gesprekke_met_merkwaardige_mense
Lewe + Liefdes

Top-5: Rubrieke en onderhoude

Ek maak vir die volgende paar weke voorstelle van boeke wat as geskenke gegee kan word. Hierdie week het ek ‘n klompie gekies waarin rubrieke of onderhoude wat in koerante verskyn het in boekvorm saamgestel is. Dis die ideale geskenk vir iemand wat hou van koerant lees. Wat die boeke lekker maak, is dat jy dit stuk-stuk kan lees, juis omdat dit nie een lang verhaal is nie.

Onthou om ons elektroniese winkel op kalahari.com te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.

Gesprekke met merkwaardige mense, Murray La Vita (Tafelberg, R150)

Kerneels Breytenbach sê in die voorwoord: ”Wat Murray La Vita se onderhoude so besonder goed maak, is die sigbare empatie wat hy met elke onderwerp opbou, en die fyn waarneming van milieu.” En: “Mens lees sy onderhoude nie net vir dit wat die mense sê nie, maar ook vir dit wat nié gesê word nie.” Die boek word ingedeel in onderhoude oor Taalmense, Mense van die Teater, Musiekmense, Aktiviste en Meningsvormers, Kunstenaars en Kosmense. Dis ‘n klomp uiteenlopende mense met wie La Vita gesels het. Hier is ‘n paar van die name: Hennie Aucamp, Joan Hambidge, Dana Snyman, Fanus Rautenbach, Tobie Cronjé, David Kramer, Desmond Tutu, Helen Suzman, Errol Arendz, Fred Mouton, Cass Abrahams en Topsi Venter. Mens kan nie La Vita se skryfstyl beskryf nie, jy moet dit ervaar terwyl jy lees. ‘n Heerlike bundel onderhoude.

Hanlie Retief gesels met

Hanlie Retief gesels met, Hanlie Retief (Protea Boekhuis, R180)

Alle lesers van Rapport sal dié skrywer ken. Weekliks skryf sy ‘n skerp en op-die-man-af-onderhoud. Sy het ‘n manier om ‘n vraag te vra sodat die persoon met wie sy praat nie anders kan as om maar te moet praat nie. Hanlie het 50 van haar prikkelendste onderhoude van die afgelope 20 jaar gekies. Van die mense met wie sy gesels, is: Chris Barnard, Karen Zoid, Steve Hofmeyr, Louis Luyt, Piet Koornhof, Piet Byleveld, Pik Botha, Kurt Darren, Zelda la Grange, Vernon Koekemoer, Dozi, Mike Bolhuis, Peter de Villiers en Annelie Botes. In die voorwoord word gesê: “Profiele het die afgelope dekade of twee ‘n vaste instelling in baie koerante en tydskrifte geword en in die Afrikaanse media bevind Hanlie Retief haar onder ‘n hand vol baie begaafde profielskrywers, wat almal week ná week die wese van mense in die nuus probeer vasvat. Was hierdie skrywers operasangers of akteurs, sou ‘n mens Hanlie dalk die diva of die grande dame onder hulle kon bestempel.”

Oor Bokdrolletjies en Rosyntjies  

Oor Bokdrolletjies en Rosyntjies, Jonathan Jansen (Bookstorm, R145)

Dié professor is ‘n bekende naam wat gereeld in die nuus opduik. Nie net weens die Reitz-vier nie, maar ook vir sy uitsprake oor baie van die opvoedkundige kwessies wat ons land in die oë staar. Sy rubrieke verskyn die afgelope jare in Afrikaanse koerante en het gou baie gewild geword. Hy skroom nie om ‘n mening uit te spreek nie en soms is van sy uitsprake gehul in omstredenheid – natuurlik heerlike leesstof! Een van die rubrieke se titel is “Presies hoe lyk ‘n ware Afrikaan?” waarin hy sê: ”Tien jaar later sukkel ons as Suid-Afrikaners steeds om te besluit wie ons is.” Dan beskryf hy sy irritasie met die feit dat alles wat van Afrika kom “outentiek uit Afrika” is en dat “Ons behoort vrede te maak met die feit dat die Europese invloed op Suid-Afrika onteenseglik deel uitmaak van dit wat ons sulke ryk, diverse en unieke Afrikane maak.” Die rubrieke lees jy vir insig, ontspanning en om soms ‘n debat te ontketen aan ‘n eettafel!

Spitstyd  

Spitstyd, uitgesoekte rubrieke, Wilhelm Jordaan (Litera, R154)

Wilhelm Jordaan se rubrieke verskyn al sedert die tagtigerjare in Beeld en Die Burger. Hierdie boek bevat ‘n magdom van sy rubrieke en dis ‘n versameling woorde wat jou telkens laat dink oor die lewe en sy mense en hul lot. En van die onderwerpe wat hy aanraak, is onderwerpe wat ons almal raak. Hy praat oor ‘n gebrek aan waardes in die samelewing, ons bangheid, vryheidsliedere, ego’s, en geloof en nog vele ander onderwerpe. Wat maak sy rubrieke die moeite werd om te lees? Joan Hambidge sê in die voorwoord: ”Sy verstommende belesenheid maak van elke rubriek ‘n gebeurtenis. Die glimlaggende man verskuil agter ‘n bril is iets wat in ons dagblaaie ‘n waarmerk is van gehalte. . . . Hy vertolk ons vrese, wanhoop, ontnugtering en hoop. Hy kyk vorentoe en agtertoe.” En “Hy skryf as ‘n lewenswyse mens wat konflik wil uitskakel. Hy bemiddel, hy verduidelik, hy gee raad. Hy is ín sy rubrieke, ja, maar nooit opdringerig of aanmatigend nie. Hy is die een rubriekskrywer wat ‘n ‘voice of reason’ oordra.”

The Whipping Boy  

The Whipping Boy, Ben Trovato (Penguin Books, R127)

Hierdie is die skrywer se tiende boek en bestaan uit sy rubrieke in die Sunday Times, ope briewe en geskrewe aansoeke om werk. Ben Trovato, ‘n Italiaanse uitdrukking beteken: Appropriate even if untrue; happily invented: a story that is ben trovato. Dis presies wie Ben Trovato is, die deeltydse joernalis en voltydse beleidsanalis (policy analyst) se identiteit is geheim. Hy skryf reeds van 2008 ‘n rubriek vir die koerant en sy aanslag is satiries en vol humor. Hy lewer sosiale kommentaar op elke aspek van die samelewing en spesifiek oor die politiek wat ‘n groot invloed het op die samelewing. Dis moeilik om te verduidelik wat hierdie skrywer se rubrieke so vermaaklik maak. Dis nie die woorde wat hy kies nie, maar hoe hy dit inspan om ‘n prentjie in die leser se kop te skep. En dis hierdie prentjies wat jou so lekker kan laat lag oor die sotlikhede wat soms in ons ou landjie aangaan.