saki_univ
Lewe + Liefdes

Uit Saki Marais se Bangladesj-reisdagboek

Drie dae in Dhaka
Min mense kom as toeriste Bangladesj toe. Dís wat my hiernatoe gelok het. Off the beaten track, soos hulle sê.

My vlug via China land skuins voor middernag. Oral in die bagasievertrek staan pakkies rond, wat waarskynlik vroeër met vragvliegtuie aangekom het. Elkeen is met ‘n lap oorgetrek en met ‘n dikkerige tou vasgebind. Ek wag ‘n uur vir my bagasie. Die lughawe is rustig, dis immers nag. Almal is besig om te koes vir die brommergrootte muskiete. Hulle is oral. Ek is van Afrika en weet hoe gevaarlik dié klein insekte is!


Dag 1: Ou Stad

Ek ry met ‘n riksja na Ou Dhaka se Bicycle Street. Hier het die riksjakuns sy ontstaan gehad. Dis so ‘n groot deel van Bangladesj se vervoerkultuur. Skuins ná nege is net die tea shops oop. Ek onthou dis Vrydag, biddag vir die Moslems. Dus geen winkels vandag nie.

Ná my eerste koppie tee en vier chapati’s by ‘n stalletjie langs die straat stap ek straatjie vir straatjie deur Ou Dhaka. Ek neem foto’s en is verras deur die mense se vriendelikheid. Almal glimlag, groet en vra “How ARE you?”. En almal verwelkom die kamera. Twee jong manne vra waar ek vandaan kom en wat ek hier doen. Kort voor lank besluit hulle om my toergidse te wees vir die dag. Ons gaan kyk na die oudste gebou. 

Bara Katra, een van Dhaka se oudste geboue is gebou in 1644 deur Mir Abdul Qasem. Bara Katra is in 1644 as ‘n paleis gebou. Daar woon steeds mense in die oorblywende dele. Die oorspronklike ingang het plek gemaak vir ‘n straat wat daardeur loop.

Lalbagh Fort is sowat dertig jaar jonger as die Bara Katra en is baie goed bewaar. Die enorme tuine is die sabbatsmiddag-kuierplek vir letterlik duisende mense – gesinne, verliefde paartjies, skoolgroepe en ons.

Dag 2: Van kinderhuis tot universiteit

My dag begin met ‘n besoek aan die Sir Sallimullah-kinderhuis. Hier woon weeskinders vanaf sewe jaar en hulle bly tot hul skoolloopbaan verby is. 

Hassan Abdul, ‘n onderwyser, neem my van klas tot klas. Die kinders is deur die bank vriendelik en  goed versorg.

Curzon Hall, Dhaka Universiteit Die Dhaka-universiteit is ‘n fotograaf se droom! Curzon Hall  is gebou ná die eerste verdeling van Bengale in 1905 en die styl is ‘n kombinasie van die Europese en Moeghal-styl. Die rooi mure, elegante stoepe en rustige atmosfeer laat my terugverlang na kampusdae.
Curzon Hall, Dhaka Universiteit Curzon Hall, Dhaka Universiteit

My volgende stop is New Market, die grootste mark in die land. Stalletjie vir stalletjie, straatjie vir straatjie is dit kleure, geure, geluide en ‘n gemaal van mense, riksjas, motorfietse.

Ná aandete in Gulshan (die lekkerste naan so groot soos ‘n skinkbord kos R4) stap ek deur die oudhedewinkels. Dis astronomies duur, want Gulshan is die omgewing waar die meeste buitelanders en ambassades voorkom.

Dag 3: Dhamrai

Ek neem ‘n taxi na die Gabtali-busstasie, van waar ek ‘n bus of tuk-tuk na Dhamrai kan haal. Busse is volop, maar ek’s in ‘n tuk-tuk-bui. Dis egter makliker gesê as gedaan. Dit kos soek om ‘n tuk-tuk-bestuurder te kry, maar uiteindelik is ek op pad. Buite die stad is die baksteenoonde waarvan ek so baie gelees het.

Die baksteenoonde buite die dorp. 'n Arbeider met sy kruiwa.

Dhamrai is ‘n klein dorpie net langs die hoofpad. Die inwoners is bekend vir hul vaardighede om juweliersware en ornamente van koper, goud en silwer te maak. Die huis waar Sukanta Banik woon en werk (hy maak onder meer bakke en ornamente van klokmetaal wat platgeslaan word), is ‘n bietjie meer as ‘n eeu gelede deur sy oupagrootjie gebou. ‘n Imposante struktuur met 27 vertrekke. Sy grootouers moes vlug gedurende ‘n politiek onrustige tyd in die vorige eeu, maar kon ná die Bevrydingsoorlogterugkeer en hulle weer hier vestig.

Ek stap die hele ou en nuwe dorp deur voor ek terugkeer na Ou Dhaka. Ek bestel weer ‘n glasie by die teesmous op die hoek van Bicycle Street.

'n Boot by die skeepswerf. Ek neem ‘n klein boot na die skeepswerf aan die oorkant van die Burigangarivier, waar ou skepe herstel en nuwes van meet af gebou word.
'n Vakman aan die werk. Oral langs die smal grondstraatjies is werkwinkeltjies met propellermakers, ystersmede, houtwerkers, noem maar op.

Three Hundred Houses, waar Dhaka se armste van die armes woon, is ook hier. Ons vaar terug om na die huisbote te gaan kyk. Dis nou net-net donker en almal slaap al. Daar’s nie ‘n kersvlam sigbaar of ‘n geluid hoorbaar waar hulle in die middel van die rivier vasgemeer lê nie. 

Ek vra dat die bootman my vroeër aflaai, sodat ek kan terugstap Sadarghat toe. Vir oulaas dwaal ek deur Ou Dhaka. Ek is al moeg en honger toe ek by ‘n barbier verbystap, maar sit summier vir ‘n skeersessie. Hy was my gesig, skeer, vryf weer seep in, skeer weer, spoel af en skeer ‘n derde keer.  Daarna volg ‘n kop-en-skouermassering. Ná ‘n driekwartier van pamperlang betaal ek hom R10 en los die grootste fooi van my lewe.

Dit was ‘n goeie dag: Ek wou graag Dhamrai sien, asook Bicycle Street en ‘n sonondergangvaart op ‘n klein bootbeleef. Daarmee saam het ek die baksteenoonde, skeepswerf en Three Hundred Houses gesien.

Môre haal ek die trein Srimangal toe om na die teeplantasies te gaan kyk. Dis nou as daar vir my ‘n treinsitplek is.

  • anneke

    Fantasties!!! Moenie ophou vertel nie!!!!!
    Vertel van Sagrysie.

  • Tjaart Herbst

    Ek het dit baie geniet om jou vertellinge te lees! Wow, wat ‘n ervaring!

  • Renee

    Mnr Marais!!!

  • Cor Bester

    Saki, dit het gevoel of ek sy aan sy met jou stap my vriend!!!……moet beslis nie ophou nie, jy het nog baie sulke ervaringe my maat. Deel hierdie ervaringe dit is kosbaar.Groete vir jou my vriend.