FOTO Neville Lockhart

FOTO Neville Lockhart

Verhoudings

‘Danksy SARIE vind ek ware liefde’ – leser vertel

Wie sou kon dink ’n SARIE-artikel sou lei tot ’n romanse? Hannelore Olivier, musiektegnoloog van Pretoria, vertel met ’n wye glimlag dit is presies wat gebeur het.

Haar geliefde van die afgelope ses maande (hy wil nie sy naam noem nie), ’n sake-analis van die Kaap, was só betower deur dié meisie se verhaal in SARIE, dat hy haar op Facebook opgespoor het. Hy het ’n vriendin gevra om Hannelore se e-posadres (deur Facebook) te kry en só het hulle begin kommunikeer. Ook af en toe op WhatsApp.

Hoewel hy met die lees van die artikel geprikkel is, het hy dinge eers bietjie uitgekyk. Dit sou eers ’n paar jaar (en e-posse!) later wees dat hy op die vliegtuig spring en besluit om haar persoonlik te ontmoet.

Die res is geskiedenis. Die eerste naweek wat die twee saam deurgebring het in Pretoria, het Kupido se pyle albei in die middel van die hart getref.

“Hy was mal daaroor dat ek so onafhanklik is. Nes ek, wou hy hom hoeka nie vroeër romanties verbind net ter wille van die samelewing se voorskrifte nie. Hy het iemand ‘anders’ gesoek wat nie sy vryheid sou inperk nie, sáám met wie hy nuwe dinge kon ontdek. Ek ook.”

Maar wát het sy hartsnare dan so geroer? “Hy het ’n ou SARIE – kan jy glo, die enigste een wat hy by sy ma kon kry – opgetel en deurgeblaai. En daar was ek. Toe lees hy hoe versot ek op reis is.” Sy het tussen 2002 en 2014 die Ooste deurkruis: sy is vyf keer Indonesië toe, twee maal na Thailand, en was ook in Egipte, Maleisië, Singapoer, Hongkong en Indië. Sy het boonop van 2004 tot 2006 Engels in Taiwan gegee en daarna nog ses maande in Suid-Korea.

“Die reise het my lewe verander. Ek kook sedertdien graag Thaise en Indiese geregte. Die kleure en geure van die Ooste het my kuns beïnvloed. Deesdae doen ek baie mandalas en ek gebruik kleure soos oranje, rooi, geel en blou as ek ander kuns doen – dikwels met ’n draak iewers.” En die Oosterse musiek – melancholies en passievol – het haar geïnspireer om installasie-klank-kuns te skep. Sy span byvoorbeeld saam met kunstenaars soos die pottebakker Laura du Toit van Stellenbosch, en komponeer musiek wat die gevoel van Laura se potte weergee.

“Die gebedsvlae in Indië het my veral bekoor. Wanneer die Indiërs rou, span hulle ’n wit vlag wat wapper aan ’n regop paal in die wind. Dit word gewoonlik opgerig in die woud. Wat beter as daai windgeluid om musiek te komponeer?” vra sy.

Hannelore se geliefde het ook daarvan gehou dat sy droomvrou naweke graag branderry (veral by die Strand) én dig. “Voor ek hom ontmoet het, het ek veral oor die hartseer van die liefde of die verganklikheid van die mens gedig.” Deesdae is sy vroliker.

“Ek is mal daaroor dat hy sý passies, onafhanklik van my, kan geniet: om te stap in die natuur, motorfiets te ry …”

Maar hulle bring ook graag tyd saam deur soos die afgelope Kersfees, toe hy haar uitgebreide gesin in Bloemfontein besoek het. En daarna was hulle was op ’n tien dag lange road trip deur die land. Meer onlangs by die kunsfees AfrikaBurn in die Tankwa-Karoo.

“Ons sien kans vir mekaar. Op veertig weet albei wat ons soek in ’n vennoot. Ons het immers lank rondgekyk en met ander uitgegaan. Ek glo ons het om ’n rede oor mekaar se pad gekom,” sê Hannelore. Sy hoop om binnekort Kaap toe te trek sodat hulle bymekaar kan wees.

Lees nou

Die storie oor Hannelore in SARIE Desember 2011

Dilemma: Ek hunker nog na my eks

Dilemma! Pasgetroud en nou is ek spyt