Lewe + Liefdes

Top-5: Van alles en nog wat

Ek het letterlik in my boekkas gaan kyk na alles en nog wat, juis omdat daar mense is wat belangstel in alles en nog wat! Soms soek ‘n mens ook na ‘n boek wat jy sommer net wil deurblaai of hier en daar iets lees. As jy soos ek is, dan lê daar gewoonlik so ‘n hopie van daai soort boeke langs jou bed. Ek word dikwels in die middel van die nag wakker en dan moet ek eers ietsie lees, voordat Klaas Vakie weer sy werk doen. Ek wil dan nie ‘n lekker storieboek nader trek nie. Die kanse is goed dat ek glad nie by slaap gaan uitkom nie. Dan is dit goed om jou hand op so ‘n rondblaaiboek te lê. Net interessant genoeg en kort genoeg om my kop weer rustig te maak. Ek hoop hierdie week se keuse val in jou smaak.

Onthou om ons elektroniese winkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

Sê weer?, Yvonne Beyers en Willem Kempen (Kwela Boeke, R135)

In hierdie boek kyk die skrywers na hoe ons dit wat in Suid-Afrika in 2011 gebeur het, gaan onthou. Die woorde wat Suid-Afrikaners kwytgeraak het, gee soms ‘n amusante kykie en ander kere weer ‘n ernstige kykie en dan weer ‘n briesende kykie na ons ou landjie en sy dinge. Wie word aangehaal? Steve Hofmeyr, Julius Malema, Patricia de Lille, Helen Zille, Charlene Wittstock, Fanie de Villiers en nog ‘n swetterjoel bekendes. Maar daar is ook aanhalings van gewone mense wat lesers van tydskrifte en koerante is. Hier is ‘n paar van my gunstelinge:

“Suid-Afrika is seker die enigste land ter wêreld wat onkunde onder politieke leiers vooropstel.” – Prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat.

“Suid-Afrika is nie die wondernasie van 1994 nie, maar die land val nie uitmekaar nie.” –  J.P. Landman, ekonomiese ontleder in Sake24.

Ek is seker elkeen wat die boek lees, sal sy gunsteling-aanhalings kan kies. Dit gaan bepaal word deur watter onderwerp jou passie is – politiek, skurke en skandale, sport of sports!

 Decade

Decade, McCabe en McNamee (Phaidon, R369,95)

Dit is altyd interessant om terug te kyk na hoe dinge in die wêreld verloop het. Hierdie boek gee ‘n oorsig oor alles wat van 2000 tot 2010 gebeur het. Ek kan amper nie glo dat die terroriste-aanvalle in Amerika op 11/9 al tien jaar gelede plaasgevind het nie. Elke jaar se groot en interessante gebeure word in foto’s hier weergegee. Daar word gekyk na politiek, kuns, die ekonomie en die wetenskap en ook na ongewone gebeurtenisse wat wêreldwyd aandag getrek het. Ek kan dink dit moet vir die samestellers amper ‘n onbegonne taak wees om te besluit wat moet in en wat moet uit in só ‘n boek. Daar is dan soveel goed wat gebeur. Dis ‘n boek wat jou herinneringe laat oproep uit die onlangse verlede en net weer laat besef dat die mens soms ongekende krag van êrens vind om terugslae te bowe te kom. Die ideale geskenk vir iemand wat hou van moderne wêreldgeskiedenis.

 Days that changed the world

Days that changed the world, Hywel Williams (Quercus, R129,95)

Geskiedenis kan soms ‘n baie vervelige onderwerp wees, maar as jy hierdie boek onder oë kry, raak dit meer van ‘n meesleurende verhaal. Hierin word 50 dae beskryf van gebeure (besonder uiteenlopend) wat die geskiedenis van die wêreld beïnvloed het. Dit skop af met die Slag van Salamis wat 480 vC plaasgevind het en eindig by die aanvalle in Amerika op 9 September 2001. Ek kan dink dat die uitkoms van oorloë, veldslae en terroriste-aanvalle en sluipmoorde die geskiedenis daadwerklik in ‘n ander rigting gestuur het. Maar wat my interesseer, is dat die skrywer iets soos “5 June 1661 Isaac Newton Matriculates at Cambridge University” insluit. Ek het onmiddellik gaan lees waarom. Williams sê Newton het ‘n nuwe wetenskap tot stand gebring, want sy bevindings oor gravitasie en beweging het die wetenskaplike en algemene sieninge oor die fisieke wêreld verander. Suid-Afrika vorm ook deel van die geskiedenis in hierdie boek, met die vrylating van Nelson Mandela op 11 Februarie 1990. ‘n Insiggewende en onderhoudende manier om na wêreldgeskiedenis te kyk.

 The ultimate book of heroic failures

The ultimate book of heroic failures, Stephen Pile (Faber & Faber, R195)

Dit kos ‘n fyn en pittige humorsin om goed só te beskryf dat jy nie anders kan as om te glimlag nie. En dis presies wat die skrywer van hierdie boek so goed doen, met “understatement”. Hy begin met ‘n aanhaling deur Max Beerbohm wat sê: “There is much to be said for failure. It is more interesting than success.” Inderdaad is dit ook so. Hoe dikwels het iemand se volslae mislukking van iets al die hoofnuus wêreldwyd gehaal. Almal van ons wil graag suksesvol wees, maar ongelukkig gaan meeste van ons ook een of ander tyd in ons lewe ‘n ou foutjie begaan of liederlik misluk met iets wat ons aanpak. Hy beskryf hier insidente uit verskillende fasette van die lewe en al wat ek kan sê, is dat ek ontsaglik dankbaar is ek was nie betrokke by een nie. Nog nie! Nou ja, soos Pile sê: “Success is overrated.” Pile deel die mislukkings in verskillende kategorieë in. Hier is maar ‘n paar: New World Records; Taking the Initiative; The Show Must Go On; Working with Animals en Using the Latest Technology. Dis ‘n heerlike versameling vertellings wat lekker geselsies om die braavleisvuur kan oplewer.

* Die boek is deel van Exclusives se Wishlist.

 Dog walks man

Dog walks Man, John Zeaman (Hamlyn, R166,95)

Menige ouer is bekend met die volgende scenario: Sus en Daan smeek vir ’n hondjie, en sweer hoog en laag hulle sal Woefie versorg. Maar na ’n maand of wat is die nuutjie oor, en dan word Woef ma en pa se verantwoordelikheid.

En dis ook net wat met die skrywer gebeur; aanvanklik gaan stap hy met Pete omdat hy moet, maar algaande besef hy daar steek veel meer agter dié skynbaar ordinêre tydverdryf as wat hy vermoed het.

Zeaman se natuurlike skryfstyl en skerp sin vir humor maak hierdie vertelling ’n plesier om te lees; namate hy die onderlinge verband tussen individu en omgewing ontdek, lei dit hom tot ’n bepeinsing oor die fundamentele aspekte van menswees.

Dis verblydend wanneer ’n mens op ’n skrywer afkom wat insiggewende kommentaar oor netelige lewenskwessies kan lewer sonder om alwys, prekerig of neerbuigend te klink – dié is ongetwyfeld een van daardie boeke wat ’n mens meer as een keer sal wil lees. – Emsie Viljoen

 How to fossilise your hamster

How to Fossilise Your Hamster and other amazing experiments for the armchair scientist. (New Scientist, Profile Books, R114,95)

In How to fossilise your hamster word voorstelle gegee van eksperimente wat jy kan doen, en ingedeel in verskeie afdelings. Dit sluit in eksperimente wat jy in die sitkamer, kombuis, badkamer of tuin kan uitvoer. Die boek is vir oud en jonk en die eksperimente kan deur almal uitgevoer word. Sommige eksperimente moet maar eerder onder toesig van ‘n verantwoordelike persoon gedoen word. Elke eksperiment word ingedeel in: wat jy benodig, wat jy doen, wat gesien word en hoekom dit gebeur. Byvoorbeeld, een van die eksperimente is: Hoe drink blomme water? Om dit te toets het jy die volgende nodig: wit blomme, voedselkleursel (rooi of blou), water, skêr, deurskynende glasvaas en ‘n sonnige vensterbank. So maak jy: Sny die onderste deel van die blomstam af, sit dit in die water gemeng met die voedselkleursel. Daarna sit jy die vaas op die vensterbank. Wat jy sien, is oor ‘n tydperk van ‘n paar uur sal die blom van kleur verander. Daar word ook ‘n eenvoudige verduideliking gegee wat verduidelik hoe die blom die water opneem en hoekom.

 Do polar bears get lonely?

Do Polar Bears Get Lonely? and 101 other intriguing science questions.

NewScientist      Profile books (R134,95)

In Do polar bears get lonely, word vrae wat deur die publiek na New Scientist ingestuur is deur kenners beantwoord. Die boek word ook in afdelings ingedeel wat plante en diere, ons planeet, kos en die weer insluit. Een van die interessante vrae is: Hoe gebeur dit dat insekte soms gevind word waar hulle deurboor is deur die dorings van bome of op doringdraad? Is dit sterk winde wat die insekte kon gewaai het tot in die dorings? Die kenners antwoord dat dit uiters skaars sou wees dat wind verantwoordelik is, of dat die insek self in die dorings in kon gevlieg het. Dis eerder ‘n geval van die insekte is daar geplaas deur byvoorbeeld ‘n voël soos ‘n laksman.

Die twee boeke het die lig gesien omdat die mense by die weeklikse tydskrif, NewScientist gevoel het dit was tyd om die vrae wat oor die afgelope 15 jaar deur die publiek ingestuur is te beantwoord in boekvorm. Die twee boeke is vol feite en kan aanbeveel word vir almal, nie net vir kinders nie. – Karien Labuschagne

 

 Tracking the future

Tracking the future, Daniel Silke (Tafelberg, R180)

Silke voorspel die dekades tot 2050 gaan heel moontlik die mees dramatiese en potensieel veeleisendste vir die hele mensdom wees. Met bevolkingsgroei en demografiese skuiwe, tegnologiese innovasie, voedsel en ander kommoditeite tekorte en omgewingsuitdagings sal die mensdom toets soos nog nooit te vore nie. Die globale ekonomiese wêreld gaan verander en Afrika gaan ‘n fokuspunt word, want hier is nog markte wat kan ontwikkel word. Een van die groot probleme wat die toekoms gaan beïnvloed, is die toenemende rol wat China in teenstelling met die Weste in die wêreldmarkte gaan speel. Dis moeilik om ‘n kort opsomming te gee van die top-tendense wat Silke bespreek. Jy moet die boek lees om te sien hoe die tendense aansluit by mekaar en hoe die hele wêreld perspektief gaan verander. Ek is nie ‘n sake-joernalis nie, so ek kan net hierdie tipe boek lees as dit vir my in eenvoudige taal geskryf is met logiese argumente. Dit is hierdie boek beslis en dit gee nuwe insigte in hoe mens na die toekoms moet kyk en is nie daarop gemik om paniek te saai nie. Maar mens moet jou voorberei dat daar ‘n taai tyd voorlê.

 Dark market

Dark Market, Misha Glenny (The Bodley Head, R215)

Vandag se lewe is gekompliseerd en die misdaad nog meer so. Wat het geword van diewe wat jy kan sien? Al is dit ‘n traumatiese ervaring om beroof te word, ten minste kan jy jou aanvaller sien. Maar deesdae is daar ‘n nuwe tipe misdaad, met ‘n misdadiger wat jy nie eens sien nie. Ons almal gebruik rekenaars om te bank, om te koop, om te sosialiseer, om te leer – mens kan maar sê ons lewens het aanlyn geskuif. Maar hoe nou gemaak om jouself in hierdie digitale era veilig te hou. In hierdie boek word juis gekyk na die gevare van kubermisdaad, kuberoorlogvoering en kuber- industriële misdaad. Die skrywer het die wêreld vol getoer en het wyd onderhoude gevoer om agter die kap van die byl van hierdie nuwe tipe misdaad te kom. Hy beskryf ook hoe moeilik dit is om maatreëls te tref om te sorg dat hierdie tipe misdaad voorkom word. Dis ‘n fassinerende boek, wat mens eintlik bietjie benoud maak oor hoe weerloos jy is, want so ‘n groot deel van mens se lewe is deesdae in die kuberruim.

 Great moments in Currie cup history

Great Moments in Currie Cup History, Wim van der Berg (Penguin, R225,95)

Hierdie is ‘n lekker geskenk vir enigeen wat belangstel in rugby. Van der Berg begin deur te vertel waar Curriebeker-rugby begin het en hoe die formaat van die kompetisie verander het. Hierdie beker is vandag nog ‘n gesogte trofee wat elke span wat in die toernooi speel graag in sy trofeekas wil hê en daar word ‘n hele hoofstuk afgestaan hieraan. Een van die bekendste gesegdes oor hierdie toernooi kom van Naas Botha, wat gesê het die Curriebeker word nie in Mei gewen nie. En dit is inderdaad ook so! Elke provinsie se vertonings word beskryf en toegelig met interessante foto’s. Al die rekords en wenners van die beker word in die laaste hoofstuk gelys vir vinnige en maklike naslaan.

 Suid-Afrikaanse duikgids

Suid-Afrikaanse Duikgids, Al J Venter en John H Visser (Lapa, R285)

Hoekom duik mense? “Dis verslawend”, sê die skrywers in die inleiding en begin dan onmiddellik vertel wanneer hulle begin duik het en wat dit vir hulle beteken. Hulle beskryf die wonderwêreld onder die see en al die opwinding onder die water. Daar is interessante inligting oor haaie, walvisse, ander visse en seediere. Dan deel hulle ook die ervarings van ander duikers. Die duikbesienswaardighede vanaf  Hermanus tot die Wildekus, asook Mosambiek word beskryf. Die boek bevat heelwat foto’s wat dit visueel aantreklik maak. Dis in gemaklike verteltrant geskryf en boei dadelik. Die boek is ook beskikbaar in Engels as Dive South Africa. Hierdie boek is ‘n moet vir enige duikgeesdriftige se Kerskous.

 Gareth Cliff on everything

Gareth Cliff on Everything, Gareth Cliff *Jonathan Ball, R185)

Cliff is bekend vir sy omstrede uitlatings wat hy maak oor omtrent elke onderwerp onder die son. Of jy van hom hou of nie, wat jy moet onthou wanneer jy hierdie boek van hom lees – dis sy opinie. Jy hoef nie met hom saam te stem nie en as hy jou warm onder die kraag maak, sê dit. Onthou, dit is weer jou opinie. In sy heel eerste opinie-stuk in die boek sê hy: “The best way to exercise your freedom is to decide how you feel about the things you care about, and let people know.” Of dit nou die regering is of gewone mede-landsburgers, jy mag jou demokratiese reg uitoefen om ‘n opinie uit te spreek. Hy verduidelik verder mense met opinies is baie interessanter as dié daarsonder. Ten minste ontketen dit gesprek. Hy maak uitsprake oor ‘n spul goed en ek kan met eerlikheid sê, ek stem beslis oor sommige nie met hom saam nie. Ek het ook ‘n opinie! Hy sluit sy inleiding af met dié aanhaling van Plato: “Wise men talk because they have something to say; fools, because they have to say something.” Gebruik dit maar as ‘n riglyn wanneer jy ‘n oordeel vel oor sy uitsprake in hierdie vermaaklike boek!

* Die boek is op Exclusives se Wishlist.

 Slack packing

Slackpacking – A guide to SA’s top leisure trails, Fiona McIntosh (Sunbird, R195)

 As jy ‘n geharde stapper is, wat daarvan hou om met jou volgepakte rugsak jou beplande staproete aan te durf en jy doen dit op ‘n beperkte begroting, is hierdie boek nie vir jou nie. Hierdie boek is vir stappers wat van gemak hou. Hulle wil stap, maar sonder die narigheid van swaargelaaide rugsakke en geen warm water of lekker gerieflike kussings en beddens nie. Slackpacking is ‘n nuwe tendens, waar iemand anders jou pakkaas dra of aanry na jou oornagpunt. Wees gewaarsku, dis ook nie noodwendig goedkoop nie, want jy betaal vir die gerief. Hierdie gids is baie nuttig as jy deel wil wees van die nuwe tendens. Die skrywer bespreek al die verskillende roetes, hoe maklik of moeilik dit is, hoe ver, akkommodasie, logistiek rondom die stap en hoe duur dit is. Dis ‘n maklike gids vir verwysing en werklik onderhoudend geskryf, met hope inligting. Grootste voordeel – dis klein genoeg om saam te dra!

 Insider's guide

Insider’s Guide – Top Wildlife Photography Spots in South Africa, Shem Compion (Jacana, R190)

‘n Baie nuttige gids vir enigeen wat belangstel om die wildlewe in Suid-Afrika af te neem. Compion is self ‘n bekroonde natuurfotograaf en het die boek saamgestel om ander fotograwe te help om beter foto’s te neem. Die boek gee omvattende fotografiese inligting oor elke reservaat in die land. Daar is ‘n eenvoudige reeks ikone wat bo-aan elke reservaat gebruik word om te wys vir watter tipe fotografie die plek die geskikste is – landskappe, voëls, soogdiere, roofdiere of die Groot 5. Daar word duidelike aanwysings gegee van waar reservate geleë is en hoe bekostigbaar dit is. Die belangrikste aspek wat hierdie boek ‘n moet maak, is Compion se persoonlike kennis oor die weerstoestande en die gedrag van diere wat hy deel en ook aanbeveel wanneer die beste tyd van die jaar is om sekere reservate te besoek. ‘n Moet vir enigeen wat meer wil kry uit hul fotografie-ervarings.

 Been there, done that

Been There, Done That, David Bristow (Struik, R290)

As jy ‘n reisverslaafde is en boonop van ‘n lysie af werk van goed wat jy al besoek, gedoen, gesien, nog wil doen, dan is hierdie boek beslis vir jou. Die skrywer reis al vir meer as 40 jaar in Suid-Afrika rond en is ook ‘n bekende skrywer van reisverhale. In hierdie boek het hy kort en bondige inligting saamgestel oor plekke en ervarings wat op daai lysie van jou moet wees. Hy het indelings gemaak oor die wonders van die natuur, wêreld-erfenisgebiede, net om te sê jy was daar, ongelooflike bome, woude wat jy besoek, die mees fotogeniese plekke en nog ‘n hele klomp ander. By elke inskrywing is ook ‘n boksie waar jy kan afmerk of jy die plek reeds gesien het en of dit nog op jou wenslysie is. ‘n Lekker geskenk vir jou vriende wat alles het en verslaaf is aan reis.

  • sknqbtqu

    RiG9vD kyurwkjgtfmg, [url=http://ioyepzhejrdv.com/]ioyepzhejrdv[/url], [link=http://msjsuwdflhng.com/]msjsuwdflhng[/link], http://jwdksdnxpidz.com/