the_last_rhinos
Lewe + Liefdes

Top-5-boeke: Oor diere en hul maniere

Dink maar terug aan die kere dat daar ’n storie oor die lot van diere op TV-nuus verskyn het – soos die keer tydens die Irak-oorlog in 2003 toe diere in Bagdad se dieretuin sonder kos en water aan hul eie lot oorgelaat is. Wêreldwyd het mense op dié storie gereageer. Lawrence Anthony, ’n natuurbewaarder van Suid-Afrika, het ’n reddingspoging van stapel gestuur en so internasionaal bekend geraak as kampvegter vir diereregte.

Oscar is ’n hond wat van ’n gewisse dood deur Joanne Lefson gered is nadat sy hom by ’n diereskut gesien het. Die brakkie het saam met sy nuwe baas ’n reis om die wêreld onderneem en oral ’n bewustheid vir diereregte geskep. Oscar het tydens sy reis selfs ’n blog gehad en na afloop daarvan sy stories in ’n boek vertel.

So kan ek nog baie stories vertel oor hoe diere ’n impak op die mens maak, en natuurlik andersom ook. Met dié gedagte het ek vandeesweek ’n klomp boeke oor diere en mense gekies. Party daarvan is ernstig en ander minder ernstig!

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

 

The Last Rhinos, Lawrence Anthony en Graham Spence (Sidgwick & Jackson, R195)

Die situasie oor renosters in Afrika is kritiek en daar gaan nie ’n enkele dag verby wat daar nie een of ander nuusberig is oor nog ’n renoster wat afgemaai is vir sy horing nie. In hierdie boek vertel Lawrence Anthony van die lot van die laaste witrenosters in die Garamba Nasionale Park in die Demokratiese Republiek van die Kongo en hoe hy ’n reddingspoging van stapel gestuur het om die renosters te probeer red. Dis uiteraard amper ’n onbegonne taak, want die land is in ’n burgeroorlog gedompel en die nasionale park is in ’n strook wat deur die rebellegroep, die Lord’s Resistance Army, beheer word. Anthony word in ’n web van onderhandelinge tussen verskeie partye ingesleep en dis ’n onsekere saak of enigiemand sal hou by besluite wat geneem is.

Tussendeur vertel hy ook die storie van alles wat op sy wildplaas, Thula Thula in KwaZulu-Natal, aan die gebeur is – die lot van sy enigste oorblywende renoster wat wees grootgeword het. Dan sorg die trop olifante wat daar hervestig is vir verskeie avonture. Dis ’n onderhoudende, dog ontstellende vertelling en jy is saam met die skrywer platgeslaan as hy nie die renosters in Garamba kan red nie. Sy geliefde renoster op Thula Thula word boonop deur wilddiewe doodgemaak vir haar horings. Lawrence Anthony was een van die grotes in bewaringskringe wêreldwyd en dis hartseer dat hy in Maart vanjaar aan ’n hartaanval gesterf het. Suid-Afrika en die wêreld is vandag baie armer. Sy vorige boeke is The Elephant Whisperer en Babylon’s Ark. – Phyllis Green

 The Snow Geese The Snow Geese, William Fiennes (Picador, R139)
Ná ’n lang en ernstige siekbed besluit William Fiennes om die migrasie van die sneeuganse van Texas na hul Arktiese broeiplek te volg. Paul Gallico se boek The Snow Goose, wat hy in sy kinderjare gelees het, dien as inspirasie.

Hierdie nie-fiksieboek vertel van sy reis deur Amerika, die karakters wat hy op sy pad ontmoet en pragtige beskrywings van die voëls en die omgewing. Jy leer ook meer oor hoekom voëls die drang het om elke jaar te migreer.

Dis gou duidelik dit gaan hier meer oor die reis as oor die uiteindelike bestemming. Hoewel hy opgewonde is oor die projek, knaag daar in hom ’n verlange na sy ouerhuis en alles wat bekend is. Dit is ’n boek oor selfontdekking, en die mense en gebeure wat hom help om by hierdie punt uit te kom. – Liesel Pienaar

 Beyond The Wild Wood Beyond the Wild Wood, Bookey Peek en Richard Peek (Penguin Books, R126,95)

Ratels is een van ons minder bekende roofdiere. Peek vertel van die plesiere en probleme wat opduik as jy ’n ratel hans grootmaak. Badger word nie as ’n troeteldier grootgemaak nie en die idee is dat hy eendag vir homself sal moet sorg in die wildernis. Jy leer ratels beter ken en besef dat hulle hoogs intelligente diere is. Sy vertel van hoe hy slange, skerpioene en bye baasraak. Ons sien hoe Badger opgroei en ’n volwasse ratel word.

Daar is heelwat humor, maar ook ’n paar trane in Badger se avonture. Badger kruip in jou hart en jy kan nie help om vir hom lief te raak nie. Richard en Bookey Peek is professionele safari-gidse op ’n wildsplaas in Zimbabwe se Matobo-heuwels. Peek gee ook heelwat agtergrond oor die algemene leefwyse en gebeure op ’n wildplaas in die hedendaagse Zimbabwe. Dié gebeure wissel van heksery tot grondbesettings. Die boek, die derde in die Stone Hill-reeks, is met talle kleurfoto’s geïllustreer. – Gert Venter

 If Only They Could Talk If Only They Could Talk, James Herriot (Pan Books, R105)

In die boek vertel Herriot van sy wedervaringe as jong en onervare veearts in die 1930’s op die Engelse platteland. Hy aanvaar sy eerste vennootskap by Siegfried Farnon in Darrowby, Yorkshire. Hier leer hy wat dit beteken om ’n veearts op die Engelse platteland te wees. Ons ontmoet verskeie eksentrieke en interessante karakters.

Die vertellings wissel van skreeusnaaks tot hartseer. Almal wat al ’n troeteldier gehad het, sal die boek geniet. Die eerste uitgawe van dié reeds klassieke boek het in 1970 verskyn en dis ’n voorreg om ’n herdruk daarvan te kry. Ek voel dit moet verpligte leesstof vir alle voornemende veeartse wees. Herriot het in Glasgow grootgeword en daar as veearts gekwalifiseer. Hy begin sy loopbaan as veearts in Noord-Yorkshire en werk daar tot sy afsterwe in 1995. Die boek is die eerste in ’n reeks oor sy lewe as veearts en ek hoop dat die ander titels in die reeks ook ’n herdruk sal beleef. – Gert Venter

 Bats Sing, Mice Giggle Bats sing, mice giggle, Karen Shanor en Jagmeet Kanwal (Icon Books, R184,95)

Dié versameling vreemde feite oor diere, hul sintuie, kommunikasievorme en eienaardige vermoëns is geskryf deur ’n neuropsigoloog en ’n neuro-etoloog. Van salamanders met regeneratiewe breine en moddervisse wat deur hul velle proe, tot paddatjies wat elke winter vries en spinnekoppe wat trans-oseaniese vlugte onderneem. Dit ontbreek aan die gemaklike skryfstyl en diepte van boeke deur bv. Lyall Watson, Bill Bryson of Steve Jones en soms lees dit soos ’n teksboek eerder as populêre wetenskap. Nietemin ’n interessante boek om so nou en dan jou neus in te steek as jy weer wonder oor die vlug van vlermuise of die maagdelike geboortes van plantluise. – Ilse van Staden

 Dierestories vir Slaaptyd Diererestories vir slaaptyd, Georgie Adams en Atsuko Morozumi (Human & Rousseau, R130)

Die boekie lees maklik en die pragtige kleurvolle illustrasies nooi jou in die stories in. My dogtertjie van 8 het dit so geniet dat sy later met die diere in die boekie gepraat het. Daar is vier dierestories en vier prentestories waar jy jou eie stories kan opmaak. ’n Pretmanier om kinders se verbeelding te ontwikkel.

Sebra soek ’n nuwe huis, maar weet nie waar om te bou nie. Op die heuwel waai die wind hom weg; by die see stroom die water by sy huis in; in die woestyn is dit te warm. In die oerwoud raas dit te veel. Sebra kry ’n nuwe plan. Hy bou sy huis op wiele sodat hy enige plek kan bly.

Spikkel Spokkel Hen wil hê alles moet net reg wees. Sy soek die perfekte plek om haar eiers te lê. Sy lê ’n eier by die appelboom, onder die kruiwa, in die blombedding, in ’n ou hoed, maar nie een eier broei uit nie. Wat is dan fout? Sy besluit die perfekte plek is in haar hoenderhuis. Sy broei haar eiers warm. Ná ’n paar dae hoor sy ’n getik en ’n eier kraak oop. Dan sien sy ’n klein bekkie, klein koppie, klein lyfie …

Boer Beer vat kool mark toe in sy rooi bakkie. Hy ry vinnig en toeter vir die diere op die plaas. Die diere waarsku hom om nie so te jaag nie. Te laat! Boer Beer het tot in die rivier gejaag. Gou maak die plaasdiere ’n plan. Boer Beer, perd, vark, skaap, hond, kat en die otters help om die bakkie uit te trek. Maar die kool dryf nog in die rivier. Die otters gooi die kool vir die plaasdiere en gou is die bakkie weer vol kool, gereed om mark toe te gaan. Boer Beer bring ’n verrassing van die mark af.

Potjierol, die hondjie, is ontevrede met homself. Sy ma stuur hom slaghuis toe. Streepkat vertel hom dat hy ’n baie mooi stert het, Hasie-Hop hou van sy ore en die slagter vertel hom hy het sterk pote. Hulle waarsku hom teen die rooi jakkals. Potjierol kies kortpad, maar loop hom vas in die honger rooi jakkals. Jakkals dink hy is ’n oulike hondjie met ’n lekker vet pens, net reg vir opvreet. Hy spring op hom, maar potjierol val en rol en rol en rol tot onder.  Hy rol so vinnig dat jakkals hom nie kan vang nie. – Ronel en Carla Taljaard