FOTO: Instagram @alice_maria24

FOTO: Instagram @alice_maria24

Verhoudings

Hoe om ’n verhouding reg te beëindig

Liefie… ons moet praat. Jy weet jul verhouding gaan nie uitwerk nie – dis tyd om aan te beweeg. Maar om dit te beëindig lê soos ’n berg voor jou. Dis nooit lekker nie, maar daar is maniere om dit rég te doen. 

Só doen jy dit reg

Verhoudings is byna soos koek bak, sê Ilé Schutte, ’n sielkundige van Centurion. Albei mense bring hul eie bestanddele, en volg dan ’n sekere metode saam om die verhouding te bou. Dus is dit nie net jou kinderjare en vorige verhoudings wat die opbreek beïnvloed nie, maar ook die verloop van die verhouding. Daar is nie ’n standaard- “regte” manier om ’n verhouding te verbreek wat in elke situasie sal geld nie.

As jy ’n verhouding op ’n gesonde manier, met so min moontlik seer vir albei partye, wil beëindig, neem die 5 wenke van Ilé in ag:

1. Leer ken die ander individu en sy/haar behoeftes vóór julle ’n verhouding begin. Dan sal dit makliker wees om dit “goed” te eindig.

2. Plaas jouself in die ander mens se skoene, en dink na oor hoe jy behandel sou wou word.

3. As jy eens op ’n tyd vir jou maat kon omgee, kan jy hom/haar steeds respekteer, selfs wanneer julle uitmaak. Moenie disrespekvol wees net omdat jy nie meer dieselfde voel nie.

4. Wees duidelik en eerlik. Dit sal die kans op onsekerheid en misverstande verminder, en daardie mens kan dan werk aan dié probleme. Vae boodskappe en skimpe is net verwarrend.

5. Daar is natuurlik ook uitsonderings. As jou maat jou verneuk, mishandel, of as hy/sy ’n bekruiper (stalker) is, is meer drastiese stappe geregverdig. Dit sal dan verstaanbaar wees as jy sogenaamde “ongesonde” metodes gebruik, soos om byvoorbeeld ’n derde party te betrek, sê Ilé.

7 maniere waarop mense dit doen

1. Vermyding & onttrekking

Jy vermy jou maat, jy sê nie meer vir hom wat jy dink nie, jy hou jul gesprekke kort of hou op om gunsies vir hom te doen.

2. Jy blameer jouself

Jy probeer die ander mens se gevoelens spaar deur jouself vir alles te blameer, selfs al weet jy julle het albei ’n aandeel daarin dat die verhouding verby is.

3. Eerlike konfrontasie

Jy verduidelik baie eerlik en reguit hoekom jy wil opbreek.

4. Jy raak toenemend meer onaangenaam

Jy stel al hoe meer eise, skimp dat die verhouding verby is, of soek ’n rede om te baklei.

5. Manipulasie

Jy betrek ander mense om die saadjie te plant dat jul verhouding jou ongelukkig maak, of kry selfs iemand anders om namens jou op te breek.

6. Onpersoonlike kommunikasie

Jy vermy boodskappe van jou maat, en sê hom dan af per SMS of e-pos, of deur selfs jou Facebook-status na “enkellopend” te verander.

7. Jy hou aan uitstel 

Jy wag vir die regte omstandighede, jy vra vir tydelike afstand, of vermy dit heeltemal
in die desperate hoop dat dinge sal verander.

Lees ook