om_te_weet_wie_ek_is
Lewe + Liefdes

Top 5: Vir vroue

Dis seker voorspelbaar, maar ek hou van die langdurigheid van die geskenk! Ek het dié week uiteenlopende boeke gekies sodat daar hopelik iets sal wees vir elke leessmaak. Daar is lekkerlees-verhale, iets vir die gees en iets om jou te laat dink. As jy weet watter boek jy graag wil hê, moet jy maar skimp by dié wat die geskenk gaan koop! Dis nogal ’n kuns om dit só te doen dat hulle dink dit was hul eie briljante idee. Die lekker van ’n boek is dat jy weer en weer daarin kan lees, of, as dit ’n roman is, kan jy dit met vriendinne uitruil as jy klaar gelees het.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

Om te weet wie ek is, Nianell (Struik Inspirerend, R159,99)
Sonia Nel – haar verhoognaam is Nianell – vertel in dié boek haar lewensreis. Sy glo sy is gebore “om te sing en musiek te skryf. [Sy] glo musiek het [haar] gekies.” Sy vertel kortliks waar sy vandaan kom en brei dan meer in diepte uit oor hoe haar pad met musiek geloop het en haar lewe gevorm het. Vir haar is daar ook die worsteling met selfvertroue en hoe hard sy aan haarself moes werk om vir haarself lief te kon word. Sy het sekere liedjies op spesifieke tye in haar lewe geskryf in reaksie op iets wat gebeur het. Die lirieke sluit sy dan ook in by die gepaste vertelling. Sy skryf:”Dit is moeilik om vol vertroue voor ‘n gehoor op te tree as jy nog nie met jouself gemaklik is nie. Dit kom natuurlik as jy jouself met verloop van tyd leer liefkry en aanvaar. Dit het my om en by nege-en-dertig jaar geneem om hierdie punt te bereik en ek verloor nog steeds elke nou en dan vertroue in myself.” Sy moet haarself voortdurend herinner wie en wat sy en is en hoe haar lewensreis verloop. Ek dink baie van ons sal met hierdie uitstekende sangeres se lewensverhaal kan identifiseer, want ons almal het eintlik maar dieselfde vrese en hoop.

 Bloedwater

Bloedwater, Douwleen Bredenhann (Human & Rousseau, R180)

Adriana Coetzer het met moeite vir haar ‘n nuwe en suksesvolle lewe in Nederland opgebou. Sy het alle bande met haar familie in Suid-Afrika verbreek.
Maar toe sy een nag ‘n telefoonoproep uit Suid-Afrika kry, verander sake. Woudstra Bosman, haar swaer en ook die man met wie sy in die verelde op troue gestaan het, vra of sy vir tien dae sy vrou, Adriana se jonger suster, kan kom oppas. Hy is vaag oor die rede vir die oppas, maar sy stem in en kom Suid-Afrika toe. Dwelms het sy tol geëis en daar is nie veel van die skoonheid van haar eens wulpse suster oor nie. Adriana se ma, ‘n eertydse skilder wat die dorp goed aan die skinder gehad het, lê op sterwe. Die rede hoekom Woudstra met Marlinda getrou het, word duidelik. En ‘n hele paar familiegeheime word ontbloot.
Adriana kan uiteindelik vergewe en met ‘n oop gemoed na Nederland terugkeer.  – Gert Venter

 Abel se lot

Abel se lot, Chris Karsten (Human & Rousseau, R190)
Dit is boek 2 in die Abel-trilogie en begin met ‘n uiters grillerige beskrywing van ‘n lyk en maaiers wat hul werk doen in ‘n tuin in Bujumbura, Burundi. Jy weet sommer – as jy nie die maag het vir moordstories en daardie soort ding nie, gaan jy maar moeilik lees. Maar as dit jou ding is, gaan jy aanhou en net nou en dan ophou lees vir ‘n versterking, want Chris Karsten het nog ‘n lekkerlees-riller geskep.

As jy Abel se ontwaking wel gelees het,  sal jy weet dat die lyk sy handewerk is. Hy het die polisie ná sy wandade in Suid-Afrika ontglip en buiteland toe gevlug. Adjudant Ella Neser wat hom probeer vastrek het, is met siekverlof, maar nog op sy spoor. Sy ontmoet vir Milo Boonstra en sy suster Kaja (die lesers kry ook ‘n kykie in hul lewe in ‘n oorloggeteisterde Bosnië-Herzegowina waar hulle baie gruwels aanskou het) toe sy ‘n inbraak en noodlottige aanranding by hul ouerhuis ondersoek. Aanvanklik kan jy nie dink hoe die Boonstras deel gaan word van die verhaal nie, maar Karsten skets die oorlogtonele so realisties dat jy aanhou lees. Mettertyd word die kindertyd-ervarings van Milo en Kaja duidelik in hul optrede as volwassenes in Suid-Afrika – alles deel van Karsten se spanningsvolle storielyn en uiters vernuftig uitgedink.
Die Boonstra-kinders is deur ‘n Suid-Afrikaanse gesin  aangeneem. Wanneer sy aanneem-ma vermoor word, besluit Milo om die moordenaar te soek. Hy’s meedoënloos en warm op die spoor.  Ook Abel is op soek na die moordenaar en hul paaie kruis. Kaja word  ontvoer, daar’s hope aksie, adjudant Neser het haar hande vol en die skote klap. En Abel, hy het soos  “ ‘n rot weggeskarrel en  in ‘n yskaslaai by die lykshuis geklim . . .  “

Ek hoop Karsten skryf gou aan nommer 3, want ‘n mens kan nie te lank wag om te sien wat Ella gaan regkry nie .
NS. As jy nie die eerste boek van die trilogie gelees het, sal jy steeds dié een geniet. Maar jy sal straks vinnig die eerste een gaan soek!  – Alida Vos.  

 'n Nuwe dag

’n Nuwe dag , Dorothy Fourie (LAPA Uitgewers, R165)
Lena Riley is ’n bekende  skilder van vrouestudies, maar sy loop met ’n stukkende plekkie in haar hart rond wat haar verhoed om met oorgawe te lewe. Mense, behalwe haar goeie vriendin Annie, word op ’n afstand gehou. Sy glo die verskriklike ding wat sy as jong meisie gedoen het maak haar afstootlik vir mense en enige man wat haar dalk sou kon liefkry. En so loop Lena met dié groot geheim rond tot sy vir Lukas Hofmeyr ontmoet. Die man wat haar dooie hart vinniger laat klop. ’n Emosie wat sy gedink het sy nooit weer sou voel nie. Lukas met die bos donker krulhare en sagte bruin oë. Maar Lukas loop rond met ’n hele klomp geheime van sy eie. Sal Lena en Lukas hul onderskeie verledes kan laat vaar om saam ’n nuwe skoon lewe te begin, of is van die geheime onvergeefbaar?  Lukas is geskok ná Lena se belydenis, maar vind dit tog in sy hart om haar te vergewe. So word ons weer eens daaraan herinner dat ware liefde alles kan oorwin. – Esmé Blackburn

 Katriena, vertel!

Katriena, vertel!, Riana Scheepers (Lapa, R160)
“Ek sal dit darem like as mevrou ’n dishwasher het!” Dis hoe Katriena Willemse haar werk losslaan by mevrou Isolde van die halwe huis. Halwe huis omdat mevrou geskei is. Katriena is al ouer as 50, en het al by ’n hele paar huise in die Kaap én op ’n plaas gewerk. Met elke gebeurtenis of besluit in die halwe huis het Katriena ’n storie te vertel, en dit is dié stories wat mevrou op papier vasgevang het. Daar is altyd ’n tydjie om op die “stoeletjies”, soos Katriena dit uitspreek, in die kombuis te gaan sit en ’n teetjie te drink saam met Mevrou,  terwyl sy haar stories vertel. Saam met haar stories is daar altyd ’n les te leer of soms so ligte rapsie oor die vingers. Ná so storie en die ou teetjie met ’n soetgoedjie daarby voel almal sommer altyd beter. Dikwels is dit stories wat Katriena self ervaar het, maar dan is daar ook stories oor familie, vriende en kennisse. Ek het die boek geweldig geniet omdat die taalgebruik so eg Kaaps is, vol skaterlag-staaltjies en tong-in-die-kies-uitlatings. So hier en daar selfs iets suggestiefs, waarop mevrou maar net sal sê “haai Katriena!”.  –Jenny du Toit

 Die Hemel is Werklik

Die Hemel is Werklik, Todd Burpo saam met Lynn Vincent (Christelike Uitgewersmaatskappy, R99,95)
Dié inspirerende verhaal gaan oor Colton Burpo wat in 2003 as vierjarige seuntjie ernstig siek was en toe ‘n operasie moes ondergaan. Tydens die operasie het hy sy liggaam verlaat en hy het ná die tyd vir sy ouers vertel waar hulle in die hospitaal was en wat hulle gedoen het. Sy storie het in brokkies en oor ‘n tydperk uitgekom, van hoe hy in die hemel was en dat hy Jesus ontmoet het. Met die onskuld van ‘n kind vertel Colton sy gesin van almal wat hy in die hemel ontmoet het, afgestorwe familielede wat hy nooit eens van geweet het nie. Todd Burpo is ‘n pastoor in Nebraska en het sy seun se verhaal geskryf sodat dit mense ‘n blik gee op ‘n wêreld wat vir almal wag. Dis ‘n aangrypende geestelik-verrykende verhaal wat jou met nuwe oë na die werklikheid van die hemel sal laat kyk.

 The Glass Room

The Glass Room, Simon Mawer (Abacus, R145,95)
Dis ‘n fassinerende verhaal waar ‘n huis eintlik die hoofkarakter is. Dis ‘n baie spesiale huis wat die Duitse argitek Rainer von Abt vir die motormagnaat Viktor Landauer en sy vrou Liesel ontwerp het. Die Landauers woon in Tsjeggo-Slowakye op ‘n landelike dorp waar die huise ‘n baie spesifieke patroon het. Hierdie huis is heeltemal onortodoks en lyk glad nie soos die ander nie. Dis ‘n konstruksie van glas en staal, waar die lig instroom. In teenstelling daarmee is al die ander huise dig en donker. Verder is die afwerking van dié huis modern en dramaties, maar baie eenvoudig. Die Landauers vlug na Amerika wanneer die Nazi’s in die dorp aankom en dan is die huis eers ‘n basis vir hulle tot dit opgeëis word deur die Russe. So wissel die huis van eienaar tot eienaar en word dit elke keer vir iets anders gebruik. Eindelik beland dit in die hande van die Tsjeggiese regering en word as ‘n laboratorium gebruik en as heenkome vir mense wat deur die oorlog verwoes is. Liesel Landauer kan ná die oorlog, met die val van kommunisme, terugkeer na die huis. Deur ‘n vreemde sameloop van omstandighede is daar ‘n rare hereniging van karakters uit haar verlede. Die perfekte boek vir enigeen wat hou van ‘n lewensdrama wat enduit boei.

Die boek was vanjaar ‘n finalis vir Exclusives se Boeke-prys.

 The Cookbook Collector

The Cookbook Collector, Allegra Goodman (Penguin, R200)
‘n Onkonvensionele liefdesverhaal waarin verskillende fasette van die liefde beskryf word. Eerstens is daar die liefde tussen twee susters, Emily en Jess, en dan is daar hul liefdesverhoudings met die mans in hul lewe. Emily en Jess verskil soos dag en nag en het ook nog heel verskillende uitkyke op die liefde. Emily is baie suksesvol, ambisieus en is die besturende direkteur van ‘n rekenaar-maatskappy. Sy is in ‘n verhouding met ‘n man wat net soveel dryfkrag as sy het en in dieselfde veld werk. Jess, daarenteen, is ‘n meer filosofiese karakter en lyk of sy geen ambisie koester nie. Sy werk in ‘n boekwinkel wat spesialiseer in antieke boeke en haar kêrel is ‘n greenie wat veg vir die behoud van bome. Nou waar kom die titel vandaan, sou jy vra? Die eienaar van die boekwinkel is ook ‘n ernstige versamelaar van kookboeke en hy word ‘n baie skaars kookboek aangebied deur iemand wat eintlik te bang is om dit aan hom te verkwansel. Tog kry hy dit beding dat Jess die kookboek kan bestudeer en dit lei tot die ontdekking van nog kookboeke met kantnota’s en sketse in die boeke deur die oorspronklike versamelaar. So ontwikkel al die verhoudings en word die verhaal vertel deur die ontdekkingsreis deur die kookboeke. ‘n Genotvolle en behaaglike lees!

 The Language of Flowers

The Language of Flowers, Vanessa Diffenbaugh (Macmillan, R184,95)
Weet jy watter betekenis aan spesifieke blomme toegedig word, en dat jy eintlik ‘n boodskap aan iemand gee wanneer jy sekere soorte blomme vir hulle gee? So beteken wisteria welkom, granaat beteken dwaasheid, heide beteken eensaamheid, en so kan ek aangaan – agter in die boek is ’n lys van blomme en hul onderskeie betekenisse. Blomme en die taal wat hulle praat speel ‘n kernrol in die verhaal van Victoria Jones. Sy is agtien jaar oud, het by voogouers grootgeword en sit nou op straat. Sy slaap in ‘n park en plant ‘n tuintjie aan. ‘n Bloemis sien haar raak en gee haar ‘n geleentheid om by haar te kom werk. Deur die blomme wat sy vir die kopers bymekaarsit, verwoord Victoria dié mense se gevoelens. Victoria vertel haar verhaal en die hoofstukke wissel tussen die hede en die verlede. So leer jy haar ken soos sy nou is, en hoe haar lewe en emosies besig is om te verander en hoe sy vrede moet maak met die verhaal van haar herkoms. Dis ‘n boek vir vroue wat jou dieper laat nadink oor jouself en oor vertroue en tweede kanse in die lewe.

 

Tuiskoms – Stories oor die liefde, Irma Joubert (Tafelberg, R160)
Irma Joubert is bekend vir haar geskiedkundige romans soos Tussen Stasies, Anderkant Pontenilo en Pérsomi. Sy skilder haar karakters altyd met deernis en empatie en vertel hul liefdesverhale (die smart en die geluk) oortuigend, sodat jy nie anders kan as om betrokke te raak by hul wel en wee nie. Hierdie bundel bestaan uit kortverhale waarin die liefde in al sy vorme ‘n groot rol speel. Die verhaal Kersfees op Kleinbaai skets baie van ons se tipiese Kersvakansies by die see, verveelde kinders wat probeer om ‘n lekker romanse te hê. Fyn waarneming maak dit ‘n lekker ligte storie. Van die ander verhale gaan oor liefde tussen grootouers en kleinkinders, man en vrou. Dis regtig lekkerlees-korverhale en ‘n bundel wat jy kan saamvat met vakansie en elke nou en dan optel.

 In God se teenwoordigheid

In God se teenwoordigheid, Johan Smit ( Lux Verbi, R119,95)
Hierdie boek met dagstukkies in grootdruk is die ideale Kersgeskenk vir ‘n ouer vrou. Wat die boek lekker maak, is dat daar ‘n tema vir elke maand is en daarom perfek vir Bybelstudie. Januarie se tema is “In die begin” en kyk opnuut na God se skeppingsplan – die verwondering oor die plek van die mens in hierdie plan en dan ook na die stryd wat die mens maar voortdurend voer om op die Here se pad te bly. Van die ander temas is “’n Nuwe lewenstyl”, “Inkeer, bestek neem”, “’n Mens in verhouding met ander” en “Gereed vir môre”. Johan Smit is ’n afgetrede predikant wat voltyds skryf. Uit sy pen het reeds 80 boeke oor ‘n verskeidenheid onderwerpe verskyn.

 

Sê ja vir geluk!, Jannie le Roux (Christelike uitgewersmaatskappy, R99,95)
Die afgelope jaar was ‘n baie moeilike een. Almal wat ek ken het die een of ander groot uitdaging in die gesig gestaar – of dit nou was omdat die ekonomie druk, of dit die verlies van ‘n geliefde was, en of dit aflegging by die werk was. Ek kan amper sê dat almal geraak is deur politiek, finansies, familieprobleme, dood en net algemene onrustigheid oor die toekoms. In dié boek met 366 oordenkings lei Jannie le Roux ons om opnuut te kyk na die keuses wat ons maak. Kies ons om gelukkig te wees? Waarin lê ons vreugde? Waardeer ons die eenvoudige dingetjies wat eintlik blydskap op ‘n daaglikse basis kan gee? Dis moeilik om jouself te motiveer wanneer jou hart swaar is en wanneer jy ongekende hartseer en onrustigheid ervaar, maar die skrywer sê deur reg te kies, kan jy begin om in jou eie lewe ‘n verskil te maak. Die ideale geskenkboekie vir enigeen wat bemoediging in hul lewe nodig het.