those_in_peril
Lewe + Liefdes

Top 5: Oor Wilbur Smith en kie.

Op ‘n onlangse besoek aan SA het die Australiese skrywer Michael Robotham gesê iets wat hy in die koerant raak lees, is baie keer die afskop van ‘n nuwe spanningsverhaal vir hom. Hy is van mening dat Suid-Afrikaanse skrywers van spanningsverhale ‘n onuitputbare bron in ons koerante het! Elke dag is daar soveel goed wat gebeur wat vir hulle die beginpunt vir ‘n verhaal kan wees. Ek is seker hy is nie die enigste skrywer wat inspirasie uit harde nuusgebeure van die wêreld put nie. Kyk nou maar na wat Alida Vos hieronder sê oor Wilbur Smith se boek Those in Peril. Wilbur lyk of hy beslis byhou met wat aktueel is. So ook is daar die week ‘n verhaal oor ‘n rekenaar-simulasie wat so realisties raak dat dit die wêreld bedreig! Hoop julle vind in hierdie keuse ‘n spanningsverhaal wat in jul smaak val.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel. 

Those in Peril, Wilbur Smith (MacMillan, R240)
Aksie, spanning, brutale verkragtings, mooi, ryk vroue en viriele, sterk mans is al jare deel van Wilbur Smith se wenresep. In Those in Peril verloop dinge nie anders nie, maar  hierdie keer het ons met moderne seerowers te doen, wat ‘n jong meisie gevange neem en ‘n losprys van miljoene eis. Die seerowers is fanatiese militante Moslems en die meisie ‘n dogter van ‘n oliemagnaat, hoe dan anders!
 Een van die redes waarom Smith se aanhangers, volgens my, nie wegloop na groener weivelde nie is juis omdat hy bybly met dit wat in die wêreld aangaan en wêreldgebeure en plekke in die nuus (soos seerowery om die Afrika-kus waaarvan ons deesdae telkens hoor) deel word van sy boeke.
Die storie draai om Hazel Bannock van die Bannock Oil Corporation en haar doger Cayla.  Laasgenoemde word op see gekaap terwyl haar ma die maatskappy se olievelde besoek. Pa Bannock is nie meer met ons nie en ma Hazel word genoodsaak om Hector Cross van Cross Bow Security te vra om Cayla te ontset. Alles baie voorspelbaar, veral nadat Smith met die nodige nuanses Hazel en Cross se belangstelling in mekaar met die leser gedeel het. Jy weet sommer van die begin af dat hierdie twee mense se samewerking tot in die slaapkamer sal volg. 
En tog lees jy verder? Ja, want Smith se seerowers het etlike gruwelplanne wat cowboy Cross te bowe moet kom dat jy eintlik nie anders kan as om verder te lees om vas te stel wat hy alles gaan doen nie. Soms oorval die lus jou om hier en daar blitsvinnig oor die lang beskrywings te glip sodat jy kan sien wat gebeur op die volgende blad.
Die aksie beweeg van die olievelde na skepe en weer terug na die woestyn met hier en daar ‘n draai in die Weste (Amerika). Die pas is tipies Smith – vinnig en die sekstonele amper ‘n handleiding vir oningeligtes. Seker ook een van die redes vir Wilbur se gewildheid.
Sy aanhangers sal dit verseker koop en lekker lees en Wilbur-passiewes sal net die voorblad en flapteks lees sodat hulle kan saampraat. – Alida Vos.

Blue Moon 

Blue Moon. The Immortals, Alyson Noël (Pan Macmillan, R105)

Dit is die tweede boek in die Immortals-reeks. Ever is ’n jong meisie wat onlangs eers een van die immortals geword het. Sy kan die aura’s van mense sien. Sy word bygestaan deur Damen wat haar help om haar magte te ontwikkel. Soos haar magte toeneem, neem Damen s’n af. Sy is bang dat sy hom nie kan help nie en dat sy hom gaan verloor. Sy gaan sien ’n waarsegster en saam ontdek hulle toevallig ’n pad na Summerland. Summerland is ’n wêreld waar enigiets moontlik is tussen die aarde en die hiernamaals, waarheen die ’immortals’ enige tyd kan gaan as hulle kragte ten volle ontwikkel is (wat Ever s’n nie is nie) en ook nie toeganklik is vir ’mortals’ nie.  In Summerland ontdek Ever dat sy die vermoë het om tyd te verdraai. Nou kan sy haar familie red (wat in die eerste boek in ’n motorongeluk gesterf het) of sy kan Damen se lewe red. Beide opsies kom egter teen ’n prys. Wat sal sy besluit en watter prys moet sy daarvoor betaal? Lees eers die eerste boek (Evermore) in die reeks voor jy dié een lees. Dis moeilik om die storielyn te volg sonder die agtergond van die eerste boek. Andersins ’n aangename spanningsverhaal wat aanbeveel kan word vir enige tiener.  – Karien Labuschagne

 Sworn to Silence

Sworn to Silence, Linda Castillo (Pan Books, R115)

Painters Mill is ‘n klein, rustige plattelandse dorpie. Sestien jaar gelede is die dorp geruk deur ‘n reeks wrede moorde. ‘n Jong Amiese meisie, Kate Burkholder, besef sy hoort nie in die Amiese gemeenskap nie, nadat sy byna ook ‘n slagoffer word. Nou is Kate terug in Painters Mill as polisiehoof. Een yskoue nag word die lyk van ‘n jong meisie in die sneeu gevind. Daar is romeinse syfers in haar maag gekerf. Die moorde herinner sterk aan soortgelyke moorde sestien jaar gelede. Almal is oortuig dat die moordenaar terug is, alhoewel Kate skepties is. ‘n Taakspan bestaande uit verskeie polisie-afdelings word saamgestel met Kate in bevel daarvan. Kort voor lank word haar bevoegdheid bevraagteken en haar mag word ondermyn deur lede in haar span. Haar verlede spook by haar en sy besef sy sal die moordenaar moet vastrek voor sy dalk die volgende slagoffer word. ‘n Verrassende, spanningsvolle moordverhaal. – Karien Labuschagne

 The Demi-Monde

The Demi-Monde: Winter, Rod Rees (Quercus, R184,95)
Demi-monde is ‘n gesofistikeerde rekenaar-simulasie wat deur die Amerikaanse weermag ontwikkel is. Die simulasie word beheer deur ‘n superrekenaar. Wat Demi-Monde uniek maak, is dat die ontwikkelaars daarvan daarin geslaag het om genetiese materiaal te inkorporeer in die program. Dit veroorsaak dat die karakters uiters realisties is en die program is ook meer onvoorspelbaar. Daar is sowat 30 miljoen ‘inwoners’ in Demi-Monde, wat in vyf sektore verdeel is. Die sektore is in permanente konflik met mekaar en elk word beheer deur ‘n leier, wat gegrond is op diktators uit die geskiedenis. Die leiers sluit in: Ivan the Terrible, King Henry VIII en Reinhard Heydrich (die argitek van die holocaust). Dit alles net om soldate op te lei in moderne oorlogvoering. Maar dan loop dinge verkeerd. Die dogter van die Amerikaanse president word vasgevang in die simulasie. Ella Thomas word genader om haar te red. Ella stem teensinnig, in maar besef bitter vining alles is nie pluis in die simulasie nie. Die simulasie het ‘n lewe van sy eie aangeneem en niemand kan meer voorspel wat in Demi-Monde gaan gebeur nie. Alhoewel dit aanvanklik moeilik is om in die storie te kom, is dit ‘n boeiende boek wat skrikwekkend is, as die mens wel gaan regkry om te doen wat in die boek beskryf word.  – Karien Labuschagne

 Every Last One

Every last one, Anna Quindlen (Hutchinson, R215)
Anna Quindlen is meer soos ‘n skilderkunstenaar as ‘n skrywer. Haar verhaal word in peinsende detail vertel en sy kry dit reg om selfs die mees doodgewone dag-tot-dag-lewe van ‘n gesin te vertel op ‘n ryk en kleurryke manier.
Mary Beth is ‘n doodgewone vrou wat haar take as ma en vrou bo enigiets anders ag. Haar kinders en man is haar alles en sy gee haarself ten volle om na hulle om te sien. Haar lewe is alledaags en gevul met die gewone beproewinge van ma-wees, maar dit alles verdwyn toe Mary Beth en haar gesin se lewe een aand onherroeplik verander word deur ‘n grusame daad van geweld.
Every last one is ‘n boek wat moeilik is om neer te sit as mens dit eers begin lees het. Die detail waarmee Mary Beth se lewe geskilder word, is aangrypend en maak die boek ‘n baie lekker lees! Wees gewaarsku, as jy eers begin lees, kan dit ‘n lang nag word. – Marick Hornsveld