Lewe + Liefdes

Top-5: Oor die natuur

Die wêreld waarin ons leef word ook in derduisende boeke beskryf en verskillende aspekte daarvan is ook die onderwerp van talle dokumentêre reekse op TV. Ek verwonder my altyd aan navorsers wat ure, dae en jare spandeer om nuwe inligting te versamel. Kan jy jou indink die geduld wat hulle moet hê. En dan word hierdie navorsing ook nie altyd op die mees gemaklike en herbergsame plekke gedoen nie. Dieselfde geld die fotograwe wat sorg vir asemrowende foto’s. Wat hulle doen, is om ons wêreld meer verstaanbaar te maak. Daarmee saam kom ook die waarskuwings van hoe ons die planeet en sy spesies verwoes. Maar dit is seker ook maar die verloop van die lewe. Dié week fokus ek op boeke vir jonger lesers. Ek het die boeke gekies en toe die leeswerk aan ‘n jong leser oorgelaat. As jy ‘n boek vir ‘n jonger leser wil aanskaf, maak dit mos sin om dit uit hulle oogpunt te beskou!

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op Kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

 

 

Voyage of the deep, Sally Morgan (Quercus, R249,95)

‘n Fantastiese boek vir seuns wat belangstel in die see en al die gediertes en ongediertes daarin. Eintlik sal alle watermense deur die boek wil blaai. Van die pragtige koraal op die riwwe tot die minder mooi duiwelvis onder in die donkerste deel van die see, hierdie  ensiklopedie beskryf en wys al die diere van die blou waters.

Dit voel of jy meegevoer word op ‘n reis deur die oseane binne-in ‘n duikboot. Die bladuitleg van die boek lyk kompleet soos die gereedskap van ‘n duikboot en elke bladsy laat jou dink jy kyk deur die periskoop na die see se koningkryk daar buite. Elke dier en organisme het sy eie bladsy met alle moontlike inligting. Die kleurfoto’s sal jou vir ure besig hou. Vir almal wat ‘n liefde vir die see het. – Johané van den Berg

Babadiere 

Babadiere, Mack (Human & Rousseau, R55)

‘n  Prettige kartonboekie met mooi kleurfoto’s waarmee peuters en kleuters diere sal leer ken in hulle natuurlike omgewing. Eenvoudige feite soos  die lengte van ‘n baba-kameelperd en die klimvermoë van ‘n beertjie  word speel-speel geleer.

 Die boekie is geïllustreer met foto’s en kleurryke sketse. Die prentjies sal enige hart laat smelt. Dis geskik vir kinders van 18 maande en ouer. Ander boekies in die reeks: Plaasdiere en Snoesige diere. –  JvdB

 Die Slimkoppies ontdek. . .diere

Die Klein Slimkoppies ontdek… Diere, Lisa Swerling en Ralph Lazar (Human & Rousseau, R99,95)

Die Klein Slimkoppies is terug en met mening besig om die diereryk te ontleed. Hierdie boek sal jou ure besig hou. Daar is foto’s, sketse, verskillende brokkies inligting en dan al die kenmerkende klein kommentaartjie op elke bladsy. Hier is ‘n voorbeeld: “Robwelpies se donsige wit pels help hulle om weg te kruip vir ysbere wat hulle graag wil eet. Hoekom swem hy nie net weg nie? Kleintjies dryf nie baie goed nie, en moet nog leer om te swem.”

Aan die einde van die boek is ook ‘n nuttige woordelys. Ontdek saam met hulle van die olifant-families in Afrika tot die Bengaalse tiere in Indië.

Kinders jonk en oud sal dit geniet om meer uit te vind oor die verskillende diere op ‘n baie vermaaklike manier. Geskik vir kinders vanaf agt jaar en ouer.  – JvdB

 365 Awesome facts & records about nature

365 Awesome Facts and Records about Nature, Neil Morris (Struik, R159,95)

Hierdie boek bevat ongelooflike feite oor al die aspekte van die natuur. Dis basies ingedeel in vyf seksies, waarin daar in diepte na ‘n spesifieke onderwerp gekyk word. Elke seksie word begin deur ‘n klomp vreemde feite en rekords wat jou inlei in die seksie.

Die seksies is as volg: die ontstaan van die aarde, die planteryk, die diereryk, diere se lewens en natuurrampe. Die kleurryke illustrasies maak die boek nog beter.

Hier is ‘n interessante feit oor die planteryk. Het jy geweet die kasterolieplant dra klein rooi saadjies wat ‘n gif, ricin, bevat en dat daar geen teengif daarvoor is nie? En, die enorme dubbele kokosneute van palmbome wat in Seychelle groei (coco de mer), neem tien jaar om te ontwikkel en weeg tot 23 kg.

Dis ‘n baie leersame boek en eindig met drie speletjies waarmee jy jou kennis kan toets van dit wat jy in die boek gelees het. Geskik vir kinders vanaf tien jaar en ouer. – JvdB

 Jungle Beat raak wild

Jungle Beat raak wild, Brent Dawes (Pearson Education, R99.95)

ʼn Oulike, eg Afrikaanse storieboek net vir kinders. Die snaakse diere se avonture en manewales asook die volkleur illustrasies vermaak die kleinspan terwyl hulle opgewonde sal soek vir die versteekte verkleurmannetjie. Raai watter kleur is hy aan die einde van die boek?

Werklike omgewings soos die Magaliesberg en Hartbeespoortdam, die Nasionale Kruger Wildtuin, Namakwaland, Ballito en Bloukransrivier skep die kans om speel-speel te leer soos hulle wegraak in die bisarre stories. Saam met die diere-karakters reis hulle deur Suid-Afrika en ervaar die pragtigste plekke.

Stories soos Mier se avonture sal kleingoed vir ure besig hou met agt verskillende eindes en hulle sal leer hoe lyk verskillende diere se spore sonder om dit agter te kom! Ingesluit: ʼn DVD met vier ekstra episodes. – JvdB

  • Dwergie

    dis nie waarvoor ek gaan soek het nie ek het gaan soek oor die feite van die planteryk