lemoenseisoen_1
Lewe + Liefdes

Top-5: Verhoudings gewen en verloor

Jy is gelukkig as jy nie probleme ervaar in jou verhoudings nie en as die bande wat jy met mense deel, jou geborge laat voel. Die interessante ding van verhoudings is ook hoe graag ons daaroor wil praat en lees, want ons is nuuskierig oor ander mense se verhoudings. Dink maar wat deur jou kop gaan as jy ‘n hoofopskrif sien en dit gaan oor iemand in die nuus wat in ‘n nuwe verhouding betrokke is. Nuuskierigheid maak dat jy onmiddellik wil weet wie die nuwe mens in daardie verhouding is.

Ons praat ook dikwels oor verhoudings, met vriende, vriendinne, of iemand wat jy vertrou. In die gesprekke word verhoudingsprobleme van hoek tot kant onder die vergrootglas geplaas. Baie kere vind jy in so gesprek ‘n oplossing, ander kere weer nie, maar dis daardie ondersteuning en begrip vir die belangrikheid van verhoudings in ons lewe wat maak dat ons opnuut waardering kan hê vir die mense in ons lewe. Of nie . . .

Hierdie week se boeke gaan almal op die een of ander manier oor verhoudings en hoe daardie verhoudings ‘n rol speel in die karakters se stories.

Onthou om ons elektroniese winkel op Kalahari.com te besoek om van die boeke aanlyn teen afslagpryse te bestel.

Lemoenseisoen, Kristel Loots (Lapa, R150)

Waagmoed is een van Suzy se sterk eienskappe. Dit bewys sy die dag toe sy haar amp as Mevrou Dominee vaarwel roep. Sy begin haar nuwe lewe met oorgawe en bevind haar gereeld in ongemaklike situasies.

Haar beste vriend, Jay-Jay, stel haar voor aan die ekonoom doktor Dante del Marco van Bravo Internasionaal. Suzy is vanaand nie haarself nie. Sy is nie Mevrou Dominee in ’n paar dienlike hofskoentjies nie, maar ’n aantreklike vrou in ’n geleende ontwerpersrok wat haar soos ’n handskoen pas. Doktor Del Marco moet binnekort Londen toe en benodig ’n persoonlike assistent. As sy vir Dante del Marco kan gaan werk, amptelik en formeel, kan sy dalk saam met hom Londen toe gaan om die spoke van die verlede in die oë te kyk en vrede te maak. Die rok, haar hare en haar lyf sal die ding moet doen.

As die rok net nie so styf gesit het nie, was sy dalk meer op haar gemak. Dan hoor sy ’n onheilspellende geluid en voel sy die koel luggie op haar maag. Die geleende ontwerpersrok het oor haar maag oopgebars. Sy verloor haar balans, gryp na Dante se skouers, trek hom in sy aandpak saam met haar in die visdammetjie. Hoe gaan sy hom nou oortuig dat sy onmisbaar is vir Bravo Internasionaal en om te sorg dat daar elke dag vars lemoene op sy tafel in die kantoor is?

Waaghalsigheid is ook haar redding in die bitterkoue Londen, waar sy terugloop op haar spore van die verlede, want iewers is daar ’n kind, ’n seun, ’n jong man, haar en Frederick se kind.  Hier vind sy liefde soos sy nooit geken het nie. Liefde is soet . . . soos ’n lemoen. Suzy is nie ’n gewone vrou nie, en een waarop ’n mens nogal jaloers kan raak. – Ronél Taljaard

Next to love 

Next to Love, Ellen Feldman (Picador, R171)
Die titel kom uit ’n aanhaling van die leksikograaf en skrywer Eric Partridge: “War … next to love, has most captured the world’s imagination.” Hierdie is ’n storie oor oorlog én liefde – die onvermydelik hartseer verhaal van drie vriendinne op ’n klein Amerikaanse dorpie en hoe die Tweede Wêreldoorlog hul lewe omkeer, veral wanneer hul mans opgeroep word. Dit hou ’n vergrootglas oor vrees en verlies, wanhoop en wreedheid, maar ook vriendskap en hoop en liefde.
Uitsonderlik geskryf, met ’n oog vir detail en ’n onmiddellikheid wat jy kan voel en ruik en proe. Elke sin is soos deur ’n silwersmid aanmekaargesit. – Ilse van Staden

 Don't let me go

Don’t Let Me Go, Catherine Ryan Hyde (Doubleday, R176)
Die tien jaar oue Grace kry dit reg om die lewe van vyf vreemdelinge onherroeplik te verander. Grace se ma is ‘n dwelmverslaafde en slaap haar dae om. Sy word dan vir ure aaneen alleen gelaat.
Dis hierdie alleen-figuurtjie wat maak dat die inwoners van die woonstelblok betrek word by Grace en deur haar by mekaar se lewe. Hulle is almal vreemdelinge vir mekaar en kommunikeer glad nie. Stadig maar seker begin hulle vir mekaar omgee en mekaar help.
Grace het die grootste impak op Billy se lewe. Billy ly aan ruimtevrees en het die afgelope 12 jaar nog nie sy woonstel verlaat nie. Billy en Rayleen, ‘n ander inwoner, wil nie hê Grace moet in die pleegsorgstelsel verdwyn omdat haar ma nie lank genoeg kan “skoon bly”nie. Saam besluit hulle om Grace soort van te ontvoer, want, redeneer Rayleen, voordat sy nie iets verloor waarvoor sy baie lief is nie, gaan sy nie die dwelms los nie. Intussen leer Grace by Billy, wat voorheen ‘n professionele danser was, klopdans. Sy leer Spaans praat by ‘n Spaanse buurman, Felipe, en floreer op almal se aandag.
Eileen, Grace se ma, is skoon vir ‘n jaar en sy eis Grace terug. Ná nog ‘n baie hartseer jaar, waarin Grace geen kontak met haar woonstelgesin mag hê nie, word sy uiteindelik toegelaat om hulle weer te sien.
Dis ‘n pragtige storie en nes Grace se naam genade in Afrikaans beteken, ontvang elkeen van die woonstel inwoners hope daarvan ná hul kennismaking met haar. – Jenny du Toit

 The reinvention of love

The Reinvention of Love, Helen Humphreys (Serpent’s Tail, R204)
Parys, Frankryk, 1830. Charles Sainte-Beuve is ‘n resensent by The Globe. Dis hoe hy Victor Hugo ontmoet. Hy resenseer sy gedigte en toneelstukke. Victor is ‘n aangename, flambojante karakter en Charles is baie beïndruk met hom. Hulle word goeie vriende en filosofeer tot laat in die aande saam. Charles raak egter verlief op Victor se vrou, Adèle, en sy op hom. Hulle knoop ‘n intieme buite-egtelike verhouding aan.
Sy vriendskap met Victor kom tot ‘n einde wanneer Charles die verhouding aan hom beken. Adèle en Charles moet hul verhouding staak en Victor verhuis om afstand tussen die twee te kry.
Intussen raak Victor Hugo al hoe bekender nadat hy eers The Hunchback of Notre Dame en dan Les Misérables skryf. Daar’s egter ‘n verdere kinkel in die kabel. Tydens Adèle en Charles se verhouding het Charles soms Charlotte geword – kompleet met rok en al. Vir Charles was dit nogal maklik, want in werklikheid was hy ‘n hermafrodiet.
Die boek is deels fiksie en deels nie-fiksie, wat die storie baie interessant maak en makliker laat lees. – Jenny du Toit 

 A Twist of Fate

A Twist of Fate, Joanna Rees (Pan Books, R100)
As jy in toeval glo, is hierdie boek beslis vir jou. As jy nié daarin glo nie, is hierdie boek dalk juis vir jou bedoel. ‘n Tweeling, Romy en Thea, word in 1971 in Oos-Duitsland gebore. Hulle groei egter op in twee totaal verskillende wêrelde. Thea word aangeneem deur ‘n welgestelde ouerpaar in Amerika. Arme Romy word afgelaai by ‘n weeshuis van ellende met geen kontak met die buitewêreld nie. Die kinders word mishandel, en dwangarbeid en kinderprostitusie is maar ‘n paar van die misdrywe wat agter die mure van die weeshuis plaasvind. Romy ontsnap as sestienjarige uit die weeshuis, en so begin haar pad van swaarkry en later roem in die wêreld buite die weeshuis.
Thea aan die anderkant word groot in ‘n rykmanswêreld gevul met weelde en liefde, tot haar ma sterf aan kanker. Haar lewe verander drasties wanneer haar pa weer trou. Die nuwe vrou is ‘n fortuinsoeker wat seker maak haar seun word wettig aangeneem en Thea word kosskool toe gestuur. Brent word sy stiefpa se protégé en arme Thea word opsygeskuif. Sy is egter baie gemotiveerd en werk haarself op in haar pa se maatskappy, want sy soek wat háár eintlik toekom en nie die slinkse, sadistiese Brent nie. 
Intussen het Romy ‘n bekende en suksesvolle model geword en trou sy met ‘n wêreldbekende renjaer. Ná ‘n inbraak by hul woning word hy egter vermoor deur mense wat saam Romy in die weeshuis was.
Wat die verhaal interessant maak, is die draadjie van toevallighede in die boek wanneer Romy en Thea se paadjies kruis sonder hul wete dat hulle tweelingsusters is. Hulle ontdek die waarheid eers amper teen die einde van die verhaal en deel dan die band van susterskap waarna albei nog hul hele lewe smag. - Jenny du Toit

 Night Road

Night Road, Kristin Hannah (MacMillan, R171)
Lexi word ná jare in weeshuise en pleegsorg in die sorg van haar arm maar liefdevolle tante Eva in haar opslaanhuisie in ’n woonwapark geplaas. By haar nuwe skool maak Lexi vriende met Mia Farraday wat uit ’n gegoede huis kom. Lexi sluit ’n hegte band met die Farraday-gesin en haar hoërskooljare is gelukkig. Vir die eerste keer kry sy die aandag en liefde waarna sy so gesmag het. Sake raak egter kompleks wanneer sy en Zach, Mia se tweelingbroer, in hul laaste skooljaar ’n verhouding begin. Hoewel die Farradays hierdie kalwerliefde aanvanklik nie as ’n probleem beskou nie, tree die noodlot in en verander almal se lewe ingrypend. Een aand is genoeg om hierdie jong mense se onskuld en drome in ’n oogwink van hulle weg te ruk. – Liesel Pienaar

 Custody

Custody, Manju Kapur (Faber & Faber, R124,95)
Shagun is ’n beeldskone huisvrou, getroud met Raman, ’n suksesvolle bemarkingsbestuurder. Op die oog af lyk hulle gelukkig. Hulle het twee kinders, Arjun en Roohi, en albei kante van die familie kom goed oor die weg. Maar dan verskyn Ashok, Raman se nuwe baas, op die toneel. Blitsvinnig is Shagun en Ashok in ’n vurige liefdesverhouding betrokke en dit lei daartoe dat Shagun aandring op ’n egskeiding. Raman weier, Shagun ontvoer die kinders en daarmee begin ’n ingewikkelde regstryd om die toesig van Arjun en Roohi.
Klaarblyklik is Indiese verbintenisse meer gekompliseerd as waaraan ons gewoond is. By hulle is die huwelik nie net ’n instelling tussen man en vrou nie, maar betrek dit ook die bloedverwante van albei partye – albei families word genoodsaak om kant te kies, terwyl die ouers nie skroom om die kinders as pionne te gebruik in die stryd om mekaar te probeer troef nie.
In lande waar egskeiding ’n algemene verskynsel is, bied hierdie relaas lesers geen nuwe insigte nie. Hoewel dit ’n leesbare en goedgeskrewe roman is, het Kapur dit duidelik ten doel om die komplekse aard van die Indiese regstelsel te beklemtoon. Ongelukkig veroorsaak dit dat dié vertelling dikwels op soortgelyke wyse voortsloer.  – Emsie Viljoen

 Invisible

Invisible, Paul Auster (Faber & Faber, R179,95)
Adam Walker ontmoet Rudolf, ‘n Fransman, en sy vriendin, Margot. Rudolf se brutale optrede een aand beïnvloed die res van sy lewe en Margot bly by hom spook.
Hy kontak Jim, ‘n studentevriend, ‘n hele paar dekades later en laat ‘n manuskrip met sy persoonlike memoirs daar aflewer. Jim lees die private ontboeseming met groeiende ontsteltenis. Hy stel vas dat Adam oorlede is, en kontak sy beeldskone suster, Gwyn, op wie hy altyd in die geheim verlief was. Sy kan net ‘n paar van die tergende geheime opklaar, hoewel sy Jim moontlik gerusstel oor sy grootste bekommernis.
‘n Briljante, boeiend saamgestelde verhaal, met stories in ‘n storie. Auster op sy beste. – Mariette Postma

Flashback 

Flashback, Dan Simmons (Quercus, R277)
In 2036 is daar ‘n wêreldwye resessie met ekonomieë wat op hul knieë gedwing is en Amerika is geen uitsondering nie. Dié land word geteister deur geweld, terreur en dwelms. Die algemeenste dwelm is “flashback”, wat die gebruiker gebeure in sy verlede laat herleef asof dit nou paasvind.
Voormalige speurder Nick Bottom ken flashback, want nadat sy vrou, Dara, dood is in ‘n motorongeluk 5 jaar gelede, het hy toegelaat dat die dwelm sy lewe verwoes. Hy het sy werk verloor en sy seun gestuur om by sy skoonpa te gaan woon, Hy het al sy geld spandeer op flashback sodat hy by sy dooie vrou kon wees.
Die laaste groot saak waaraan hy gewerk het, is die moord op Hiroshi Nakamura se seun, Keigo. Nakamura wil Nick huur om die saak te herondersoek. Nick is een van die min mense wat onder die invloed van flashback alles in die fynste besonderhede kan onthou. Nick stem in, meerendeels om geld te kry vir flashback eerder as om die saak op te los. Dan vind hy iets uit oor Dara se laaste paar weke. Dit dwing hom om sy lewe en besluite in oënskou te neem.
Die verhaal gee ons ‘n fassinerende blik op wat in die lewe kan gebeur. – Karien Labuschagne

 A Hidden Affair

A Hidden Affair, Pam Jenoff (Penguin, R220)
Jordan Weiss is ‘n intelligensie-agent in die Amerikaanse diplomatieke diens. Tien jaar tevore het haar lewe inmekaargetuimel toe haar kêrel, Jared, in Londen verdrink het. Daarna het sy reg oor die wêreld gewerk, maar eers wanneer sy weer oorgeplaas word na die Londense kantoor, ontdek sy dat Jared nooit verdrink het nie en nog springlewendig is. Sy bedank haar werk en vertrek op ‘n sending na Monaco, waar sy laaste bekende adres is, om hom op te spoor. Maar sy is nie die enigste persoon wat na hom soek nie en telkens verkeer sy in doodsgevaar.
Alhoewel dit nêrens op die omslag genoem word nie, is hierdie ‘n opvolg van The Officer’s Lover. Al die verwysings na vorige gebeure, veral aan die begin van die verhaal, is effens hinderlik. - Retha Burger