FOTO 
Pressfoto - Freepik.com

FOTO Pressfoto - Freepik.com

Verhoudings

TV-vroue bedank – is hulle geboelie?

Hoe sal ons weet of dit ’n “geboelie” is . . .

Almal wonder. Drie vroueaanbieders van eNuus het die afgelope maand bedank: eNuus-aanbieder Jenna-Leigh Bilong, eNuus-ankeraanbieder en -joernalis Anina Peens en eNuus-aanbieder en -nuusskrywer Limari Louw. Hulle voer verskeie redes (nie ’n geboelie nie) vir hul bedankings aan.

boelies strip

Volgens ’n berig op Netwerk24 wou Anina meer spesialis- en mensestories doen. Sy reken die paar minute wat ’n nuusinsetsel duur, laat nie altyd reg geskied aan die storie nie. Limari het gesê een van die redes vir haar bedanking was die bestuur. Jenna-Leigh het gesê sy het weens “persoonlike redes’’ bedank. Maar bronne het aan Netwerk24 gesê die eintlike rede vir hul bedanking is ’n beweerde geboelie deur veral twee senior bestuurlede.

In die dilemma “Hoe nou? My kollegas span teen my saam” (SARIE, Oktober 2011) antwoord Murray Jooste, ’n sielkundige van Worcester, dit is uiters traumaties om die slagoffer van samespanning (mobbing) te wees, want almal streef na erkenning. Hy sê voorts in enige hiërargiese stelsel is daar altyd wedywering. En hy maan: “Die uitdrukking it’s lonely at the top is nie net waar van jou baas nie, maar ook van jou. Niemand is absoluut veilig in ’n magsposisie nie.” Maar hy reken as jy eers magspel of samespanning verstaan, kan jy jouself daarvan distansieer. “Dit gaan nie oor jóú nie, maar oor jou posisie binne die maatskappy.”

Murry gee ’n paar wenke vir slagoffers:

• Tree dadelik op, want samespanning (en ’n geboelie) word mettertyd erger.

• As jy sien daar word lelik gepraat met iemand of hulle word uitgesluit, sê byvoorbeeld: “Ek dink nie iemand wil hê daar moet so met hulle gepraat word nie.”

• Hou rekord van die boelie se optrede sodat jy jouself kan beskerm.

• Praat met kollegas wat jy vertrou oor hoe húlle dink jy die probleem moet hanteer.

• Praat met iemand meer senior as jou baas. As niks gebeur nie, rapporteer dit aan die menslikehulpbron-afdeling.

• Raadpleeg ’n professionele berader sodat jy die situasie beter kan verstaan en hanteringsmeganismes kan aanleer.

• Kweek ’n dik vel.

• Besoek jou dokter oor stressimptome soos slaap- en spysverteringsprobleme.

• Maak jouself geestelik sterk deur jou geloof, sport, ontspanning en gesinslewe.

In die artikel op Netwerk24 het Anton Harber, hoofredakteur van eNCA, gesê groot veranderings en personeelskuiwe is by eNuus op pad. Hy het nie kommentaar gelewer oor die bedankings nie, maar het gesê ’n geboelie sal nie toegelaat word nie en dat daar vinnig opgetree sal word om dit te stop.

“Jy kan nie die probleem alleen aanpak nie. Die oplossing is gesonde bestuurspraktyke wat bo begin. Jul maatskappy behoort ’n zero-verdraagsaamheidsbeleid (teen boelies) op te stel,” het Murray gesê.

“Ironies genoeg is slagoffers meestal gemotiveerde, hardwerkende en prestasiegerigte mense wat nie net ’n hoë premie op persoonlike integriteit plaas nie, maar ook die belange van die maatskappy en medewerkers op die hart dra,” reken Murray.

BRONNE: Netwerk24, SARIE, www.manageangerdaily.com