Lewe + Liefdes

Top 5: Om te kan gesels

Dis asof jy deesdae altyd ‘n vinnige inskrywing op ‘n Facebookblad maak of ‘n kort boodskap twiet of ‘n skrapse e-posboodskap stuur. Waar is die dae toe jy vir ure aaneen kon gesels oor alles en nog wat, van aangesig tot aangesig. Waar ‘n lekker debat sommer oor dae kon strek. . . Natuurlik gee ‘n goeie algemene kennis jou altyd ‘n aanknopingspunt om ‘n gesprek te begin en argumente te motiveer. Ek is gek na inligting, of dit nou ‘n onderwerp is waarin ek belangstel of nie. Dalk kry ek dit iewers op ‘n tyd nodig in ‘n geselskap waar ek die onderwerp moet verander of moet bydra of wat ook al! Dié week het ek boeke gekies wat daarop uit is om jou algemene kennis bietjie uit te brei.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse  aanlyn te bestel.

Afrika: Fiksie, feit of fabel, Rob Marsh (LAPA, R170)
Afrika is ‘n fassinerende vasteland. In die boek bespreek Rob Marsh 166 van die vreemde gebeure, unieke mense en verbasende kulture wat Afrika uniek maak. Die boek neem jou op ‘n ontdekkingstog deur die kontinent. Verlore stede word ontdek en jy maak kennis met talle van die legendes en mites van Afrika. Wie is die reënkoningin? Bestaan die tokkelossie regtig? Het jy geweet dat Afrika sy eie Stonehenge het? Talle van die 78 wêreld-erfenisgebiede word besoek. Afrika is bekend vir sy unieke fauna en flora en heelwat voorbeelde word bespreek.

Die inligting word in kort sketse weergegee wat jou lus maak om meer oor die onderwerp te gaan oplees. Dit is dus jammer dat daar nie verdere leeslyste gegee word nie. Daar kon meer aandag aan die uitleg van die boek gegee word en foto’s sou welkom gewees het. Die boek prikkel die belangstelling en laat jou besef dat Afrika nie vir Europa hoef terug te staan as dit by kultuur en geskiedenis kom nie. – Gert Venter

 Die Uitsonderlike Boek van Suid-Afrikaanse Rugby

Die uitsonderlike boek van Suid-Afrikaanse rugby, Wim van der Berg (Penguin Books, R130)

Die meeste vroue sal dit dalk nie romanties vind as haar man ná die huwelikseremonie by die kerk nie saamgaan onthaal toe nie omdat hy eers gou ‘n rugbywedstryd moet speel.

Dis volgens die skrywer Wim van der Berg presies wat met die arme Susan Reyneke op haar troudag gebeur het. Haar man, Manie, het eers vir Alberton in ‘n belangrike wedstryd uitgedraf voordat hy die dansvloer gaan open het.

‘n Mens vermoed Susan was nie te ontsteld nie en wel deeglik bewus van waarin sy haar begewe het, want die troukoek was in die vorm van ‘n rugbybal . . .

As jou man ook rugbymal is, behoort hy hierdie boek te geniet. Daar is oorgenoeg interessante of snaakse deeltjies in om hom te vermaak.

Solank hy net belowe om nie die kaalnaeler Brian Baenhoff (bl. 117) dit na te doen nie! ­ – Michael Green

 A Bosman Companion

A Bosman Companion from Abjaterskop to Zwingli, Craig MacKenzie & Tim Sandham (Human & Rousseau, R220)
Dis ‘n uitstekende verwysingswerk wat inligting bevat oor al Herman Charles Bosman se karakters, sy eie lewe en gebeure wat hom beïnvloed het. Die boek is ryklik geïllustreer met foto’s, sketse wat saam met sy stories verskyn het en selfs sy eie skilderwerk.

Afrikaanse woorde en terme word vir Engelssprekende lesers verduidelik en daar is ‘n kort gids tot sy werke. ‘n Kort beskrywing van sleutelkarakters word gegee, asook in watter van Bosman se stories of boeke hulle voorkom. Die inskrywings is alfabeties uiteengesit vir maklike terugverwysing.

 ‘n Moet vir alle liefhebbers van Bosman se werke.  – Karien Labuschagne

 South African Odyssey:The Autobiography of Bertha Goudvis

South African Odyssey: The Autobiography of Bertha Goudvis,  Marcia Leveson (Picador Africa, R175,95)

Op haar sterfdag in 1966 het Bertha Goudvis reeds drie oorloë sowel as Suid-Afrika se oorskakeling van koloniale na moderne staat oorleef. Sy word dikwels vergelyk met Olive Schreiner omdat sy, soos Schreiner, ook ‘n feminis, ‘n pionier en ‘n toegewyde skrywer was.

Sy het in 1881 met haar ma en susters Suid-Afrika toe gekom. Haar pa het reeds twee jaar vroeër gekom op soek na goud. Sy reis op ‘n ossewa reg oor die land, van een myndorpie ná die ander op soek na goud, en verf kleurvolle beelde oor hoe Suid-Afrika die goudstormloop beleef het. Goudvis skryf met deernis oor die dood van haar klein boetie, Harry, en die afsondering wat sy as Joodse meisie in Afrika ervaar het.

Dit was juis dié perspektief wat haar toegelaat het om op ‘n skerpsinnige wyse te skryf oor Afrikaanse én Engelse gemeenskappe en hul sienings oor die land – albei partye het openlik met haar as buitestaander gepraat. Haar liefde vir Suid-Afrika en sy mense word duidelik weerspieël in haar toneelstukke, soos A Husband for Rachel, en haar blitsverkoper, A Little Eden.

Sy was ‘n toegeweide joernalis en het onder meer vir The Natal Mercury gewerk. Sy het dikwels te doene gehad met karakters soos Paul Kruger, Jan Smuts, Cecil John Rhodes en Louis Botha.

Lesers wat belangstel in Suid-Afrikaanse geskiedenis of joernalistiek sal dié insiggewende biografie geniet. – Estelle Nagel

 

 Captured in Time

Captured in Time, saamgestel deur John Clare (Jonathan Ball, R250)

Die subtitel van hierdie lywige boek, Five Centuries of South African Writing, is ietwat misleidend. Dit is nie ’n bloemlesing van werk deur Suid-Afrikaanse skrywers nie, maar eerder geskiedskrywing oor Suid-Afrika by monde van ’n verskeidenheid mense – vanaf skrywers en geskiedkundiges tot ontdekkingsreisigers, sendelinge en politici. Die skoonheid en rykdom van die land en landskap staan in jukstaposisie teenoor vyf eeue se konflik en uitbuiting van mens, dier en natuur. Dit bied wel fassinerende perspektiewe uit diverse tye en kulture, maar is nie altyd maklike leesstof nie. Dit is telkens die weergawes van erkende skrywers (van Olive Schreiner en Percy Fitzpatrick tot Nadine Gordimer en J.M. Coetzee) wat die lekkerste lees. – Ilse van Staden

 Finding Harmony

Finding  Harmony, Sally Hyder (HarperCollins, R120)

Dit is die ware verhaal van Sally Hyder, ‘n verpleegster in Engeland, wat op 28-jarige ouderdom met veelvuldige sklerose (MS) gediagnoseer word. Sally is ‘n avontuurlustige buitelugmens wat lief is vir reis en bergklim. Maar haar gesondheid verswak stelselmatig totdat sy later met ‘n rolstoel oor die weg moet kom. Toe haar jongste dogter boonop met outisme gediagnoseer word, het Sally in ‘n donker put van depressie en hulpeloosheid geval.

Totdat Canine Partners, ‘n liefdadigheidsorganisasie in die VK, tot haar redding kom. Hulle lei honde op om gestremde persone met alledaagse take by te staan, byvoorbeeld om ‘n beursie vir die kassiere by ‘n winkel aan te gee en voorwerpe in en om die huis op te tel.  Harmony word Sally se hande en voete en saam pak die onafskeidbare duo ‘n magdom nuwe avonture aan. Hulle takel (rolstoel en al) die hoogste berg in Skotland en word selfs genooi om koningin Elizabeth II te ontmoet!

Sally is nie ‘n professionele skrywer nie – moet dus nie ‘n perfekte literêre poging verwag nie. Maar haar verhaal is inspirerend en ‘n moet-lees vir diereliefhebbers. – Lee-Ann Steenkamp