12gecko_jewellersrz
Verhoudings

Vriende geskei, wie se kant kies jy?

“Wie moet ons nooi na gesellighede? Ek voel asof ek dislojaal teenoor my vriendin is as haar eks hier by my man kuier. Ek het nog altyd gevoel hy is die rede hoekom hulle geskei is, maar nou begin ek ander stories oor haar hoor. Dit lyk byna asof ‘n mens nie met albei vriende kan bly nie. Ek wil nie dat een van die twee by my afpak oor die ander nie, maar dit gebeur reeds. Ek is ook bang dit veroorsaak onenigheid tussen my en my man, want hy is baie erg oor haar eks-man.”

Kirsten Long lewensafrigter van Johannesburg

 
Mense besef nie altyd dat die vriende van geskeide paartjies ook deur ‘n mate van skok, trauma en aanpassing gaan nie.

Die eerste ding wat jy moet doen, is om grense te stel. Verduidelik aan hulle dat jy vir albei omgee en albei steeds graag wil sien. Wanneer sy haar eks wil slegsê, verduidelik dat jy nie bereid is om hom met haar te bespreek nie. Sy sal ook meer gerus voel dat jy haar nie met hom sal bespreek nie. 

Hulle sal besef dat jy albei ondersteun.

Dinge sal dan begin bedaar. Maar jy kan nie jou vriendskap met al twee behou nie. Dis ongelukkig die aard van skei. Almal is egter volwasse genoeg om die situasie reg te hanteer.

Probeer verskillende maniere, soos om hulle na aparte gesellighede te nooi, om te kyk of die vriendskap kan aanpas. Maar aanvaar dit as ‘n ongelukkige verlies as dit nie uitwerk nie. Die lewe beweeg uiteindelik aan en julle sal nuwe bande vorm.

Maak seker jy kyk mooi na jou en jou man se verhouding.

Julle voel albei nou kwesbaar. Egskeidings dwing jou om ook na jou eie huwelik te kyk, en jy besef dan dit kan met enigiemand gebeur. Praat openlik en eerlik met mekaar. Ondersteun en moedig sy vriendskap met haar eks aan. Bespreek jou angstigheid en onsekerhede met hom en vra hoe dit met hom gaan.

Werk saam uit hoe julle vorentoe die moeilike tyd gaan hanteer. Onthou, hierdie ding sal ook oorwaai.

Kevin en Elise Fourie, getroude voorligtingsielkundiges van Pretoria

Moenie vergeet nie, daar is ‘n vriendskap wat vir almal kosbaar was, en onthou dat dit behou kan word, al is dit in ‘n ander formaat. Dis belangrik om nie kant te kies nie, want elke saak het twee kante. Net soos dit twee mense neem om ‘n huwelik te laat werk, neem dit ook twee mense om ‘n huwelik te laat verbrokkel.

Jy en jou man kan apart aan die vriend en vriendin oordra dat julle nie gaan kant kies nie, dat die vriendskap belangriker is as hul egskeiding en dat julle albei wil ondersteun. Kom ooreen dat julle eerder daarop sal fokus om die vriendskap te behou, dat julle eerder nie oor die egskeiding wil praat nie en dat julle hulle aanvanklik nie saam na geleenthede sal nooi nie (eerder om die beurt). Julle kan hulle later weer gelyktydig nooi.

Pasop dat dit nie konflik tussen jou en jou man veroorsaak nie – jul huwelik kom eerste. Kom met jou man ooreen dat julle nie oor hulle gaan rusie maak of kant kies nie.

Babette van Wyk SARIE-leser van Durban, uit eie ervaring

‘n Paartjie wat ons al 20 jaar lank ken, is uitmekaar. Ons gesinne was baie geheg aan mekaar – ons kinders het saam in doeke gespeel en saam grootgeword.

Aanvanklik het ek elkeen apart probeer raad gee, maar die hele situasie het net te uitputtend geraak.

Ek het naderhand vir hulle gesê dat ek albei ondersteun, maar dat ek nie meer kommentaar kan lewer nie. Sê vir hulle dat hulle welkom is om hul hart oop te maak, maar dat jy geen raad kan gee of kant gaan kies nie. Anders gaan jy maklik dislojaal teenoor die ander party voel.

Wanneer dit by gesellighede kom, nooi die persoon wat die beste met die ander gaste gaan meng.

As julle byvoorbeeld op ‘n visvang-uitstappie gaan, nooi die man saam, en as dit na ‘n fliek of die teater is, nooi die vrou.

Praat rustig met jou man daaroor en kom ooreen dat julle net gaan luister en eerder op die vriendskap gaan probeer fokus. My beste raad is om nie raad te gee nie.

Toon empatie en luister.