FOTO: Gallo Images / Getty Images

Verhoudings

6 rooi vlae vir jul verhouding

Julle praat net die nodigste en het deesdae so min pret saam … Die tekens is daar dat jul verhouding op die rotse is. Herken dit en beweeg aan.

Nie alle verhoudings het ’n gelukkige einde nie. En die einde breek dikwels ná baie waarskuwingstekens aan. Natuurlik sal daar in enige vaste verhouding moeilike tye wees en dan werk julle daardeur. Maar dalk is dit dié keer tyd om aan te beweeg. Moenie net oë toeknyp en hoop dis ’n fase of probleem wat vanself sal verdwyn nie. Dóén iets daaraan.

Ons twee kenners, Elizma van der Smit, ’n kliniese sielkundige van Klerksdorp, en Karlien Erasmus, ’n voorligtingsielkundige van Pretoria, het tekens geïdentifiseer waarna jy moet oplet.

Hoe meer daarvan vir jou maar alte bekend is, hoe groter is die kans dat die skrif aan die muur is. (Selfs al is julle gelukkig getroud, kan dit julle net goed doen om deur die lysie te werk!)

Julle bestee ál minder tyd saam

Julle maak planne wat nie die ander persoon insluit nie en vertel mekaar ook nie daarvan nie. Jy bestee meer tyd saam met jou vriendinne as saam met hom. Afsprake word dikwels op die nippertjie gekanselleer of iets val gedurig voor. Wanneer julle wel saam is, sit julle passief voor die TV of is bedrywig met jul selfone. Ja, jy moet jou onafhanklikheid behou, maar dit moenie voel asof julle aparte lewens lei nie.

Jy kla baie

Daar is ’n verskil tussen wanneer jy ’n probleem met ’n goeie vriendin bespreek en wanneer jy aanmekaar kla oor alles wat jou maat verkeerd doen. Soms skroom jy nie om vuil wasgoed in die openbaar te was of om te flankeer as jy iemand ouliks ontmoet nie. Dit dui op ’n gebrek aan respek vir jou maat.

Julle baklei gedurig

Rusies kan ’n goeie en produktiewe manier van kommunikeer wees. Maar wanneer dit die enigste manier van praat is, is dit tyd om aan te beweeg. Baklei julle meer as wat julle lekker gesels en dinge saam doen? Stry julle oor die meeste dinge sonder dat julle regtig ’n oplossing kry? Vra jou af hoe familie en vriende jul konflik beleef – dalk vermy hulle julle oor die voortdurende gehap na mekaar?

Deel nie meer geheime nie

Jy vertel hom nie meer hoe jy voel nie, want jy weet hy sal nie verstaan nie. Jy weet ook nie wat in sy hart aangaan nie en wonder of jy regtig wil weet. Hy trek sy skouers op wanneer jy ongelukkig is en vermy dit om met jou daaroor te praat. Dit voel asof hy nie meer regtig na jou luister nie.

Julle het ál minder of geen seks

Dit is natuurlik as jul sekslewe ná ’n ruk minder passievol is. Maar as dit jou ongelukkig en onvervuld laat voel, is daar ’n probleem. Dalk kan jy nie eens onthou wanneer laas julle intiem was nie. Of seks voel soos net nog iets op jou moet-doenlysie. Dit het ’n werk geword, eerder as iets wat jy geniet en vertroetel.

Dalk is jy nie meer aangetrokke tot hom nie en hy voel verwerp en afgeskeep (of omgekeerd). Of miskien word jou toenadering nie beantwoord nie en ervaar jy die seer van onvervulde behoeftes. Die seks is dalk meestal eentonig en voel “leeg”. Dit kan ook die enigste ding wees wat nog tussen julle werk – en die enigste tyd wat jy geliefd voel.

Die pret het verdwyn

Geen verhouding is altyd lekker nie, maar as hy jou meestal verveel, is jou hart dalk nie in die verhouding nie. Jy raak nie opgewonde oor afsprake nie. Jy geniet dinge saam met jou vriende meer as saam met hom. Die idee van ’n toekoms saam met hom laat jou onseker en bang voel. Jy dagdroom oor die dinge wat jy kan doen as jy nie meer in ’n verhouding is nie, of oor “die spesiale een” wat jy dalk nog gaan ontmoet, of reeds ken. (Dis nie jou maat nie.)

Kontak
Elizma: 018 468 5365, gvdsmit@lantic.com
Karlien: 012 362 7380, info@erasmustherapy.com, www.erasmustherapy.com

AUGustus aug elma smit

In die Augustus-uitgawe van SARIE is daar nóg 6 tekens wat dalk die einde van jou verhouding aandui. Jy kan ook dié uitgawe digitaal aflaai – KLIK HIER.