a_game_of_sorrows
Lewe + Liefdes

Top-5: Oor raaisels, moorde en misterie

Spanningsverhale is die genre wat wêreldwyd die meeste groei toon. Selfs hier in Suid-Afrika is daar ‘n klomp skrywers wat sulke verhale skryf. Dink maar aan Deon Meyer, wat internasionaal bekend is. Daar is Margie Orford, Karin Brynard, Jassy Mackenzie, Sifiso Mzobe, Mike Nicol, Chris Karsten, Wessel Ebersohn, Piet Steyn en nog baie ander. Dan het ek nog nie eers begin met die internasionale skrywers nie. Hier is name soos Stephen King, J.D. Robb, James Patterson, Belinda Bauer, Wilbur Smith, Jonathan en Faye Kellerman, John Grisham, Philip Kerr, Stieg Larsson, Jo Nesbo, Michael Connolly en Liza Marklund. Dis maar net ‘n paartjies. Jy moet maar jou eie gunstelinge hierby voeg.

Ek is self lief om ‘n moord- of spanningsvolle verhaal te lees. En dit maak nie eintlik vir my saak of dit literêre waarde het of nie. As ‘n boek boeiend genoeg is, lees ek sommer deur die nag. Ek lees vir die lekker en om vermaak te word. Dit kry hierdie genre altyd reg. Soms wonder ek oor my voorliefde vir die soort verhale. Wat maak dat ek dit opslurp? Is dit nuuskierigheid, bloedlustigheid of verligting dat dit nie in my lewe so gaan nie? Nou ja, hier is vyf waaruit julle kan kies.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.

A game of sorrows, Shona MacLean (Quercus, R114,95)

‘n Keltiese historiese raaisel wat deur sommige kritici gelykgestel word aan Hilary Mantel se ‘Wolf Hall’.

Alexander Seaton se vele verhoudings het hom sy werk gekos, en hy begin oor as dosent by ‘n universiteit in Aberdeen. ‘n Vreemdeling word deur Seaton se familie in Ierland gestuur om hom te oorreed om ‘n vloek van die familie se naam af te kry.

Hy reis na Ulster, waar hy die uitspreker van die vloek probeer kry, maar in die proses raak Seaton betrokke by albei kante van die konflik. Sy eie lewe word bedreig, en eindelik wonder hy oor sy eie identiteit. Seaton moet uiteindelik die vernietigende krag van liefde in die oë kyk. ‘n Verslawende boek wat nie neergesit kan word nie. – Mariette Postma

 Margie Orford  

Daddy’s Girl, Margie Orford (Jonathan Ball, R130)

Hierdie is gewis nie ’n verhaal wat toeriste na ons Moederstad sal lok nie – Daddy’s Girl (Orford se derde boek met Clare Hart as protagonis) beskryf in grusame detail die aksies van bendeleiers wat oor die Kaapse Vlakte heers.

Die skending en moord van jong meisies is alledaagse praktyk vir boosdoeners wat by ’n bende wil aansluit, en hierdie keer verdwyn die sesjarige dogter van kaptein Riedwaan Faizal, lid van ’n elite-taakmag gemoeid met bendemisdaad. Yasmin raak een aand na balletklas soek en Shazia, haar ma en Riedwaan se gewese vrou, beskuldig hom; sy glo hy sit agter Yasmin se ontvoering in ’n poging om hulle emigrasie na Kanada te dwarsboom. Riedwaan versoek Clare se hulp, maar in die proses om sy onskuld te bewys, krap hulle ’n miernes van dwelmhandel en prostitusie, sowel as vergrype binne die misdaadeenheid oop.

Orford se joernalistieke agtergrond kom duidelik na vore in haar saaklike skryftrant: Sy ondersteun die verweefde storielyn met bondige dialoog en ’n blitsvinnige pas. Aanhangers van speurverhale in die Amerikaanse tradisie sal hierdie roman geniet, tog verdien haar gebruik van Afrikaanse frases meer aandag (onder die sowat tagtig voorbeelde in Daddy’s Girl is daar vyftien spel- en taalfoute te vinde).  – Emsie Viljoen

Fever of the Bone   

Fever of the Bone, Val McDermid (Little Brown; Penguin Group SA, R190)

Kliniese sielkundige Tony Hill word betrek by sy vreemdste saak nog. Tieners is die teiken van ‘n reeksmoordenaar. Oënskynlik is daar geen konneksie tussen die kinders nie. Die moordenaar teiken hulle via die internet. Hy maak kontak met hulle deur ‘n tienerwebbladsy. Hy gee voor dat hy hulle belangstellings deel en dan lok hy hulle na hul dood. Tony het die afleiding van sy werk nodig, want hy spook met sy eie duiwels. Sy pa, wat hy nooit geken het nie, laat vir hom ‘n boot en ‘n huis na. Vanessa, sy ma, probeer hom oorreed om die erfporsie aan haar oor te teken, alhoewel sy niks goeds te sê het oor sy pa nie. Wat is Vanessa se motiewe en wat is die waarheid oor haar en Tony se pa se verhouding? Kort voor lank besef Tony dat hy meer vrae as antwoorde het, beide in die ondersoek en in sy privaat lewe. ‘n Spannende verhaal vol verrassings. Gebaseer op die TV-reeks Wire in the Blood. – Karien Labuschagne

 Full Dark, No Stars  

Full Dark, No Stars, Stephen King (Hodder & Stoughton, R180)

Vier nuwe donker en soms ontstellende verhale van die meester van gruwel in een nuwe bundel.

In ’1922’ skryf ’n man hoe hy weggekom het met die moord op sy vrou. Hy voel slegs skuldig omdat hy hulle seun gemanipuleer het om hom daarmee te help. Sedert die moord loop niks in sy lewe reg nie en hy glo dis sy vermoorde vrou se manier om wraak te neem op hom.  

In ’Big Driver’ bied ’n skryfster ’n praatjie oor haar boeke aan in ’n naburige dorp. Op pad huis toe word sy aangeval en vir dood gelaat. In plaas van om die aanval te rapporteer, beplan sy wraak op haar aanvaller. In haar soeke maak sy egter ’n paar skokkende ontdekkings wat alles verander. 

In ’Fair Extension’ bied ’n ’verkoopsman’ vir Harry Skeeter,  wat sterwend aan kanker is, ’n verlenging van sy lewe aan. Dit kom egter teen ’n prys. Is hy bereid om dit te betaal en wat gaan die uitwerking daarvan op hom en die mense rondom hom wees?  

Daar is altyd geheime in enige huwelik soos ons uitvind in ’Good Marriage’. Die vraag is egter of jy bereid is om saam te leef met die geheime of gaan jy iets daaraan doen.

Stephen King bewys weer eens waarom hy een van die gewildste gruwelskrywers van ons tyd is. – Karien Labuschagne

 The Rembrandt Secret  

 

The Rembrandt Secret, Alex Connor (Quercus, R99,95)

The Rembrandt Secret is ‘n spanningsverhaal wat afspeel in die hoogste kunskringe in Europa en Amerika. Die verhaal wentel rondom briewe wat Geertjie Dircx, ‘n minnares van die skilder Rembrandt, klaarblyklik geskryf het. Die inhoud van die briewe kan die kunswêreld in chaos dompel. Versamelaars en kunshandelaars kan miljoene verloor. Is die briewe egter eg en wat gaan die persoon wat die briewe het daarmee maak? Die inhoud van die briewe moet ten alle koste geheim bly.

Die briewe beland in die besit van Marshall Zeigler. Hy is die seun van Owen Zeigler, ‘n kunshandelaar wat vermoor is weens die briewe. Marshall wil die briewe gebruik om sy pa se dood te wreek en so ook die breuk wat tussen hom en sy pa ontstaan het te vernou. Wie van sy pa se vorige werknemers, vriende en vennote kan egter vertrou word?

Conner gebruik werklike figure en insidente uit die verlede om ‘n fiktiewe verhaal te skep wat jou tot op die laaste bladsy sal boei. – Gert Venter