Werk_en_Mieke_
My kind

Anja se blog: “En toe is daar vier” (deel III)

Anja van den Berg (32) is ’n ma wie se lewe handomkeer verander toe die onverwagse nuus van nóg ’n baba kom. Boonop het haar man pas ’n nuwe werk in KwaZulu-Natal aanvaar, en haar ondersteuningsnetwerk sit honderde kilometers ver in Johannesburg. Met ’n baba op die heup en een in die maag. Hoe nou gemaak?

Lees Deel I hier

Lees Deel II hier

Making a deal with the devil (of met Barney and Friends)

“Don’t judge other parents. They have no idea what they are doing either.”– 20 Pieces of Advice Moms Wish They’d Received

Voordat ek ‘n ouer was, het ek basies alles geweet van kinders grootmaak. As ‘n kind skreeu in die winkel, gee hom net ‘n klitsie op die boud. Ouers bepaal die kind se patroon en roetine, nie anders-om nie. Wow, weet daardie mamma hoeveel preserveermiddels is in daai visvingers? Dalk moet sy eerder vars groente kook vir haar peutertjie. Tsk, tsk.

As die Saterdagmiddag bietjie vervelig geword het (haha, waar is daardie dae heen?!), sou ek en GP rustig uitgaan vir ‘n warm wafel met roomys en bodemlose koffie, wat goed afgegaan het saam met ons bodemlose tyd. By die tafel langs ons bestel ‘n desperate paartjie elk ‘n glas wyn en ‘n dubbeldik sjokolade-melkskommel vir hulle driejarige. Onder die dekmantel lig ek my wenkbroue, glip ‘n kyk in GP se rigting en bevestig woordeloos my uitspraak oor die situasie: die kind suig homself vol suiker en die ouers is onder die invloed van alkohol! Sjoe, dis darem maar onverantwoordelik.

Mugg & Bean transformeer na ‘n hofsaal en my Saterdag-wafel-tafel word die regsbank. Ek gooi my trui soos ‘n toga oor my skouers. Ek is regter, jurie en kindersielkundige alles-in-een.

Fast forward so vyf jaar vorentoe. Mieke is amper ses maande oud, ek en GP is desperaat vir so bietjie tyd buite die huis. Ons was weke laas uit. Ons draai haar warm toe en glip gou weg vir middagete.   Ek bestel ‘n glasie Chardonnay, GP drink ‘n Heineken. Nagereg is ‘n sjokolade mousse en Mieke probeer hele tyd gryp na ‘n happie. Ag wat, sy’t darem gesonde ontbyt in so ek skep vir haar ‘n lepel vol uit. En toe sien ek dit…skuins oorkant ons. Twee mammas in snyerspakkies, kinders mooi skoon aangetrek en in overpriced stootwaentjies. Ek ken daardie op-en-af kyk. Gee sy werklik vir haar kind sjokolade mousse vir middagete? Fluister-fluister. Suiker, ongesonde vette, kaffeïne in die sjokolade. En daai room bo-op…die baba is nog te klein vir koeimelk. Bestel sy nóg ‘n glas witwyn? En kyk die medepligtige pa se lang glas bier. Arme kind. Tsk, Tsk.

En die skille val van my oë terwyl ek my eie woorde van destyds sluk.

Mieke is nou 14 maande oud, ek is 37 weke swanger en werk holderstebolder om alles gedoen te kry voordat ek inboek by die hospitaal. Ek moet seker maak sy het genoeg kos in die vrieskas, genoeg babysitters gereed vir ná Dehan se geboorte en VERAL genoeg vermaak vir wanneer my hande vol is met ‘n pasgebore baba.

Opgesom: Desperate times call for desperate measures. Ek oorweeg die ondenkbare…’n Barney and Friends DVD! Ek knyp oë toe en kies die oorweldigende kleurvolle verpakking van Lollos 5. Enige een van die twee kassies is in elk geval Pandora’s Box, van hier af is ons televisie meestal gereserveer vir kleuterliedjies en Technicolor. As ek eers daai play knoppie druk, is ons verby die punt van terugkeer…en is dit nie net onbetrokke ma’s wat hulle kinders voor die televisie neerplak nie? Jip, ek onthou daai stukkie kennis uit die dae toe ek nog ‘n ekspert was. Tsk, tsk.

Noudat ek lewe in die regte wêreld, het ek en Lollos ‘n ooreenkoms. Terwyl Mieke vasgenael staan en dans saam met die oor-opgewonde kinder-choreografie, is ek vir twintig minute per aand ‘n onbetrokke ma. Wat maar steeds betrokke is, want ek pak klere weg en maak aandete reg. Maar ek vat ook soms die tyd om ‘n warm koffie weg te slaan en dalk selfs my gesig te was. Volgens my vorige ekspert standaarde laat my kinderopvoeding dan veel te wense oor. Maar ek volg deesdae eerder Roseanne Barr se filosofie: “If the kids are still alive when my husband gets home…then hey, I’ve done my job”.

 

 

 

 

Wie kan dit verstaan?

“There is no greater warrior than a mother protecting her child.” – N.K. Jemisin

Die tyd staan op 36 weke. Mieke staan teen al die meubels. My maag staan soos ’n lugballon. Maar ek verstaan nie die Groot Plan so lekker nie.

Ek lees voortdurend gruwelstories oor kindermishandeling en kinders wat seergemaak word.  Omdat ek nou self’n ouer is, tref sulke nuus my erger as ooit van tevore. Dit was nog altyd vir my terrible, maar nou sien ek my eie dogtertjie, die baba oppad en my broer se seuntjies reflekteer in al die ontstellende opskrifte. Kyk, ek is dalk nie’n natuurlike ma nie maar goeiste, daar is ’n hele paar mense daarbuite wat uit die staanspoor behoort verbied te word om kinders te kry! Natuurlik is dit onmoontlik, maar ek verstaan nie ons samelewing en menslike sisteem so lekker nie – dis moeiliker om ’n Truworths rekening oop te maak of om ’n huis te koop as om ’n méns te maak. En daar is geen vorms om in te vul of eksamens om deur te kom nie, enige iemand wat ‘n broek kan uittrek, kwalifiseer om ‘n ouer te word.

En dan het ouers free range om besluite te neem oor basies alles vir ’n ander, weerlose mensie (of sommer net op impuls te reageer). Ek glo meeste ouers doen die beste wat hulle kan, maar dit lyk beslis of daar party is wat onoordeelkundig voortneuk of op een of ander power trip gaan en hulle mag op ongesonde maniere afdwing.

Dan is daar mense, soos ’n vriendin en haar man, wat duisende rande spandeer het aan fertiliteitsbehandeling, net om uiteindelik uit te vind hulle sal nie kinders van hulle eie kan maak nie. Tog wil hulle so graag teruggee en het aansoek gedoen om pleegouers te word. Hulle is uiteindelik goedgekeur vir die program, maar eers nadat ’n span maatskaplike werkers hulle besoek, besoek en weer besoek het. Toe moes hulle verklarings aflê, verslae instuur, voorbereidingsessies bywoon, berading ontvang en boeke deurlees.

Hulle het dit alles met baie liefde gedoen, maar hoekom kan ek en my man – sonder enige opleiding of beplanning – vir ‘n twééde keer swanger raak en geen sielkundige of psigiater of onderwyser of staatsbeampte kom loer eers deur ons venster nie? Rus die onus op ons naaste bure om maar uit te luister vir moontlike gesinsgeweld en hul eie oordeel te gebruik oor ons ouerskapstyl? (Dis nou hipoteties, natuurlik).

Sover ek verstaan, is dokters verplig om skietwonde by die polisie aan te meld. Hoekom is ginekoloë nie ook verplig om swangerskappe by een-of-ander toegewyde instelling aan te meld sodat ‘n spesialis die vermoëns van die ouers kan assesseer nie? Of ten minste net ‘n paar verpligte lesings kan aanbied oor die verskil tussen straf en opvoeding, die opsies van anti-depressante vir post-natale depressie kan verduidelik en ferm kan waarsku dat kinders nie seksuele speelgoed is nie?

Oor die algemeen probeer ek die gryser kant van die lewe inkleur met so bietjie galgehumor, te giggel vir my eie eienaardighede en dinge nie té ernstig op te neem nie. Maar ek sien nie regtig ’n manier om die belaglike hoë persentasie van kinderverkragting en seksuele misbruik met lighartigheid te benader nie.

Ek’s oukei met die idee dat ons seker eers in die hiernamaals die antwoorde op groot vrae van die lewe gaan kry – hoekom gebeur slegte goed met goeie mense, hoekom kry kinders kanker – maar ek kan nie vrede maak met hoe babas se lot oorgelaat word aan die roulette-wiel nie. Party paartijes wil vier kinders hê, word maklik swanger en is fantastiese ouers. Ander paartjies wil geen kinders hê nie, maak per ongeluk ’n tweeling en is fantastiese ouers. Party babas is die produk van verkragting, ander se mammas glo weer hulle kinders is veilig net om jare later uit te vind ‘n stiefpa of familievriend het hulle misbruik. Dis net so random.

Ek vryf oor my maag, kyk na Mieke wat so beslis begin persoonlikheid kry, en wonder waar is die verantwoordelike volwassene wat hierdie twee mensies gaan vorm en opvoed. Dit kan sekerlik nie ék wees nie, ek weet niks! Maar ek is bereid om op te staan teen konings, kerkvaders en wetmakers om hierdie siele aan my toevertrou te beskerm. En as dit beteken ek moet op tone trap, staande reëls stormloop en sinnelose gebruike omstamp, dan doen ek dit!

11. I’m a witch, I’m a lover, I’m a child, I’m a mother

Woensdag ná werk koop ek kruideniersware. Met Mieke op die linkerheup, ’n winkelwaentjie aan die regterhand en ’n baba-boepens wat ons vooruitloop. Met die inkopielys alweer vasgeplak teen die yskas vergeet, span ek my laaste breinkrag in om die week se spyskaartbeplanning te onthou. Ons slaan eers die broodstasie oor want Miekies grawe graag die bruinpapiersak oop en hap-hap aan elke broodrolletjie. En probeer net iets by ’n eenjarige afvat in die winkel, jy sal tweede kom en ’n paar vuil kyke kry! Ek pyl reguit op die impuls-rak af en maak ’n pakkie kaaskrulle vir haar oop. Van hier af het ons vyftien minute voor die gesigtrek, protes en uitklim-pogings begin.

Intussen betrap die groot derde-trimester-honger my onkant en ’n botteltjie sjokolademelk kom tweede. Tussen my en Mieke betaal ek nogal dikwels meer vir leë houertjies as vir die pakkies wat saam huistoe gaan! Amper by die betaalpun, maar die stryd word op die nippertjie verloor.  Mieke druk ‘n  handvol chips gelyk in haar mond, verstik en spoeg net genoeg uit om my nuwe trui te merk met die eerste kenteken van ouerskap: die kolskoot-kotskol. Op my kraag. Die Scarlet Letter wat aankondig ‘hier loop die swanger ma van ’n eenjarige’. Al wat kort is die morbiede tromspeler wat ons agtervolg.

Vriendelike vreemdelinge vryf oor my maag en gee vir Miekies sjokolade voordat ek kan keer. Te oulik… tot die sugar rush ons slaan! ’n Verdwaalde dogtertjie noem my tannie en wil weet of kan help soek na haar ouma. Verwarde pappas in die baba-rak vra my advies oor formule, doeke en boudjiesalf. En so het ek die afgelope jaar ’n gedaanteverwisseling ondergaan. Van salige Satermiddagslapies na Die Moeder argetipe. Carl Jung sou trots gewees het.

Ek het nie per se iets teen die moederfiguur nie, maar wat van die ander fasette van ’n vrou se persoonlikheid? Ek het soms nodig om my eksentrieke kant vrye teuls te gee, om grootmenswoorde te gebruik, om eerder die hofnar as die hanswors te wees. Ek wil meer dikwels rebels wees, roetine buig en reëls te breek. Vandag gaan ek spontaan wees, toegee tot die ingewing van die oomblik! Ek gaan summier my dagboek ignoreer.  Of wag… Mieke moet haar inentings kry. Dan het ek ’n afspraak by die ginekoloog. En vanmiddag ontmoet ek my nuwe bestuurder. Sug. Ek sal volgende week Dinsdag impulsief kan wees.

Partykeer wil ek my praktiese, plat skoene verruil vir sexy stilettos. Ek wil daai nousluitende, swart nommertjie aantrek en ’n martini bestel by die Black Jack-tafel.  Shaken, not stirred. Of dalk my glasskoene blinkvryf, ’n hoepel-balkrok aantrek en die kollig steel as ek dans met die prins (en natuurlik dramaties uithardloop net voordat die klok twaalfuur slaan). Miskien elke nou en dan my stralekrans verruil vir twee rooi horinkies as niemand kyk nie.

Maar dis al aand en Mieke se kombersies lê nog in die wasmasjien. Ek is vir eers, eerstens, ’n ouer. My varkies loop maar druipstert terug hok toe vir badtyd.

Met dit gesê, is ek ook meer ingestel op kinders as ooit tevore. Elke kind wie se gesig op die aand se nuusbulletin verskyn ruk aan my hart. Elke keer wat Carte Blanche nog ’n storie oor kindermishandeling aan die groot klok hang, voel ek sommer naar. As ek kyk na my eie kind wil ek huil oor soveel kinders wat weggegooi en verwaarloos word.

So, ek is dus beslis ’n mamma, maar ek is óók ’n mamma.  Met ’n rooi boa agter in my kas en wit engel-vlerkies onder-in my laai. Alanis Morisette som dit netjies op: I’m a witch*, I’m a lover, I’m a child, I’m a mother, I’m a sinner, I’m a saint. I do not feel ashamed. I’m your hell, I’m your dream, I’m nothing in between.  ou know you wouldn’t want it any other way.

*Woord vervang

10. Ons verwag ‘n seuntjie

Ons verwag ’n seuntjie! Ek is 26 weke ver en baie verlig om net goeie nuus van die dokter af te gehoor het vandag. G.P. se bestuurder het boonop bevestig dat ons maar eers ná die geboorte Pietermaritzburg toe kan trek, sodat ek naby my ginekoloog en ondersteuning kan wees vir so ’n rukkie langer.  So hoekom voel ek so oorweldig, emosioneel en onseker?

Ek wil net die heel beste vir die mensie hê. Ek eet salm en avokadopeer vir omega 3-olies en drink lemoensap vir vitamiene C. Ook baie melk en amandels. Ek speel vir hom musiek en vryf my maag as hy skop. Maar dit voel nogsteeds asof ek hom vir ’n ander mamma op pas, asof ek ’n surrogaat is wat sy beste belange op die hart dra maar nie regtig met hom connect nie.

Dit klink so aaklig, en ek voel so skuldig daaroor. Almal sê ons is baie geseënd om so maklik weer swanger te raak. En almal het ’n storie oor  iemand wat die skok van ’n miskraam of buisswangerskap of genetiese afwyking moes oorleef.  En sê dat kinders altyd ’n geskenk is.  Ek weet dit alles!  Dit laat my net nog meer skuldig voel.

Hierdie keer is dit nie so ’n maklike swangerskap soos met Mieke nie. Ek is merkwaardig meer ongemaklik en kry Braxton Hicks-kontraksies as ek te vinnig opstaan of vir meer as tien minute op ’n slag op my voete is. Mieke is ’n jaar oud, my man is weg vir drie dae, ek het griep. Al wat ek deesdae dóén is om vinnig op te spring agter ’n peuter aan en dan glad nie weer te ontspan totdat my kop die kussing slaan nie. Nie ’n baie goeie prognose nie… ek’s nie seker hoe om die volgende paar dae te cope nie.

Ek het ook soveel gemengde gevoelens. Ek is skoon verlig om vir Mieke af te laai in die oggend by haar kamma-mamma vir die dag, maar verlang ook na haar as ek ry.  In verwondering as die baba wat ek verwag beweeg en skop, maar ook ongeduldig om weer my lyf vir myself te hê. Dankbaar teenoor my liefdevolle man, ’n hands-on-pappa, fantastiese broodwinner en provider, maar ook so ongelukkig dat ons nuwe status as ouers beteken ons liefdeslewe bly in die slag. Ek het ’n oulike gesin en wonderlike ondersteuning van my familie, maar ek verkies romantiese wegbreke enige tyd bo ’n familievakansie. Ek voel ontuis in hierdie nuwe gesinslewe. Uit plek uit in hierdie rol van ’n ma.

Daai vervulling wat mens blykbaar kry uit kinders grootmaak…ek voel dit nie. Ek doen wat ek moet en is besorgd oor my huismense. Ek maak seker die beddegoed is skoon, dat daar gesonde kos in die yskas is, dat ek ’n salaris inbring. Ek probeer die veranderinge werklik omarm, en soms is daar oomblikke wat genotvol is. Maar oor die algemeen voel dit net asof my verantwoordelikhede meer geword het, en my geluk minder.

Mieke is vandag ’n jaar oud.  Ek het steeds nie al my varkies op hok nie, en ek het steeds nie dinge agtermekaar nie. Met my beperkte kennis kan ek byna nie glo sy het dit so ver gemaak nie! Sy floreer en is baie gelukkig. Maar ek steek my arms hoog bo my kop uit om haar bo-water te hou, terwyl ek verdrink in die vloedwater hier onder.

Dit lyk of G.P. so natuurlik en maklik met haar speel en haar geniet. Hy sê ek is dalk net nie ’n klein-babatjie-mamma nie, en dat dit okay is. En dat ons verskillende sterkpunte het – hy kan haar op sy skouers ronddra, ek maak seker haar handdoeke is skoon. Ek gee haar tonne drukkies en soentjies en ons speel lekker op die mat. Maar eerlikwaar…ek geniet dit nie regtig nie. En cue die skuldgevoelens!

Ek verstaan nou vir die eerste keer hoekom my ma so gereeld na Net ’n Tikkie Vryheid van Rina Hugo geluister het toe ek ‘n kind was. :)

En ek wonder hier, in die stilligheid van middernag, alleen by my rekenaar, hoe ek my lewe anders sou kies as ek weer kon begin…

9. Mamma Sutra (PG13)

Sex makes babies. So it’s ironic that the child, the embodiment of the couple’s love, so often threatens the very romance that brought that child into being.” – Esther Perel, Mating in Captivity

Ek was nog nooit ’n groot aanhanger van die Kama Sutra nie. Nie dat ek iets daarteen het nie, dit lyk net na te veel moeite. En asof mens moet strek-oefeninge doen voor die tyd. Ek is wel nou, teen wil en dank, uitgekies vir die Kama Sutra vir getroude ouers. Teensinnig moet ek gereeld ingee tot “the dishwasher position”, maar geniet soms in die geheim “the waltz of the sloths”. Dis net jammer dat nie een van die scenario’s bedpret tot gevolg het nie.

Ek mis ’n Red Bull vir energie of ’n groot glas wyn vir ontspanning  –  albei opsies basies buite die kwessie met die swangerskap. So, tussen die groot Moeg en die groot Maag is die gees gewillig maar die vlees reeds aan die slaap. Die enigste bedroom spice waarvoor ek deesdae kans sien, is Indiese wegneemetes onder die duvet.

Ek het al ’n paar aksieplanne beraam om dinge tussen die lakens bietjie op te kikker: Die Italian kisses in die vrieskas moes ’n vinnige liplekker-nagereg wees. Die idee was om dit vir mekaar te voer. Maar die happies is net te klein om middeldeur te byt en net te groot om die hele ding in my mond te sit én steeds sensueel te lyk (breinvries lei tot skrikwekkende gesigsuitdrukkings). Toe troos ek maar myself een aand in die bad en eet die res van die pakkie alleen op.

Ons probeer ook wegbreek vir date nights, maar dis few and far between…gewoonlik verg dit soveel beplanning dat ons gedaan by die huis aankom. ’n Aandjie saam uit was altyd gesellig en lekker selfsugtig. Ons kon lag en gesels en na hartelus rooiwyn drink. Sommer bly vir ’n creamy cappuccino. Deesdae bestel ons so vinnig as moontlik ’n Windhoek Light en ’n Appletiser en gesels oor ’n paar praktiese reëlings, skedules en datums. Ons hou darem hande vas en vat ’n blaaskans, maar sit eindelik in stilte soos wat elkeen tot verhaal probeer kom.

Ek verras my man met sexy sms’e deur die dag, maar is dan só verlig as Mieke vroeër aan die slaap raak en ek so bietjie tyd vir myself het. Uiteindelik ’n halfuur om ’n gesigmasker op te sit en een artikel in my nuutste SARIE te lees! Dan is ek gedaan. Jammer skat, ek het hoofpyn. En ek kan nie eens behoorlike pynstillers drink daarvoor nie.

O ja, en dan het ek ’n craving vir kookeiers. Wat ’n on-sexy, on-sensuele ete – roosterbrood met kookeier! Ek weet dis propvol voedingstowwe en minerale, maklik en prakties om te maak. Maar daar is net iets baie on-sexy aan kookeiers. Blykbaar gee my hormone nie veel om vir my liefdeslewe nie. Kon ek nie maar ’n craving vir sushi of korma-kerrie gehad het nie?

Ek oorweeg ’n afternoon delight, hy moet nog by Builders Warehouse stop. Hy soen my nek, ek wil net eers ’n kaasbroodjie eet. Duidelik is ons planne om die passievlamme weer aan te steek nie baie suksesvol nie.

Dit laat my wonder, is daar dalk ’n spesiale Kama Sutra-scenario vir ’n mamma van ’n peuter en met ’n maag so groot soos ’n klein waatlemoen? ’n Paradigma wat ’n fantasiewêreld kan skep vir lovers wat saam vuil doeke omruil en opgooi skoonmaak? ’n Reeks posisies wat ’n swanger mamma  – wat haar bene soos ’n ster moet buig as sy buk – sexy kan laat voel?

Kan iemand asseblief die Mamma Sutra skryf en die prys van die boek (posgeld ingesluit) vir my e-pos? Dink aan posisies soos Die Bottelmaak/Borsvoed Bons, Kitsgereed Kafoefel en Slaap-met-oop-oë-orgasme. En heg sommer ook ’n geskenkbewys vir Libido Booster daarby aan.