Lewe + Liefdes

Top 5: Vir kinders

Die eerste ding wat ek onthou is daardie reuk as ek die boek oopmaak. Dis ‘n reuk wat moeilik is om te beskryf, maar ek weet net dit was magies. My verbeelding het onmiddellik op hol gegaan en ek het my so ingeleef in daardie eenvoudige kinderverhale. Maar, besef ek vandag, dis ook waar ek sekere lesse geleer het sonder dat ek eens geweet het ek leer. Toe ek hierdie week se boeke uitpak, het ek weer besef hoe waardevol kinderverhale is. Daar is ‘n boekie oor hoe om verlies te verwerk en een oor MIV/vigs. Een vertel wat nou gemaak as jy nie inpas in jou groepie nie. Nog een vertel bietjie meer oor Robbeneiland. Dan is daar ander sommer net vir lekker lees.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

Is jy hartseer, Beertjie, Rachel Rivett (Human & Rousseau, R99,95)

Ouma Beer het weggestap in die woud in om te gaan sterf, soos ou bere maak. Beertjie se hart is baie seer en Mamma Beer help hom om vrede te maak en ook te verstaan wat gebeur as jy iemand in jou lewe verloor. Maar die verhaal gaan ook oor verlies in die algemeen. Beertjie stap deur die woud en praat met al die diere oor verandering. Deur hul antwoorde leer hy hoe aanpasbaar mens (of dier) eintlik is. Die boek is in Afrikaans vertaal deur Linda Rode en pragtig geïllustreer deur Tina Macnaughton. Die les is ‘n waardevolle een en sal ouers help om ‘n abstrakte begrip soos die dood op ‘n verstaanbare en eenvoudige manier aan kinders te verduidelik.

Soos 'n wens, so groot. 

Soos ‘n wens, so groot, Ingrid Mennen (Tafelberg, R130)

Rashied vertel sy oupa hy wil graag iets ronds hê. Dan gesels hulle oor wat alles rond is, die maan, die son, ‘n bord vol pap. Dan word die bord vol pap Robbeneiland in Rashied se kinderoë. Oupa onthou sy tyd op die eiland en hoe hulle sokker gespeel het. Die twee begin dan sokker speel met oupa se ou bal. Oupa leer Rashied dis hoe jy oefen vir ‘n sportsoort wat jou beter gaan laat speel en nie noodwendig die toerusting wat jy gebruik nie. Die verhaal verduidelik ook begrippe soos vryheid en hoop. Die sketse is deur Katrin Coetzer gemaak.

 Phapo se geskenk

Phapo se geskenk, Marita van Aswegen (Knowledge Thirst Media, R95,95)

Die boekie behandel sommer ‘n klompie temas wat deesdae deel van die moderne lewe is. Eerstens is daar die verhouding tussen Phapo en haar siek pa. Hy is besig om te sterf aan MIV/vigs. Phapo leer wat die siekte behels en hoe moeilik dit vir families is om dit te hanteer. Dan leer sy ook hoe om haarself te beskerm dat sy nie die siekte opdoen nie. Verder is daar ‘n vriendskap tussen Phapo en haar blonde maatjie, Lucy wat uit heeltemal ander omstandighede kom. Die boek is baie gepas vir lesers so van ouderdom nege af en sal kinders ook help om insig te kry in siekte en dood.

 Moenie vir Bernard soen nie!

Moenie vir Bernard soen nie!, Niki Daly (LAPA, R94,95)

Bernard is ‘n klein seuntjie wat niks daarvan hou om gesoen of gedruk te word nie. Sy probleem is dat almal van hom hou, al sy tannies wil hom soen of druk. Dit maak Bernard moeilik. Dis sy verjaardag en hy weet hy kan hom gereed maak vir daardie arms en monde wat hom gaan aanval. Gelukkig maak een van sy tannies ‘n plan. Sy knip papierhartjies uit en maak ‘n soentjie op elkeen. Gou maak al die ander tannies ook so en so is Bernhard se probleem opgelos. Hy kan sy verjaardag geniet! Niki Daly is ‘n bekende en gesoute kinderboekskrywer en weet al hoe om klein mensies in te trek in ‘n storie.

 Feeling sheepish

Feeling Sheepish, Sandy Mitchell (XLIBRIS, R100)

Gertrude is ‘n skaap. Of is sy? Sy voel nie tuis tussen die ander skape nie  en besluit dan om by mense te gaan bly. Sy trek klere aan, eet met ‘n mes en vurk aan tafel, leer selfs om haar tande te borsel. En sy bad. Ongelukkig maak al die vreemde kos haar maag seer. Sy gaan buite toe om weer ‘n paar plante te eet. Dan word sy eendag per ongeluk toegesluit in ‘n buite-toilet. En sy blêr en blêr. Wie kom haar red? Nie haar huisgenote wat op twee bene loop nie. Haar regte egte skaapma! So leer Gertrude ‘n belangrike les van om in te pas of uit te staan. 

Bestel by http://www.xaviernagelagencies.co.za/books.html

 Terrible trolls

Terrible Trolls, Delphine Durand (Campbell Books, R95,95)

Die boek is vir klein handjies wat wil voel en vat. Dis ‘n kleurvolle boek met pragtige illustrasies. Een trol het oë waarvan die kykers rondbeweeg. Op die volgende blad kan jy voel hoe grof is die blou trol se voete. En as jy jou vinger oor die een met die maanhare se tande trek, kan jy hoor hoe kners sy tande. ‘n Ander een het reuse ore wat jy kan oplig na willekeur, terwyl jy kan sien hoe blink die swemmer se lyfie as jy die boek rond beweeg. Elke bladsy het ‘n verrassing en stimuleer die sintuig van gevoel, sig of gehoor. Ure se pret vir kinders tussen twee en ses.

 Die beste rympies ooit

Die beste rympies ooit, Richard Scarry (Protea Boekhuis, R120)

Daniel Hugo het klassieke kleuterryme soos “Little Miss Muffet”, “Simple Simon” en “Georgie Porgie” lewe gegee in Afrikaans. Almal wat kinders het, ken Richard Scarry se boeke. Kinders is gek daarna, want dis helder en vrolik en propvol sketse. Hierdie boek is ook so. Die bonus is dat die 50 rympies in prettige Afrikaans met ‘n verslawende ritme is. Hier is Daniel Hugo se weergawe van “Georgie Porgie”.

Markie, die varkie, die vuil uil,

Soen al die meisies op hul snoete.

Toe hy sien hoedat hulle huil,

Maak Markie hom gou uit die voete.