FOTO: Getty Images / Gallo Images / Christian Wrangsten / EyeEm

FOTO: Getty Images / Gallo Images / Christian Wrangsten / EyeEm

Verhoudings

Dilemma! Pasgetroud en nou is ek spyt

Ek is onlangs getroud. Pleks van opwinding en verliefdheid voel ek eerder vasgevang en ontevrede. Dit voel of my onafhanklikheid weggeneem is en asof ek heeldag net skottelgoed was en goed agter my man optel. Ek begin wonder oor my toekoms, want ek moet nou op ’n plaas woon en die beroepsmoontlikhede hier is minder. Eintlik is ek moedeloos en voel ek die meeste dae spyt dat ek getrou het. Hierdie gevoelens laat my skuldig en ondankbaar voel, maar ai! Ek het altyd gedink om te trou gaan jou lewe net beter maak.

Liizl Miller, kliniese sielkundige van Pretoria se raad

Ek neem aan jy het by jou man ingetrek ná jul troue. Om te trou, te verhuis en van beroep te verander is van die lewe se grootste stressors, daarom is dit glad nie vreemd dat jy so voel nie!

Jou persoonlike lewe en beroep is ontwortel en dit lei tot gevoelens van isolasie, verwarring en frustrasie. En dit alles terwyl jou man kon aangaan met sy beroep in sy bekende omgewing. Jou verwagtinge van die huwelik verskil ook van die werklikheid. Dit alles saam veroorsaak jou ontevredenheid, en daarom voel jy ook skuldig.

Probeer vasstel wat jou behoeftes is. Doen ’n bietjie selfondersoek.  Wat is vir jou belangrik? Wat het jy nodig om intellektueel gestimuleer te voel? Hoe kan jy betrokke raak in die gemeenskap? Watter nuwe uitdagings kan jy vir jouself stel? En hoe kan jy dié nuwe uitdagings aanpak?

Hoe meer jy voel dat jy jou potensiaal bereik op verskillende maniere, hoe meer sal jy ook jouself kan uitleef in jou huwelik.

Bespreek dit met jou man. Verduidelik ook aan hom hoewel jou huweliksbehoeftes vervul word, word jou persoonlike behoeftes nie vervul nie. Dalk kan julle saam ’n huweliksberader gaan spreek sodat julle kan leer om doeltreffend te kommunikeer en die probleme te  hanteer. Jy kan ook met ’n sielkundige gaan gesels, iemand wat jou kan help om jou nuwe identiteit te verken, jou verwagtinge van en jou rol in die huwelik beter te verstaan, en om aan te pas by jou nuwe lewe.

FOTO: Getty Images / Gallo Images / Christian Wrangsten / EyeEm

FOTO: Getty Images / Gallo Images / Christian Wrangsten / EyeEm

Kontak Liizl | 082 783 7155 | www.lmiller.co.za

  • Riana

    Stem saam! Sorg dat julle by ‘n huweliksberader uitkom. As hy/sy ‘n bietjie meer “coaching” as berading doen, kan hy/sy julle help om saam te soek na maniere om vir jou ‘n vervullende lewe te bou – langs en saam met jou lewensmaat. En ja, ek weet, dikwels dink mense dat ‘n huweliksberader net die oorloë tussen lewensmaats moet bemiddel. Vandag se huweliksberaders doen egter veel meer. Hulle rig jou af om die “spel” van julle verhouding so te speel dat julle saam wen. As jy meer wil weet hoe hulle werk, kan jy gerus loer by http://www.huweliksberader.co.za