Dilemma: Verlief op die verkeerde mans
Ek val pal vir die verkeerde man. Eers voel dit soos die groot liefde, hy bederf my en laat my goed voel, maar kort voor lank is hy erg besitlik, knou hy my af of laat hy my in die steek.
"Sal ek ooit iemand ontmoet wat vir my goed is? Skort daar iets met mý dat ek sulke mans aantrek? My ouers is geskei toe ek klein was, en ek het my altyd voorgeneem dat ek eendag gelukkig getroud sal wees. Dit sal seker nooit gebeur nie." – SARIE-leser
Truida Heymann sielkundige berader van Panorama, antwoord:
Jy moet introspeksie doen: Net soos ’n doring pyn veroorsaak totdat jy dit uittrek, só veroorsaak hierdie verkeerde mans heeltyd pyn totdat jy die dieper rede vir dié patroon (wat dikwels spruit uit jou kinderjare) verstaan en hanteer het. Eers dán kan jy heel word. Ons kies onbewustelik maats om twee redes: Hulle het die positiewe en negatiewe eienskappe van ons ouers, of ons glo hulle gaan ons onvervulde behoeftes vervul.
Jy’t reeds ’n eerste stap na heling geneem: Jy besef jy is vasgevang in ’n patroon. Jy besef jy is die een wat onbetroubare mans aantrek. (Party vroue mors al hul energie deur die man die skuld te gee en te probeer om hom te verander, pleks van om te fokus op die patroon wat hul keuses beheer!) Jy kan baie uitrig deur jou eie skaakstukke te skuif. Dis ál wat die man kan dwing om, as hy kan, te verander. So nie gaan dit jou help om die verhouding te beëindig en om eendag goeie mans aan te trek.
Die tweede stap: Vra ’n betroubare persoon om jou te ondersteun.’n Terapeut is ideaal. Of ’n wyse vriendin – ek twyfel of ’n direkte familielid sal werk. Jou vriendin moenie raad gee nie, sy moet bloot ’n getuie of klankbord wees. Dis belangrik. Goeie leesstof is Getting the love you want, of Keeping the love you find, deur Harville Hendrix.
Die derde stap en die kern van jou heling is dat jy die patroon prober uitken en vasstel wáár in jou kinderjare die wortels lê.
Kom ons fokus op 3 moontlike patrone
1. Jy val dikwels vir ’n prins op ’n wit perd. Sy hofmakery en beloftes bring sterre in jou oë. Maar stadigaan kom jy agter sy wêreld draai net om homself. Jou belange tel glad nie. Hy luister nie na jou menings nie. Later verkrummel jou selfvertroue.
Vra jouself: Het my ma of pa my laat voel dat ek net bestaan om hul beeld blink te vryf? Was een erg selfgesentreerd en dominerend? Was die boodskap dat ek eintlik onbelangrik is, liefs moes swyg en my eie begeertes opoffer?
2. Jy raak gewoonlik verlief op ’n sterk, besliste man. Hy laat jou veilig voel – totdat jy agterkom hy gun jou geen vryhede nie. Gereelde kritiek en woede-uitbarstings maak jou ál banger en onseker as jy besluite moet neem.
Vra jouself: Was ek ’n muis in my ouerhuis? Het my ma of pa ysere kontrole uitgeoefen? Moes ek my insiatief opoffer omdat ek bang was om foute te maak? Was een van my ouers dikwels aggressief? Was daar mishandeling?
3. Jy raak verlief op mans met diepgewortelde minderwaardighede. Eers probeer jy hom
ondersteun en opbou, maar dan besef jy hy het soveel skanse, hy kry so gou seer of is so ou jaloers, dat jy op eiers moet loop en jou spontane self moet opoffer. Boonop soek
En jy begin wonder: Wat kry ék hieruit?
Vra jouself: Het een van my ouers my onbewustelik “opgesuig” om hulle te ondersteun? Was my ma depressief? Moes ek die atmosfeer tuis verlig? Moes ek redder speel om liefde te kry? Is ander kinders voorgetrek?
4. Die vierde stap is om jouself te sien as kind en tiener, en om simpatie te hê met die skade wat dié patroon tóé al aan jou gedoen het. Die meeste kinders weet nie eens hulle word benadeel nie – hulle dink dis normaal. Gesels oor traumatiese insidente destyds, want dan doem die woede, onregverdigheid of seerkry gewoonlik op.
Skryf ’n eerlike brief aan die persoon wat jou kleintyd benadeel het – jy hoef dit nie aan jou ma of pa te gee nie, maar deel dit met ’n getuie. Jy kan dalk vir ’n ruk, soms selfs weke lank, hartseer en sonder woema voel. Dis tekens dat die ou patron begin uitsterf. Wees geduldig. Dis die moeite werd.
Ek sien dikwels hoe een suster uit ’n gesin met die hulp van terapie ’n gelukkige verhouding vestig, terwyl die ander suster ’n slagoffer bly. Jy kán verkeerde mans agterlaat. Die selfondersoek kan van twee maande tot ’n jaar duur, maar op ’n dag gaan jy weer lag, en as die tyd ryp is,’n maat kry wat die beste in jou uitlok en vir jou goed is!
VIR HULP
Truida 021 930 1368
Stuur gerus jóú dilemma na suzette.truter@sarie.com.
Verwante artikels
-
Dilemma: "Ek wil kinders hê, hy nie"
SARIE - Mei 2010 | Kommentaar: 1
"Ek en my verloofde staan op trou. Hy sê hy wil nie kinders hê nie. Hy is oortuig dit gaan net ons verhouding skade aandoen..."
-
Dilemma: Verlief op vriendin se eks
SARIE - April 2010 | Kommentaar: 4
"My beste vriendin het baie swaargekry toe sy en haar man geskei is en sy is nóú eers oor hom, sê sy. Ek en hy het mekaar toevallig raakgeloop en begin gesels en daar is regtig die moontlikheid van iets besonders tussen ons."
-
Dr Eve-dilemma: "Seks was nog nooit lekker"
SARIE - September 2009
Vraag: Ek is 27 en seks was nog nooit lekker nie, al het ek verskillende tegnieke probeer. Ek probeer die indruk by my vriend skep dat ek nie in seks belangstel nie.
-
Haar-dilemmas? Hier's raad vir alle haartipes
SARIE Januarie 2010 | Kommentaar: 5
Dink klassieke Hollywood vir jou somerhare - 50's-style is weer nuut!
-
Niemand hou van haar nuwe kêrel nie!
SARIE - Desember 2009
'n Baie goeie vriendin gaan uit met 'n man wat niemand in ons vriendekring kan verdra nie.
-
Vriende geskei, wie se kant kies jy?
SARIE Januarie 2010
"Baie goeie vriende van ons is geskei. Dis vir ons 'n tameletjie, veral omdat ons as gesinne baie saamgedoen het. Ek mis hulle. Wie se kant kies ons?"
















Kommentaar