Lewe + Liefdes

Top 5: Mense se lief en leed

Ons is ‘n sosiale spesie en bly gefassineer deur dit wat in ander mense se lewens aangaan. Wanneer ek ‘n boek lees waarin die karakters so deel raak van my dat ek amper voel ek ken hulle en hul lief en leed,  weet ek dis ‘n boeiende verhaal. Ek leef my letterlik in die verhaal in. Ek kan nie onaangeraak bly teenoor karakters in boeke wat deur intense emosionele wroeginge gaan nie. Soms wil ek hulle help en ander kere frustreer hulle my so dat ek wens ek kon hulle sê om net bietjie by te kom in die lewe. Het jy al so gevoel wanneer jy lees? Dié week het ek sulke intense menslike verhale gekies.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

 

 

Is Sagie, Jan van Tonder (Human & Rousseau, R139,95)

Sagrys van Greunen en sy pa, Barend, boer met bokke en kalbasse op hul plasie, Greunendal, in die Dwarsriviervallei in die Klein-Karoo. Sagie is ‘n eenvoudige mens wat lewe soos sy oë dinge sien en sy lyf dit voel. Hy is hardwerkend en is lief vir sy bokke en die plaas. Toe die De Wets op Kopland intrek en hulle bure word, word hy en Ansie vriende en ervaar hy ook die wonder van die liefde. Hy stel haar bekend aan die natuurskoon van die Klein-Karoo. Maar haar pa, Andries de Wet, is nie gediend met die vriendskap nie. Eers probeer hy Greunendal koop en daarna besluit hy om eerder na ‘n plaas in Oos-Transvaal te verhuis. Hierteen het Sagie geen verweer nie. Is Sagie is ‘n diep, menslike verhaal oor onskuld en is met groot deernis geskryf. Dit sal jou ontroer. Verlede jaar is die film Roepman, Van Tonder se tweede roman, vrygestel. Die Kind, sy eerste roman is in 1989 met die ATKV- en FAK-pryse bekroon. – Gert Venter

The Post Office Girl

The Post Office Girl, Stefan Zweig (Sort of Books, R159,95 )

Dit is ‘n verhaal oor wat oorlog aan ‘n mens kan doen.  In die jaar 1926 leef die 28-jarige Christine in desperate armoede in ‘n bekrompe dorpie. Sy is ‘n vrou wat nooit gegun was om jonk en sorgloos te wees nie. Gelate aanvaar sy haar omstandighede.

Dan beland sy vir ‘n kort rukkie in ‘n wêreld van rykdom, luukshede en vryheid en ontdek sy ‘n “ander self”.  Wreed word sy teruggeslinger en nou het die gelate aanvaarding plek gemaak vir misnoeë en ontevredenheid, want sy weet dat daar ‘n beter lewe is.

Christine ontmoet Ferdinand, ‘n oorlogsveteraan, iemand wie se wrok teen die onregverdigheid van die lewe nog erger en dieper as haar eie is. Saam beweeg hulle op ‘n begrensde weg wat aanvanklik geen hoop inhou nie, maar dan na ‘n onverwagte klimaks lei.

‘n Boek wat ‘n mens laat dink. Ek stel voor jy lees die Agterwoord as Voorwoord vir ‘n beter insig in die diepte van die boek.  – Nikki Strassburg

The Promise of Rain

The Promise of Rain,  Donna Milner  (Quercus, R194,94)

Hierdie boek het my so geraak dat ek byna heeltyd my trane moes sluk. Dis die verhaal van ‘n familie wie se fondamente geskud word as die ma en vrou onder baie vreemde omstandighede sterf. Howard, die patriarg van die familie, is ‘n stil en ‘n afgetrokke man. Sy lewe is onherroeplik verander deur sy ervaring as oorlogsgevangene van die Japannese tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die dood van sy vrou, Lucy, maak dat hy homself nog meer terugtrek. Sy stilte word nie net veroorsaak deur sy fisieke en emosionele wonde van die oorlog nie, maar ook deur die verskriklike geheim wat hy in hom dra. Sy hardnekkige elfjarige dogter, Ethie, is uiteindelik die een wat sy geheim ontbloot en hom teruglei na die hart van sy familie. Dis ‘n aangrypende verhaal met ‘n emosionele vuishou, en tog word dit delikaat vertel. Die boek sal wyd aanklank vind by ‘n groot verskeidenheid lesers. – Julia Boltt

The Reading Group

The Reading Group, Elizabeth Noble (Penguin, R102,95)
Vyf vroue ontmoet vir hul eerste leesgroepie, min wetend dat hierdie ontmoetings oor boeke en glase wyn hulle ver meer as literêre debatte sou laat deel.
Harriet en Nicole is die voorbokke, beste vriendinne wat nie aan hulself of mekaar sal erken dat hulle in liefdelose huwelike vasgevang is nie. Polly, ’n enkelma, kry ‘n onverwagse huweliksaansoek en Susan, gewoonlik so sorgvry, staar ‘n verpletterende realiteit in die gesig. En Clare, stil en geheimsinnig, het meer as boeke om op te konsentreer.
Hul wêrelde word in onverwagse, aangename en verrassende gebeure deurvleg. Drome word gemaak en gebreek, maar hulle het mekaar om hul lief en leed mee te deel.
Dit was eers byna teen die einde van die boek dat ek die karakters leer ken het aangesien elke hoofstuk ’n ander vrou se storie vertel het.  – Chris Botha

The Tenderness of Wolves

The Tenderness of Wolves, Stef Penney (Quercus, R136,95)

 Dis die jaar 1867 en dis winter. Laurent Jammet, ‘n Franse jagter, se keel word afgesny en sy kopvel word afgeslag in ‘n afgryslike moord in die afgeleë dorpie Caulfield in Kanada. Sy buurvrou, mev. Ross, ontdek die lyk toe sy na haar sewentienjarige seun, Francis, soek. Hy het verdwyn en was vriende met Jammet. Onmiddellik word hy verdink van die moord. Sy besluit om haar seun spore te volg om sy onskuld te bewys. Dis ‘n gekompliseerde moordverhaal met ‘n swetterjoel karakters en die gebeure is ineengevleg met dinge wat in die verlede in die gemeenskap gebeur het.  William Parker, wat ook van die moord verdink word, ontsnap en vergesel mev. Ross op haar soektog die ongenaakbare wildernis in. Ten spyte van al die karakters waarmee jy moet kophou, is dit ‘n boeiende verhaal wat telkens met ‘n geloofwaardige kinkel vorendag kom. Jy bly lees, want jy wil weet hoe een van die temas van die verhaal, “the Sickness of Long Thinking”,  Ross en Parker se lewens kompliseer. Penney se beskrywings van die landskap is uitsonderlik en dra by tot die misterie en spanning van die verhaal. Sy lei aan ruimtevrees en ek wonder of sy juis daarom die verlatenheid van dié landskap met soveel sorg beskryf het om geloofwaardigheid te behou. Dis ‘n baie emosionele verhaal en sal lank na die lees daarvan nog in jou kop bly draai.  Die boek was in 2006 die wenner van die Costa-prys. – Phyllis Green