Lewe + Liefdes

Top 5: Kinkels en kabels

Soms kry ek ’n boek wat stadig begin, maar dan begin die storie aan die einde van die eerste hoofstuk galop soos ’n wilde weghol-perd. Ek kry skaars die bladsye vinnig genoeg omgeblaai, so haastig is ek om te sien waarheen die storie my gaan neem. Dan maak ek my klaar vir ’n deurnagter – genoeg koffie in die warmfles, ’n lekker kombers om onder te broei en ’n sterk genoeg leeslamp om die bladsye te verlig! Natuurlik moet daar ook ’n hele paar kinkels in die kabel wees, net om my aandag die hele tyd te hou. Ai, hoe wens ek ek was nou op die naat van my rug met ’n boeiende boek. . .

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

 

The Hunger Games, Suzanne Collins (Scholastic US, R109,95)

Hierdie eerste boek van die trilogie het al in 2008 verskyn en het wêreldwyd ’n opskudding veroorsaak. Die reeks is al in 26 tale vertaal en is topverkopers in fiksie vir jong volwassenes/tieners.

Die verhaal speel af in ’n post-apokaliptiese land, Panem, wat verdeel is in 12 distrikte waar die mense in uiterste ellende leef. Ons heldin, Katniss Everdeen, ’n 16-jarige inwoner van Distrik 12, is geen uitsondering nie. 

Die Hunger Games is ’n jaarlikse instelling waar 2 jong inwoners uit elke distrik gekies word om aan ’n bloedige oorlewingspel deel te neem wat landwyd op televisie uitgesaai word. Die probleem is dat dit ’n spel tot die dood is waar net een deelnemer mag oorleef. Katniss se 12-jarige sussie word gekies vir die spele en Katniss bied onmiddellik aan om in haar plek te gaan.

Dis boeiende leesstof vir lesers van alle ouderdomme.  – Rheta Burger

Death comes to Pemberley

Death comes to Pemberley, P.D. James (Faber & Faber, R194,95)

Waar Jane Austen se Pride and Prejudice ophou, hervat P.D. James die storie. Dit is ses jaar later. Darcy en Elizabeth is steeds gelukkig getroud, met twee lieflike seuns. Dan, op die vooraand van die jaarlikse bal, word ’n man in Pemberley se woud vermoor en al die spoke uit die verlede kom meld weer aan – die skandes en geheime, die liefdes en luste en vyandighede – en nuwe geheime oor ou karakters kom ook uit die bos uit. Die storie verloop aanvanklik stadig, met allerhande ompaadjies en kinkels, maar wanneer dit eers spoed optel, snel dit enduit voort soos ’n weghol-koets. Op 91 weet dié skrywer steeds hoe om ’n whodunnit van formaat te skep.  – Ilse van Staden

Die Midas Moorde

Die Midas Moorde, Pieter Aspe (LAPA Uitgewers, R150)

Die inwoners van Brugge word deur ’n reeks misdade geteister. Eers word ’n Duitse sakeman vermoor en ’n foto van Michelangelo se Madonnabeeld word by sy lyk aangetref. Dan word die standbeeld van die Vlaamse digter, Guido Gezelle, deur ’n bom getref. Kommissaris Pieter van In moet deur al dié chaos die misdade probeer oplos en verstaan.

Dié verhaal is die tweede in die Pieter van In-reeks. Ek het aanvanklik gesukkel om ’n houvas te kry op dié storie en die hoofkarakter, wat met tye nogal nors en onbeskof kan wees. Soos wat die verhaal verloop het, kon ek nie anders as om elke bladsy te verorber nie. Misdaad-junkies sal hierdie boek veral geniet, want daar is geen tekort aan spanning en kinkels nie.

Die onverwagse duik om elke hoek en draai op, en ek dink nie ’n leser kan maklik voorspel wat die waarheid agter al die misdade is en hoe dit eindig nie.

Van die woorde en taalgebruik is formele Afrikaans, en is dalk vir sommige lesers moeilik om te lees en verstaan. – Liesl du Toit

Die Geheime Kamer

Die Geheime Kamer, Corlia Fourie (LAPA Uitgewers, R170)

In haar nuutste poging waag Fourie (bekroonde skrywer van romans, kinder- en kortverhale) haar hand aan ’n riller: Gert ontvoer vir Sandra en hou haar maande lank in ’n kamer naby die see aan.

Dit klink belowend, maar op verskeie plekke is die motivering, aksies en dialoog onoortuigend en staan die beskrywing van ’n toneel of gebeurtenis onder verdenking.

Vreemd genoeg is dit die uitbeelding van die ontvoerde joernalis se familie en ander randkarakters wat ontroer; sover dit Sandra betref, verloor jy halfpad deur die vertelling simpatie met haar en begin wens sy wil haar eetgerei inspan om ’n einde aan haar situasie te maak. Origens is daar geen verrassings rakende die uitbeelding van Gert nie; hy is na die letter ’n teksboek-psigopaat.

In dié geslote kamer word ’n gemiddelde storie met ’n gebrekkige einde gevange gehou, of anders is ons straks net bederf deur die uitstekende gehalte van talle oorsese publikasies in hierdie genre. Tog, ten spyte van die kritiek, sal aanhangers van Afrikaanse ril-fiksie die boek waarskynlik geniet.  – Emsie Viljoen

Die Soenoffer

Die Soenoffer, Isa Konrad (LAPA Uitgewers, R165)
Wessel Jenke, ’n bekende joernalis, kry opdrag van sy redakteur om ’n onderhoud te voer met Isobel Swart, ’n veroordeelde reeksmoordenaar. Wat Isobel se situasie uniek maak, is dat sy net nege jaar oud was toe sy aangekla en skuldig bevind is aan die reeks moorde. Nou is dit jare later. Sy het haar vonnis uitgedien en is vrygelaat.

Wessel verwag om ’n monster te ontmoet, maar vind alles behalwe dit. Isobel is ’n stil en toegewyde ma wat op soek is na die waarheid in haarself. Haar kind is haar ewebeeld. Wessel raak betrokke in ’n effe bisarre verhouding terwyl hy na Isobel se waarheid soek. Waarom het sy gemoor en wat dryf so ’n jong kind tot sulke dade?

’n Interessante verhaal wat skok,  jammer dat die verhaal uiters voorspelbaar is.  – Karien Labuschagne

The Ghost of Lily Painter

The ghost of Lily Painter, Caitlin Davies (Hutchinson, R194,94)

Soms tel mens ’n boek op wat jou aanvanklik glad nie interesseer nie. Dit was die geval met dié roman. In die proloog reeds lees mens van die spook wat in die huis in Stanleystraat woon, en hoe sy die nuwe intrekkers takseer.

Annie Sweet se dogtertjie, Molly, sien dat Jojo, hul hond, bang is vir ‘iets’.

’n Lekkerlees-speurverhaal wat terselfdertyd ’n historiese roman is en wat in ons tyd afspeel, maar ook in Londen soos dit in die Edwardiaanse tyd daar uitgesien het.

Die twee stelle mense wat Stanleystraat hul tuiste gemaak het, het baie verskillende lewens gelei. Dis ’n meesleurende lekkerlees-storie wat nie net bedoel is vir mense wat van spookstories hou nie. Maar pasop, Davies skryf so boeiend dat dit onmoontlik is om dié een toe te maak as jy eers begin het. – Mariette Postma

Stealing the Marbles

Stealing the marbles,  E.J. Knapp (Rebel ePublisher, R232,95)

Danny Samsel is ’n misdadiger in die tradisie van The Saint en Robin Hood – ’n dief met ’n goeie hart en edel motiewe. Op sy nuutste avontuur beplan hy om die Partenon- marmerbeelde uit die Britse Museum te steel sodat dit  teruggegee kan word aan Griekeland, vanwaar dit in die negentiende eeu weggeneem is. Met die mooie Kastania aan sy sy, ’n hand vol ou vriende, ’n paar nuwe vyande en selfs Interpol op sy spoor, raak dinge gou interessant. Karakters en hul motiverings neig soms na die geykte en die argument ten gunste van die beelde se terugkeer knaend, maar dis nietemin ’n knap debuut. – Ilse van Staden

Freedom

Freedom, Daniel Suarez (Quercus, R114,95)
Freedom is die opvolg van Suarez se vorige boek: Daemon. Daarin het ons kennis gemaak met die rekenaarprogram ‘Daemon’ wat die wêreld se rekenaarstelsels oorgeneem het. In die eerste boek is die mensdom die keuse gebied: word beheer deur ’n rekenaar of jou wêreld word vernietig. In Freedom blyk dit egter dat Daemon nie net sleg is nie, maar ook goed.

Daar is ‘n duidelike onderskeid tussen die groepe wat deur Daemon beheer word. Daar is dié wat werk aan hernubare energie en organiese boerdery. Maar dan is daar die wat veg teen almal wat Daemon teenstaan. Maar steeds ontken die wêreldleiers dat Daemon bestaan en dat daar probleme is. Dit terwyl elke land in resessie is en onluste beleef. Dié opvolg deur Suarez is vol aksie en opwinding. – Karien Labuschagne

Tick Tock

 

Tick Tock, James Patterson en Michael Ledwidge (Random House Struik, R 215)
Speurder Michael Bennett se vakansie met sy 10 aangenome kinders word onderbreek wanneer ’n reeks misdade gepleeg word. Omdat die misdade nabootsings is van dié wat deur bekende misdadigers gepleeg is, is die publiek paniekerig. Watter bekende misdadiger se misdade gaan volgende nageboots word en wat gaan die gevolge wees? Die misdade word net met mekaar verbind as daar vir Michael ’n brief op elke toneel gelaat word.

Michael se verhouding met Mary Catherine, sy kinders se oppasser, word op die spel geplaas wanneer agent Emily Parker deur die FBI gestuur word om te help met die ondersoek. ’n Opwindende speurverhaal met heelwat humor, intrige en spanning. – Karien Labuschagne

10th Anniversary

10th Anniversary, James Patterson en Maxine Paetro (Random House Struik, R 215)

In die tiende boek van die trefferreeks Women’s Murder Club moet speurder Lindsay Boxer moeilike besluite neem. Sy is skaars getroud, en ’n ondersoek waarmee sy besig is veroorsaak reeds spanning in haar huwelik. Die ondersoek gaan oor die ontvoering van ’n pasgebore baba. Kort voor lank besef sy die jong tienerma het iets om weg te steek. Verder voel dit vir Lindsay asof haar nuwe baas, luitenant Jackson Brady, haar elke stap bevraagteken. Terselfdertyd ruk ’n reeks aanvalle op vroue die gemeenskap en stel een lid van die Women’s Murder Club se lewe in gevaar. ’n Vinnige, ontspannende lees.Voorspelbaar, maar tog boeiend.  – Karien Labuschagne

Scream

Scream, Nigel McCrery (Quercus, R184,95)
Hoofinspekteur Mark Lapslie ontvang tans behandeling en berading vir sy sinestesie (’n mediese toestand waar die pasiënt sekere kleure of smake met bepaalde klanke verbind). Die medikasie waarop hy is help dat hy nie meer geluide met smake assosieer nie. Terwyl hy in Pakistan is vir ’n konferensie, ontvang hy ’n e-pos wat sê :“You need to listen to this.” In die aanhegsel hoor hy ’n vrou 27 keer skree voor sy sterf. Hy gaan onmiddellik terug Engeland toe. Binne dae vind hy uit dat sersant Emma Bradley die dood van ’n jong vrou ondersoek wat 27 keer met ’n mes gesteek is. So begin hulle saam ondersoek instel en vind nog onopgeloste moorde wat met mekaar verbind kan word. Net toe Mark en Emma dink hulle weet wie die skuldige is, word Emma ontvoer. Mark besef hulle was op die verkeerde spoor, maar gaan hy betyds wees om die werklike moordenaar te ontmasker en Emma te red? ’n Speurverhaal met baie kinkels, gevare en verrassings.   – Karien Labuschagne