger

 

The Memory of Water, J.T. Lawrence (Rebel ePublishers, R248,95)

 Slade Harris, ’n suksesvolle skrywer, raak desperaat wanneer sy idees opdroog en sy lewe meer buite beheer raak. Hy verloor al hoe meer sy houvas op die sukses en erkenning wat hy met sy vorige boeke geniet het en hy voel leeg en moeg.

Skuldgevoelens oor sy suster se verdrinking toe hulle kinders was, ry hom en is onderliggend aan hoe hy die lewe beskou. Hy bedink ’n makabere plan om materiaal vir sy nuutste boek te kry, maar in sy beneweldheid het hy geen begrip van die implikasies wat dit mettertyd vir hom sal inhou nie. Hierdie keer het hy dalk te ver gegaan.

Die boek het ’n gemaklike tempo wat al hoe nader aan die einde ’n verbysterende spoed optel en uiteindelik soos ’n wegholtrein voel. Dit het alles te doen met persepsies, en daar word getoor met dié van die hoofkarakter en die leser. ­– Liesel Pienaar

 

The Reunion, Joanne Fedler (Jacana, R166,95)

’n Groep jare lange vriendinne kom in ’n ou landelike herehuis vir ’n reünie byeen. Jo, Helen, CJ en Ereka kom uit Secret Mothers’ Business en ’n paar ander vriendinne kom by, soos Virginia en Summer. Kinders het groter geword en in moeilike tieners ontaard. Huwelike het opgebreek. Mans het gekom en gegaan. Terwyl die groep vroue alkohol en kos verorber, kom almal se vrese, insigte, swakhede, hartseer, frustrasies en behoeftes na vore. Die reünie is veronderstel om ’n naweek van girl bonding en genot te wees, maar daar is katterigheid, skokke en teleurstelling ook. Vriendskap kom onder druk. Uiteindelik is die begrip en troos vir mekaar se situasies die belangrikste gevolge. Die boek is met wysheid en mensekennis geskryf. Dit laat mens lag, sug en empatiseer. – Malene Breytenbach

 

Joonie, Rayda Jacobs (Jacana, R135,95)

Klaarblyklik gebruik Jacobs haar skryfwerk as terapie, en dis dalk waarom hierdie poging van haar (in vergelyking met haar vorige nege) bloot as nog ’n variasie op dieselfde tema lees.

In graad een ontbloot Joonie se oom hom aan haar, twee jaar later lê die skoolhoof by haar aan en in matriek raak sy swanger. Haar ma sleep haar predikant toe sodat hy Joonie kan oorreed om die baba vir aanneming af te teken, maar wat doen dominee? Hy molesteer haar! Sy pers hom af vir ’n aardige bedrag, vlieg New Jersey toe en gaan bly by haar tannie Laverne. Sy ontmoet vir Stavros en Bokkie word gebore; ná drie maande rand Stavros Joonie aan, en sy en Bokkie vlug Suid-Afrika toe. ’n Maand later raak Joonie weer swanger, ontdek ’n familiegeheim en gou is sy terug in Amerika, waar Stavros haar herhaaldelik bykom; Joonie weer sy aanvalle af, maar dit loop op ’n tragedie uit.

Aanvanklik ontlok Joonie meegevoel van die leser, maar spoedig raak die domastrante heldin se voortvarende gedrag irriterend. Hierdie boek kan lesers gerus maar op sy baadjie takseer; Joonie is ’n middelmatige leeservaring uit die pen van ’n bekroonde skrywer. – Emsie Viljoen

 

Poppadom Preach, Almas Khan (Simon & Schuster, R110)

 Dilly Shah, ’n tiener van Pakistanse afkoms, woon saam met haar uitgebreide gesin in Bradford en word groot in ’n disfunksionele gesin waar geweld (fisiek en verbaal) ’n normale verskynsel is.

Sy is skrander, onafhanklik en leergierig, maar volgens haar ouers is sy astrant, opstandig en faal sy die norme waaraan fatsoenlike Moslemvroue gemeet word. Met een voet in Brittanje en die ander in Indië lei haar stryd om haar ideale te verwesenlik tot nimmereindigende konflik; haar ouers eis dat sy haar studies laat vaar en ten bate van die gesin tot ’n gereelde huwelik instem.

Hierdie verhaal speel af in die 1970’s en ontgin die temas van rassisme, gesinsgeweld en verskeurde identiteit. Hoewel ’n mens deur dié lewendige en onderhoudende vertelling meegevoer word, is die beskrywing van die tragikomiese gebeure in Dilly se lewe meestal net ’n kritiese interpretasie van die talle voorskrifte wat binne tradisionele Moslem-gemeenskappe geld. – Emsie Viljoen

 

Darkside, Belinda Bauer (Bantam Press, R195)

 Die moord op ’n bejaarde vrou ruk die klein dorpie Shipcott. Die plaaslike polisieman, Jonas Holly, is geskok deur dié grusame gebeurtenis en moet die saak, sy heel eerste moordsaak, ondersoek. Hy word egter eenkant toe geskuif deur ’n superintendent wat uit ’n ander dorp gestuur is om ook die moord op te los, en dink dat Jonas nie bevoeg is vir dié taak nie. Die ontdekking van ’n tweede lyk verander sommige inwoners se persepsie van Jonas. Iemand dink dat hy die moordenaar is, en anonieme briewe aan hom, met baie persoonlike detail oor sy doen en late, knou sy selfbeeld en sy verhoudings met die mense om hom.

Wees maar gereed om tot in die vroeë oggendure aan dié boek te lees, want Bauer het ’n seldsame gawe vir rillers skryf, wat maak dat jy dit nie kan neersit nie. Ek het gevoel asof ek met die blaai van elke bladsy deel word van dié dorp en die gebeure wat elke inwoner daarvan tot in hul diepste raak. Darkside is ’n boeiende verhaal en die perfekte fix vir enige riller-junkie.Liesl du Toit       

 

Never Let Me Go, Kazuo Ishiguro (Faber and Faber, R119,95)

Dié aangrypende, onheilspellende verhaal speel in ’n alternatiewe werklikheid in die 1990’s in Engeland af. Kathy H, Ruth en Tommy is drie kinders wat grootword in ’n kosskool genaamd Hailsham. Op die oog af is hulle gewone skoolkinders, maar gou merk jy die lang, verwronge skaduwee wat oor Hailsham val. Almal deel ’n tragiese, hopelose lot wat geleidelik en vernuftig deur die boek onthul word. Die mengsel van die gewoonheid en bisarheid van hul wêreld maak dit vir die leser terselfdertyd bekend én aardig. Dit word soos ’n weerkaatsing van jou eie bestaan, maar in ’n poel donker, troebel water. Teen hierdie sinistere agtergrond speel ’n liefdesdriehoek tussen die drie af met hartverskeurende gevolge. Met sy kenmerkende gestroopte vertelling opper Ishiguro vrae oor menslikheid, verganklikheid en moraliteit wat lank nadat jy die boek neergesit het, steeds by jou spook. – Marida Fitzpatrick

 

77 Shadow Street, Dean Koontz (Harper Collins, R171,95)

In 1973 is die herehuis Pendleton omskep in wooneenhede. Pendleton is egter ‘n huis met ‘n geskiedenis. In 1889 het Andrew Pendleton dié huis, wat op Shadow Hill staan, vir sy familie laat bou. Tragedie slaan in 1896 toe wanneer sy vrou, Margaret, en hul  kinders, Sophia en Alexander, vermoedelik ontvoer en vermoor word. Andrew het in die huis aangebly tot sy dood, waarna dit aan die Ostock-familie verkoop is. In 1935 vermoor die butler die Ostock-familie en die ander huisbediendes voordat hy selfmoord pleeg. Die meeste van die lyke van die familie en bediendes is nooit gevind nie.

Dit blyk dat daar elke 38 jaar ‘n tragedie afspeel in dié huis op Shadow Hill en dis byna weer tyd. Die huidige inwoners, ‘n uiteenlopende groep mense,   moet kragte saamspan om te oorleef.

Die boek is vol verrassings en nes jy dink jy weet wat gaan gebeur, hou Koontz jou aan die raai met ‘n hele ander scenario. Die spanningslyn hou vol tot aan die einde en sorg vir boeiende leesstof. – Karien Labuschagne

 Kind of cruel

Kind of Cruel, Sophie Hannah (Hodder & Stoughton, R195,95)

Hierdie boek is boeiend en ek kon dit nie neersit nie. Amber Hewerdine word gevange geneem skaars ‘n paar ure na ‘n besoek aan ‘n hipnotiseur in ‘n poging om haar slapeloosheid te probeer genees, of ten minste te verlig. Sy word in hegtenis geneem nadat sy die woorde “Kind, cruel, kind of cruel” uiter, maar wat beteken dit? Duidelik weet Amber meer as wat sy besef, maar haar onderbewussyn laat haar in die duister, vir nou.

Hierdie is boeiende leesstof met genoeg sielkundige drama en sinistere kinkels al die pad. Jy sal tot op die laaste blad verras word en jy sal nog vir dae peins oor die ingewikkelde komplot lank nadat jy die boek neergesit het. Aanhangers van Sophie Hannah sal nie teleurgestel word nie, en as jy nog nie voorheen ‘n boek van haar gelees het nie, is hierdie ‘n uitstekende een om mee af  te skop. – Julia Boltt