Foto ter illustrasie
FOTO: Instagram @kitsunekun

Foto ter illustrasie FOTO: Instagram @kitsunekun

Verhoudings

Die ‘ander vrou’ skryf: ‘Ons paaie moes kruis’

’n SARIE-leser skryf:

Ek was nog altyd eerste om vroue te veroordeel wat betrokke raak by getroude mans. In die Bybel staan daar dan dat egbreuk sonde is. Hierdie vroue word lelike name toegevoeg.

Totdat ek self in ’n getroude man se lewe “beland” het. Ons het onsself aanhoudend afgevra hoe dit kon gebeur, want ons is Christene, grootgemaak dat buite-egtelike verhoudings verkéérd is.

Eers was dit onskuldige SMS’e, onskuldige koffie-afsprake en kuiertjies by mekaar as my man op ’n kursus is of sy vrou laat werk. Ons het begin gesels oor ons huweliksprobleme. Besef ons práát gemaklik oor persoonlike goed, iemand luister en gee om. Dan verander ’n onskuldige koebaai-drukkie eendag in ’n koebaai-soen. ’n Week later is nie die drukkie of die soen meer onskuldig nie.

Ons “beplan” ons ontmoetings. Praat oor ons gevoelens vir mekaar. Wonder oor ’n moontlike seksuele verhouding. Besluit dan om saam te slaap. Ons noem dit nie seks nie, want dis méér as dit. Tog besef ons ons speel met vuur, ons kan uitgevang word. Ons besef ons “verhouding” kan op niks uitloop nie. Ek het boonop drie pragtige kinders.

Dan ontdek my man ’n onskuldige goeienag-boodskap op my foon, en hy begin vrae vra. Ek slaan vure dood, maar hy wéét …

Ons besluit om ons skelm verhouding te beëindig.

Vir my die moeilikste besluit wat ek nog ooit moes neem. My geliefde kies die pad na die skeihof. Hy het saam met my ontdek hoeveel daar in sy eie huwelik fout is. Hulle kommunikeer al vir jare nie meer nie. My man het besef hoeveel hy kan verloor as hy nie ’n daadwerklike poging aanwend om ons huwelik te red nie. Veral ter wille van die kinders. Ons gaan nou vir berading en dit gaan goed.

Ek het in hierdie hemelse tydjie besef hoe maklik ons mense oordeel. My buite-egtelike verhouding het moontlik my huwelik gered, dit het my geliefde laat besef hy het nie meer ’n huwelik nie. Dalk was dit die rede dat ons paadjies moes kruis.

Beteken ’n buite-egtelike verhouding die einde van ’n huwelik?

  • JA
  • NEE

*Dié brief verskyn in ons Maart 2015-uitgawe as deel van reaksie op die opspraakwekkende artikel “In die kop van die ander vroue” in ons Januarie 2015-uitgawe. Die uitgawes is nie meer op die rak nie, maar kan steeds digitaal afgelaai word om op jou rekenaar, tablet of slimfoon te lees – klik HIER.