FOTO: Phyllis Green

Verhoudings

4 Mites oor die huwelik – Deel 2

KLIK HIER vir mites 1 en 2

Jy’s pas getroud, vol ideale en idees oor hoe jul huwelik gaan wees. Maar gooi sommer by voorbaat al daai mites oorboord. En pak jul verhouding nuut aan.

Vind nóg mites oor die huwelik in die Mei-uitgawe van SARIE – op die rakke tot 11 Mei.

Mite 3: Liefde beteken dat ons nooit hoef te sê ons is jammer nie

Hoewel hierdie sêding uit die Love Story-fliek mooi klink, vereis ’n suksesvolle verhouding volwassenheid. Julle behoort elkeen verantwoordelikheid te kan neem vir jul eie lewe en daarom ook te kan erken wanneer julle foute gemaak het. Of dalk iets op ’n ander manier moes hanteer het, sê Hugo. Dis wanneer respek gedy en jul verhouding groei.

Om verskoning te vra is een van die belangrikste boustene van vertroue en die kern van verantwoordelikheid aanvaar, reken Hanli. As jy weet dat jou man sy aandeel sal erken, is jy ook minder angstig oor foute wat nog voorlê. As julle weier om jammer te sê, ontken julle jul foute en mislukkings en dit verhinder groei.

Mite 4: ’n Baba sal ons probleme oplos

Onwaar, sê Hugo. As julle reeds voor jul eerste kind verhoudingsprobleme het, sal dit daarna meestal vererger, toon navorsing. ’n Baba sit julle in die rol van ouers en lei die aandag weg van jul verhouding. Julle konsentreer dalk vir jare saam op kinders grootmaak, maar wat gebeur wanneer hulle die huis verlaat? vra Hanli.

’n Baba ís ’n groot aanpassing en plaas baie druk op die (reeds wankelrige) huwelik, sê  Anna-Marie. Die nare realiteit is dat geloof in dié mite jul kind se lewe kan benadeel. Sy word groot in ’n onnatuurlike ouer-kindverhouding en kan dalk blootgestel word aan te volwasse gesprekke, reken Hanli.

Jy en jou man kan ook wedywer om jul kind se aanvaarding en dit is uiters ongesond vir die ontwikkeling van haar persoonlikheid. Daarby sal sy van ’n jong ouderdom al bewus wees van jul stormagtige verhouding en angstig voel. Later kan sy ook onrustig voel oor die emosionele veiligheid van haar eie liefdesverhouding.

’n Kind leer ook kernaspekte soos vertroue, begrip, aanpasbaarheid en respek van haar ouers, maar dit sal nie kan gebeur as julle ongelukkig getroud is nie.

Diaan Lawrenson Mei

 

 

Vind nóg mites oor die huwelik in die Mei-uitgawe van SARIE – op die rakke tot 11 Mei.