Lewe + Liefdes

Uit Saki Marais se Bangladesj-reisdagboek Deel 3

Met die reisgids in my hand stap ek ‘n sirkelroete om al die hotelle wat volgens die gids betroubaar lyk, te gaan bekyk. En daar is ‘n verskeidenheid! 

Die Hotel Sylhet Super is eerste: baie naby aan die stasie, erg scruffy, R30 per nag. Die Asian SR Hotel is aan die ander kant van die prys- en klasspektrum, en dan is daar ‘n goeie ses, sewe opsies tussenin.

My keuse val op die Golden Inn. Daar’s nie ‘n enkelkamer vir vanaand nie. Ek neem noodgedwonge die beskikbare dubbelkamer, sonder om eers te gaan kyk hoe dit lyk. (Iets wat ek NOOIT doen nie, veral nie in budget Asia nie!) Dis ‘n groot, welkome verrassing. Skoon en vars, die beddens nooi jou om op hulle te slaap. Dis wel erg raserig met “Station Road” net ‘n paar vloere ondertoe, maar skoon en netjies maak selfs op vir die hurktoilet in die badkamer. Ek sit my sak neer, gryp ‘n waterbottel en gaan verken die strate.

Skuins links van die hotel se ingang begin die deel van Stasiestraat waar talle van Chittagong se straatmense “woon”. Hulle slaap hier op die breë sypaadjies (ek dink dis die enigste straat op die dorp wat wel ‘n sypaadjie het). Hulle eet hier, kook, kuier en gesels hier en dis ook hul badkamer.

‘n Hurkende seuntjie trek my aandag. Hy’t ‘n hemp aan, maar nie ‘n broek nie en sy ouer sussie loop met hom aan die hand. Saam vra hulle vir aalmoese by al wat ‘n verbyganger is. Ek hurk by hulle en ons raak aan die “gesels” – die sussie in Bengali en ek in Engels (die mannetjie is nog te klein om self te praat). Ons beduie, wys, probeer weer en verstaan maar ‘n baie klein deeltjie van mekaar se kommunikasie.

Ek groet die tweetjies en stap verder. Oral teen die wit muur sit hulle: oues, jonges, mooies, vernieldes, vuiles, die hele lot van hulle – besig om gereed te maak vir nog ‘n aand se slaap op hul sypaadjietuiste.

My tog eindig by die sentrale mark, ‘n malle miernes van bedrywighede. Met die terugstap later sit hulle reg voor die Golden Inn: die kaalbas kleintjie, sy sussie en nog ‘n kannetjie. Kleintjie is al slaperig en ek tel hom op my skoot. So tussen die gesels en die starende omstanders deur raak hy rustig aan die slaap. Op ‘n toe winkel se trappie, op ‘n wildvreemde buitelander se skoot.

Toe die ander mannetjie ook begin vaak word, beduie ek vir sussie dis tyd dat die manne in die bed kom. Ek stap met die slapende mannetjie in my arms tot waar sy ouers op die oorkantste sypaadjie sit met hul lewensbesittings rondom hulle. Ma trek vir kleintjie ‘n langbroek aan (so hy het ‘n broek!) en hy kruip dadelik op haar skoot en slaap verder. Ons maak nog ‘n paar geselsies. Dan groet ek en stap weer ‘n draai deur die mense. Net om later te sien sussie het weer vir baba op die arm, steeds aan die bedel.

Ná my dag in Chittagong waar ek alles gesien en gedoen het wat ek wou, stap ek stasie toe om volgende week se treinkaartjies te koop. Hier van die hawestad af moet jy vooruit dink as jy nie gestrand wil wees nie. Op pad terug stap ek weer kuier-kuier deur die mark, glip by die bank in en koers dan straatop terug hotel toe, besig met my eie gedagtes. Net om naby die ingang my “vriende” te sien: sussie, die kleintjie en die middelste mannetjie.

Ons gesels, maak ‘n paar grappies, lag saam (ons het wel daardie taal gemeen). Sommer met die intrapslag eis kleintjie my arms op en sit sy kop op my skouer.

Dis laataand. Ek wonder hoe gereeld iemand soos hy, hierdie vuil bondeltjie lewe in my arm, VOEL iemand is lief vir hom. Tel iemand hom ooit op omdat hulle WIL, nie omdat hulle moet nie? Druk iemand sy warm lyfie ooit vas en VOEL die verlore liefde? Fluister iemand ooit saggies in sy oor dat hy oulik en mooi en dierbaar is?

My kop stry met homself toe ek later opstap kamer toe. En hulle na hul sypaadjie-plek aan die oorkant van Stasiestraat.

  • anneke

    Soos al genoem Saki, is jou lyf te klein vir jou groot hart!!

  • Johan

    Baie dankie Mr.Marais vir die wonderlike stories in elke land, wat jy al besoek of in gewerk het!
    Wat noem ons die manlike weergawe van "mother Teresa" seker broeder Saki

  • Tjaart Herbst

    Wat ‘n wonderlike geleentheid om jou liefde met die mense te kon deel. Dit sal altyd in hul harte bly, al sal jy lankal van dit vergeet het!

  • Karen

    Yes Sakkie – jy het nog altyd ‘n hart vir kiddies gehad