Top 5: Onthou jy nog?
Foto’s: Verskaf Galery
Die begin van ‘n nuwe jaar is altyd vir my ‘n tyd vir nostalgie. Dis dan wanneer ek terugkyk en mense en gebeure uit die verlede onthou en met verwondering daaroor peins.
Gewoonlik begin dié proses by ‘n boek wat ek toevallig tussen ander raaksien. So was dit met die biografie oor Freddie Mercury. Het ek nou lekker gelees aan die boek! Ek het terstond sommer al my ou Queen-musiek weer uit die rak gaan haal en daarna geluister, en het net weer besef waarom ek die musiek in die eerste plek aangeskaf het. Wat interessant was, was dat ek vir die eerste keer regtig geweet het waarom ‘n spesifieke liedjie geskryf is en watter een van Queen se lede die dryfkrag agter die bepaalde liedjie was. Ek moet bieg dat my geheue nie te waffers is nie, want ek moes sekere goed wat ek as “feite” onthou het uit koerantberigte en artikels van lank gelede dadelik as snert afmaak. Die boek het my weer opnuut laat kyk na wat ek onthou en waarom!
Die ander boeke vir hierdie week se keuse is ook gegrond op geskiedkundige mense en gebeure. Daar is die wapenskandaal wat opnuut in die nuus is. Dan ‘n interessante verhaal oor een van Barberton se kleurryke karakters, Cockney Liz. Ek hoor by die skrywer van die boek daar gaan moontlik ‘n film gemaak word oor Cockney Liz. Een boek waarna met afwagting uitgesien is, is die een oor die Chileense mynramp twee jaar gelede. Laastens is daar iets oor die wellustige lewens van die koninklikes in Europa in toeka se dae. (Soms dink ek daar verander nie veel nie!) Lekker terugreis in die onthou.
Onthou om ons elektroniese boekwinkel op Kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.
Freddie Mercury – The Definitive Biography, Lesley-Ann Jones (Hodder & Stoughton, R280,95)
Het jy geweet "Bohemian Rhapsody" is een van die gewildste liedjies van alle tye en dat dit vandag nog op Top-10- en Top-20-lyste verskyn? Ná hoeveel jaar?! Dis seker een van Queen se bekendste liedjies en die skep van hierdie musiekwerk was Freddie Mercury se idee. Hierdie biografie gee ons insig in hierdie rockgroep se sukses, maar ook in die harde, harde pad wat hulle moes loop om daardie sukses te behaal. Dis ook die persoonlike verhaal van Freddie Mercury, gebore in 1946 in Zanzibar as Farrokh Bulsara. Sy ouers het hom vroeg-vroeg koshuis toe gestuur in Indië en hy het sy hele lewe lank ‘n gevoel van verwerping ervaar hieroor. Freddie het allerhande goedjies gedoen om hom besig te hou, selfs grafiese ontwerp studeer, maar uiteindelik sy droom bewaarheid toe die rockgroep Queen in April 1970 tot stand gekom het. Dis juis toe dat Freddie sy van na Mercury verander het. Nou ja, die res is musiekgeskiedenis, kan 'n mens maar sê. Dis die intieme detail oor Freddie wat hierdie boek boeiend maak en wat help om te verduidelik hoekom hy soveel mense se lewe aangeraak het. Sy persoonlikheid op die verhoog was heel anders as hoe hy in die werklike lewe was. Dié verhoogpersoonlikheid maak hom onsterflik en dis waarskynlik deels waarom hul musiek vandag nog op die radio gehoor kan word. Ek kan hierdie boek vir enige musiekgeesdriftige aanbeveel.
![]() |
The Devil in the Detail, Paul Holden en Hennie van Vuuren (Jonathan Ball, R216) Die skrywers, albei gesoute navorsers, neem die leser op ‘n reis waar geen doekies omgedraai word oor wie nou eintlik hul eie sakke gevul het ten koste van Suid-Afrika se miljoene armes nie. Jy staan stom voor die besef dat sowat R70 miljard se wapentuig aangekoop is, wat die land nie nodig gehad het óf kon bekostig nie. Die boek is ‘n feitelike weergawe van die gebeure rondom die wapentransaksies, maar selfs ingewikkelde tegniese en finansiële konsepte word in maklik verstaanbare taal beskryf. Die wat gedeel en gesteel het, gaan hopelik in die volgende twee jaar ontmasker word, so maak seker dat jy weet wie is wie wanneer dit aan die ontbyttafel ter sprake kom! – Susan Puren |
![]() |
The 33 – The Ultimate Account of the Chilean Miners’ Dramatic Rescue, Jonathan Franklin (Bantam Press, R235) Al het ek die uiteinde van die storie geken, kon ek steeds nie die boek neersit nie. Miskien juis omdat ek elke minuut van die dramatiese redding van die 33 Chileense mynwerkers op televisie gevolg en selfs die nag voor die kassie geslaap het. Maar hierdie is die storie daaragter, weg van die flitsende kameras en die uitbundige “Chi Chi Chi, le le le” waarmee hul redders, familie en selfs die Chileense president elk van die mans daar in die Atacama-woestyn begroet het. Dis ‘n onvergeetlike verhaal van 69 dae van hel in ‘n donker gang honderde meter onder die grond. Die leser leer elk van die 33 ken. Doodgewone mans met vrese en swakhede maar met ‘n bomenslike drang om te oorleef. Hul gryp die ware “essence of the human spirit” aan en gee nooit oor nie, selfs toe hulle ‘n blikkie tuna in 33 porsies moet verdeel. Bogronds speel ‘n verdere drama af wat die land vir sewe weke met een doel voor oë verenig: Om “Los 33”, soos hulle bekend was, te red en met hul geliefdes te herenig. En op 12 Oktober 2010 het die wêreld saam met Chile gejuig. – Susan Puren |
![]() |
Cockney Liz - Legendary Barmaid of Barberton, Hans Bornman (SA Country Life, R150 plus posgeld, bestel by pioneer@soft.co.za) Cockney Liz is die ware verhaal van Elizabeth Jane Webster. Sy het in 1886 vanaf Engeland in Suid-Afrika aangekom op soek na haar verloofde, wat ‘n jaar of wat tevore sy rykdom op die goudvelde van Suid-Afrika kom soek het. Haar soektog lei haar na Barberton. Die koets word egter beroof en haar ander besittings word weggespoel toe hulle ‘n rivier oorsteek. Sy beland in Barberton met net die klere aan haar lyf. Hier ontdek sy dat haar verloofde al ‘n paar maande gelede doodgeskiet is in ‘n stryery oor goud. Sy kry werk as ‘n kroegmeisie en slaag kort voor lank daarin om haar eie hotel te koop en om die legendariese Royal Albert Hall in Barberton te bou. Sy verdwyn net so skielik as wat sy gekom het. ‘n Ware legende. Bornman gee ‘n kykie op die kleurryke en roemryke geskiedenis van Barberton en die Laeveld in sy geheel. Dis ‘n insiggewende werk wat lewe aan ‘n kleurryke karakter gee. Bornman is ‘n ervare navorser en het heelwat geskiedkundige boeke op sy kerfstok. – Gert Venter
|
![]() |
The Captive Queen, Alison Weir (Hutchinson Radius, R212,95) Hierdie novelle is goed nagevors en die storie wat daarom geweef is, boeiend en lees maklik. - Chris Botha |

























Kommentaar