Lewe + Liefdes

Top 5: Vir kinders

Vir ‘n tydjie kan ek ontsnap van die werklikheid en myself verloor in ‘n wonderlike fantasie wêreld waar ek nog kan glo in prinsesse en drake. Verder voel ek ‘n verantwoordelikheid teenoor ons land se toekoms en ek glo, as jy kinders leer om te lees, sal dit hulle help om eendag die regte besluite te kan neem. Hulle sal hopelik toegang hê tot boeke wat hulle meer agtergrond oor onderwerpe sal gee en so bydra tot beter keuses. Die heil van ons mensdom lê in opvoeding, glo ek, en die sleutel is die boek! Hierdie week kan jy vir jou kinders iets kies vir Kersfees uit hierdie klomp uiteenlopende boeke. My keuse is ook gemik op verskillende ouderdomme, van voorlees tot self lees en om tyd saam met jou kinders te spandeer.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

Moemin en die maanlig-avontuur, Tove Jansson (Human & Rousseau, R115)

Wie onthou nie die geliefde karaktertjie, Moemin op televisie nie? In die tagtigs het Moemin se kaskenades baie kinders vasgenael voor die kassie gehou. En nou is Moemin terug – in boekvorm in Afrikaans. Die gewilde verhale is in Afrikaans vertaal deur Kobus Geldenhuys. In hierdie verhaal besluit Moemin dis ‘n wonderlike sonskyndag vir ‘n avontuur. Natuurlik wil die hele familie saam met hom op sy avontuur gaan, maar die voorbereidings hou sy gesin die hele dag besig totdat die son al gesak het. Maar watwou, Moemin gaan sy avontuur beleef, of die son nou al onder is of nie en vandaar sy maanlig-avontuur. Die boek is lieflik geïllustreer en het groot leesbare letters wat self lees vir jonger kinders maklik maak. Kyk ook na die ander boeke in die reeks: Moemin lig-die-flappie wegkruipertjie (R110) en Moemin se verjaardag (R110).

Moemin se verjaardag Moemin
Kersfees is 'n Jesusfees

Kersfees is ‘n Jesusfees!, Chrissie Kritzinger (KidsXpress, R80)

Die ware betekenis van Kersfees as gesinsfees het oor tyd afgewater geraak en ongelukkig het die fokus vir menige geskuif na die geskenke wat hulle gaan kry. Die grootste geskenk is tyd saam met jou gesin terwyl julle die ware betekenis van Kersfees herdenk, dat dit ‘n godsdienstige fees is en ook so herdenk moet word. Met hierdie boek hoop die skrywer dat betekenisvolle Kersfees rituele weer in gesinne sal posvat en daarom is hierdie ‘n saamdoen-boek. Die boek sluit ‘n cd in wat al die aktiwiteite uiteensit en het ook ‘n klomp kersliedjies op om die regte atmosfeer te skep. Sing weer saam met jou kinders, sit om die tafel en lees saam, vertel weer die storie van die geboorte van Jesus. Hierdie boek sal jou help om as gesin weer betekenisvolle tyd saam te verwyl oor Kersfees. Bestel by: info@kidsxpress.org of Werner Schultz by 021 852 8645.

Wurms met tamatiesous

Wurms met Tamatiesous en ander lawwe rympies, Jaco Jacobs (LAPA, R90)

Die lawwe rympies in die boek sal enige kind bekoor. Kinders is mos mal oor grillerige goed, en as hulle mekaar ‘n poets kan bak of ‘n rympie maak om mekaar mee te koggel (gewoonlik ‘n nare een!) is hulle in hul element. Die basiese liggaamsfunksies hou ook ‘n eienaardige fassinasie in vir hulle. Nou is al hierdie goed sommer in een boek bymekaar gebring in lawwe rympies wat baie absurd is. Hier is so rympie: ‘n Vark in die toilet

Liewe land, goeie vet

Daar’s ‘n vark in die toilet

Die otjie sê iets ongeskik

Dis tyd om die handvatsel af te druk. . .

Dale  Blankenaar se sketse help om hierdie lawwe rympie boek ‘n wenner te maak.

Die kinderboekskrywer Jaco Jacobs is vereer met die CP Hoogenhout-medalje vir hierdie bundel.

Die wêreld se beste boek

Die wêreld se beste boek, Jan Payne (vertaal en SA feite bygewerk deur Fanie Viljoen, Tafelberg, R160)

Die feite in hierdie boek is nou seker nie daarop gemik om jou kind se akademiese kennis te verbreed nie. Dis daarop gemik om allerlei interessante brokkies oor ‘n magdom onderwerpe vermaaklik aan te bied. Dis amper ‘n tipe van ‘n boek vol trivia, bv. Wat  en waar is die stinkste bom gemaak? Watter film het die langste geduur? Wat is die giftigste slang in die wêreld? Wie is die vinnigste mens sonder bene? My nuuskierigheid is al klaar geprikkel deur hierdie brokkies en wil sommer self meer te wete kom van die goed in die boek. Dalk gaan pa en ma saam met boet en sus in die boek rond blaai. Hierdie boek het oorspronklik in 2008 verskyn en is reeds in meer as 20 tale vertaal. Hierdie weergawe het lekker interessante brokkies oor Suid-Afrika wat bygewerk is deur Fanie Viljoen. Die boek is gemik op kinders tussen 8 en 13 jaar oud.

Teken jou eie diere

Teken jou eie diere, Michael Garton (Human & Rousseau, R99,95)

Hoekom was hierdie boek nie daar toe ek ‘n kind was nie? Dan was ek nie nou in daai beteuterde posisie elke keer as ons Pictionary speel nie. My prentjie van ‘n hondjie of katjie lyk altyd na een of ander ongedierte wat genetiese mutasie ondergaan het. Hierdie boek wys kinders hoe om verskillende diere stap-vir-stap te teken met baie eenvoudige aanwysings. Die vorms waarmee elke dier begin is basies en dis die wyse waarop die vorms gekombineer word wat op die ou einde elke dier se lyf vorm. ‘n Lekker handige manier om kinders se kreatiwiteit aan te moedig en hulle selfvertroue te gee om met gemak saam te speel wanneer daar teken te sprake is!

Anna Atoom en die seerower se dolk

Anna Atoom en die Seerower se dolk, Elizabeth Wasserman (Tafelberg, R110)

‘n Storie waarin die hoofkarakter se naam Anna Atoom is en die ander karakters name het soos Ton, Hodoul, Uranus Draak en Pip behoort vreemderig en amusant te wees. Dis presies wat hierdie storie is. Anna Atoom is 12 jaar oud en bly saam met haar wetenskaplike ma en ruimte-bewoner pa en boetie op ‘n eiland. Sy word elke dag met ‘n motorboot skool toe gevat. Pip is haar boetie en soos boeties maar is, is hy ‘n doring in haar vlees. Een middag ontdek Anna ‘n seerowerswaard en sy besluit sy moet die wrak van die seerowerskip, Chivonne soek om die skatte in die skip te vind. Wasserman vertel ‘n heerlike storie waar wetenskaplike en tegnologiese feite met inligting oor die seelewe soomloos verweef word. Volgende jaar verskyn daar nog twee Anna Atoom boeke.

Die Prinsesse-kreatiwiteitsboek

Die Prinsesse-Kreatiwiteitsboek, Andrea Pinnington (Human & Rousseau, R159,95)

Hierdie is ‘n lekker speelboek waarin stensils, stories en prentjies, plakkers, papierpoppe en aktiwiteite is. Meisies wat mal is oor pienk en prinsesse sal baie van die pretboek hou. Daar is inkleurprente, plek om te teken, goedjies om te soek en goedjies om te maak om kinders lekker lank besig te hou. Daar is selfs ‘n bordspeletjie waar die spelers moet ontsnap uit ‘n betowerende woud, geskoei op ‘n tipe slangetjie-en-leertjie spel. Die aktiwiteite is ook so ontwerp dat dit kinders help om teken-en woordvaardighede te verbeter. In hierdie reeks is daar ‘n tweede boek oor drake met dieselfde tipe aktiwiteite as die prinsesse-boek. Die Drake-kreatiwiteitsboek is dalk meer gepas vir seuns. Die boeke is gemik op kinders van 8 jaar en ouer.

Vergeet-my-nie

Vergeet-my-nie, Michael Broad (Human & Rousseau, R89,95)

Die olifantjie Manie is verveeld en begin soos kinders maar is, sy ma peper met vrae. Die een vraag na die ander, net om uit sy verveling te ontsnap. Ma olifant is ewe geduldig en vertel van die reën wat gaan kom en die vergeet-my-nietjies wat die veld sal volstaan. Onmiddellik wil Manie weet wat vergeet-my-nietjies is. Hy dwaal af van die trop en verdwaal en moet sy ma weer probeer kry. ‘n Woeste storm breek uit en in die donker en reën loop Manie vas in ‘n boom waaronder hy skuil. Wanneer die storm opklaar vind hy uit dis nie ‘n boom waaronder hy skuil nie, maar sy ma se bene. Die verhaal is pragtig geïllustreer en kom met ‘n klein lewenslessie. Daar is ‘n tweede boek oor Manie, Vergeet-my-nie: Vriende is soos bloeisels(Human & Rousseau, R105) waarin hy leer hoe vriendskappe werk.

Bleek Bennie se woeste hoes

Bleek Bennie se woeste hoes, Keina Swart ( Protea Boekhuis, R100)

Die boekie is pragtig geïllustreer deur Dale Blankenaar en maak die storie nog ‘n lekkerder een om te lees. Bennie is ‘n seuntjie met ‘n slegte hoes wat almal uit die slaap hou. Sy beste maat is Piet, ‘n langbeenspinnekop wat in Bennie se kamer bly. Piet beraam allerhande planne om van Bennie se hoes te probeer ontslae raak, maar die arme Bennie hoes so hy hoor nie eers van die planne nie. Bennie se ouers gee medisyne, smeer salf, maar al wat bly is die hardnekkige hoes. Tot een aand toe Bennie vergeet om sy hand voor sy mond te sit en sy hoes sommer in Piet se web in gehoes het. ‘n Vermaaklike verhaal wat lekker voorlees en kan troos gee vir kinders wat bietjie olik voel.

Die kaskenades van Jakkals en Wolf

Die kaskenades van Jakkals en Wolf, oorvertel en bygewerk deur Leon Rousseau (LAPA, R120)

Word mens ooit moeg om te lees oor Jakkals en Wolf? Ek glo nie. Arme Wolf loop allewig deur onder Jakkals se listigheid. Skelm Jakkals beplan altyd sy streke so dat Wolf soos die skuldige party lyk. Wolf leer nooit sy les nie en glo elke keer vir Jakkals wanneer dié met ‘n nuwe plan daar aankom wat kwansuis vir hulle beide sal baat. Wolf is so onnosel dat hy nie eens self ‘n plan kan uitdink om Jakkals terug te kry vir al die slae wat Wolf al namens Jakkals moes verdien nie. Sy ou ma is gelukkig baie slimmer as hy en sy dom kleinsussie en sy dink ‘n plan uit om Jakkals uit te vang en te straf. Die boek bevat 15 boeiende en vermaaklike verhale oor Jakkals en Wolf se kaskenades.