sonsondergang
Lewe + Liefdes

Uit Saki Marais se Bangladesj-reisdagboek Deel 4

Ek slaap vanaand by die Mermaid Eco Resort buite Cox’s Bazar, aan die suidpunt van Bangladesj, net ‘n klipgooi van die Mianmar-grens af.

Ek het gelees van die eko-projek, maar ek het nie gedink ek sal hier uitkom nie, want dis ver buite die dorp. Om in Bangladesj per pad van dorp tot dorp te reis is nie ‘n plesier nie. Gister se busrit was net kort duskant ses uur om ongeveer 150 kilometer af te lê; nie vier uur soos gekwoteer nie. Ek bly dus vir die paar dae in Cox’s Bazar, of so het ek gedink.

Op die dorp aangekom, het ek summier ‘n riksja na die Mermaid Café geneem, sonder om, soos dit my gewoonte is, heel eerste ‘n bed vir die nag te soek. Die lang busrit het gesorg dat my maag dolleeg hier aangekom het.

By die Mermaid hoor ek van hul eko-oord, en ja, hier is ‘n pryslys vir die oord se verblyf. Peperduur. Die oorweging om ‘n hut te bespreek is dus van korte duur.

Die lang soektog na geskikte, bekostigbare verblyf bring my by Honeymoon Resorts in die hoofstraat.  Die Honeymoon is nou nie ‘n plek waarheen jy goeie vriende neem vir ‘n rustige naweek weg nie. Dis besig (lees: raserig!). Daar’s geen twyfel nie: Ek slaap net een nag hier en vertrek dan berge toe, na die Chittagong Hill Tracts om in ‘n plattelandse dorpie te gaan kyk hoe die oorspronklike bevolking nog steeds hul unieke kultuur leef, beleef en uitleef. Al wat ek immers op Cox’s Bazar kom doen het, was om op die langste sandstrand ter wêreld (blykbaar ‘n volle 120 km) te kom staan.

Helaas, ná my nag in die Honeymoon wil die “by-die-see-wees-gogga” my nie los nie. Hy’t behoorlik gebyt. My hart oortuig my kop die skoon lug en rustigheid van die eko-plek is presies wat ek nodig het. Die pad suid loop ente langs die see, langs die Baai van Bengale. Dis idillies mooi. Die karre en tuktuks word al hoe minder hoe verder ons ry. Ek vra die tuktuk-drywer om tog stadiger te ry. Hierdie omgewing wil ek rustig en stadig indrink.

By die eko-park praat al die personeel Engels, nie vlot nie, maar darem verstaanbaar. Ek word ‘n blommetjie in die hand gestop as gebaar van gasvryheid – ‘n afrikaner wat in ‘n blaar toegevou is en aan die onderkant met ‘n blaarrepie vasgebind is. Die kamerman wys my twee kamers. Ek’s dadelik verlief op nommer een. Dis kleiner, maar het ‘n veraf branderuitsig en ‘n hangmat op die stoep. Nommer twee is goedkoper en het ‘n sitkamertjie en ‘n tweede badkamer. Nommer een, Goat Skin Mule, het my hart gesteel en is duurder as gevolg van “… view and decoration, sir”.

Terug by ontvangs is my welkomdrankie ‘n vars kokosneut met ‘n strooitjie, en raai, ‘n afrikanertjie daarnaas.

Goat Skin Mule se bed slaap heerlik in die middagbries. Toe dit tyd word vir stort voor aandete, spoeg die warm kraan net koue water uit. Ek deel die bestuurder mee ek sal ‘n lou stortjie eerder as ‘n koue een waardeer, siende dit winter is. Hy los die probleem op: Ek word na Surfer, Dude opgradeer. Ek wil nog wal gooi en sê dadelik opgradeer is nie nodig nie, ‘n ander klein kamer sal deug. Die klein kaja langs my is gelukkig nie gereed nie. So ‘n opgradering IS dit!

Surfer, Dude het ‘n hangmat en ‘n wiegende dagbed, twee ou, verbleikte wingbacks op die stoep en die binnekant . . . o, die binnekant!

Ek verstaan dadelik hoekom Surfer, Dude dubbel die prys van Goat Skin Mule kos. Die badkamer lyk dieselfde as Goat Skin Mule s’n, maar hier’s ‘n buitebadkamer ook. Dis ‘n groot opelugvertrek en al die pype is in verskillende diktes bamboes versteek. Die “mure”  is van deurgesnyde bamboes, die loopdele is herwonne houtpanele. Die seep is gemaak deur voormalige prostitute wat gekies het om die bedryf vaarwel te roep en nou ‘n seepmaakbesigheid bedryf. Die klerekassie is van bamboes, die wasgoedmandjie van gevlegte gras. Alles behalwe die matras is van herwonne materiaal gemaak. ‘n Mens voel goed om hier te bly.

Laataand groet ek die sterre, staar vir oulaas na die maan en stap terug na waar my naglantern reeds op die stoep staan en brand. Op die stoeptafeltjie staan ‘n klein mandjie vrugte en twee glasflessies vol snoepgoed.

Die saak is uitgemaak, ek bly vir ‘n tweede nag. Ek wonder of die gawe bestuurder my in Surfer, Dude  sal laat aanbly teen Goat Skin Mule se prys …

*Al die hout, glas en meubels in die eko-park kom van skepe wat by Chittagong uitmekaar gehaal word vir herwinning.

  • Tjaart Herbst

    Ek is absoluut MAL oor jou vertellinge en dit maak my lus om weer my dagboek op te neem. Om nie eens van al jou mooi foto’s te praat nie. Jy kan regtig werk aan ‘n koffietafelboek en ek sal een by jou neem met jou handtekening daarin – lol

    Ja, om so te kan rondgaan en ander dele van die wereld te sien en te beleef, is werklikwaar ‘n voorreg. Ek het ook eenkeer in Fiji op ‘n Eco Lodge afgekom en was so spyt ek nie eerder daar gebly het nie. Wat ‘n wonderlike ervaring was dit net nie en sal ek binnekort hier op Sarie van dit vertel. Jy het my nou lus gemaak om my dagstukkies met jou en die lesers te deel.

    Geniet jou reise en kom kuier hier by my in Thailand! Ek is seker ons het baie in gemeen!

  • saki

    net vanaand met jaloerse ore gesit en luister na twee maaikies wat die week van thailand af teruggekom het. waar woon jy??
    dankie vir die kompliment tjaart, ‘n boek……..wow………sal lekke wees ne! bly jy geniet die foto’s ook. jy moet eintlik die facebook albums kyk. daar’s nog b.a.i.e.
    nou maar ek wag vir die deel. sal gaaf wees om nog uit jou ‘pen’ te lees.
    groete ne.