sr1002myselfdinge44
Verhoudings

Dís wat jou date laat skeefloop: Mans gee raad

Die lug lyk blouer en die wêreld mooier. Jy’s verlief! Maar daarmee saam kom die knaende onsekerheid: Gaan hy jou uitvra? Gaan hy jou wéér uitvra? Sê nou jy doen iets wat hom afskrik . . .

Daar’s baie enkellopendes daarbuite, maar om die regte een vir jóú te kry is nie net maanskyn en rose nie. Daar’s slaggate, en natuurlik wil jy hulle vermy. Met egskeidings wat toeneem, aanlyn- sosiale netwerke wat mense bymekaar uitbring en professionele afspraak-agentskappe wat dit tot ‘n kuns vervolmaak het, is duisende mense deesdae deel van dié opwinding. Én die teleurstelling.

SARIE het met vyf mans van verskillende ouderdomme gesels vir eerstehandse wenke om teleurstelling te voorkom. (Binnekort kry vroue hul beurt om die manne reg te help.)

Hoe dik is jou beursie, Meneer?

Min dinge irriteer ‘n man soos ‘n vrou wat hom geldelik wil “melk”. Hy moet vir alles betaal. “Bevryde”mans gee deesdae glad nie om as ‘n “bevryde”vrou nou en dan aanbied om die rekening te betaal nie.

Daniël, ‘n 56-jarige elektroniese ingenieur van Nelspruit, sê: “Met sommige vroue ontaard ‘n drankie-afspraak gou in ‘n lang ete-sessie en naderhand nooi sy sommer ook vriende saam. Die rekening is elke keer die man se verantwoordelikheid. Jy voel of jy nét daar is om te betaal.”

En Menno,’n 63-jarige entrepreneur van Kaapstad, beaam dit: “Ek kry gereeld die indruk vroue wil hê ek moet hul geldelike probleme oplos of hulle geriefliker laat leef. “Een van die vroue met wie hy uitgegaan het, het selfs vir hom gesê hy behoort hom te skaam dat hy nie ‘n Ferrari en ‘n groot huis besit nie!

Marc (40+),’n aandelemakelaar van Pretoria, vertel van ‘n baie oulike vrou wat ‘n maand ná hul eerste ontmoeting wou hê hy moet haar woonstelhuur betaal. “En toe ek weier, het sy belangstelling verloor. Ek hou nie van fortuinsoekers nie. Dis vir my lekker om vroue te bederf en ek het ‘n baie gemaklike leefstyl: Ek besit ‘n mooi huis, ry ‘n Harley, surf, hou lekker vakansie. Maar ek glo vroue, veral dié wat sogenaamd bevry is, kan ook nou en dan aanbied om die restaurant-rekening te betaal.”

Jy praat te veel oor jou eks

 
Dis uit! “Moenie vertel dat jy en jou eks nog goeie vriende is nie. Daar is ‘n rede hoekom hy jou eks is,” meen Conrad (28),’n entrepreneur van die Paarl. Maar om heeltyd te vertel hoe aaklig jou eks is, werk ook nie. Veral as die man met wie jy nou uitgaan die idee kry jy wantrou hóm ook en verwag hy gaan enige oomblik in net so ‘n blikskottel soos jou eks ontaard.

Eugene,’n 23-jarige ouditeur van Gauteng, vertel hy moes een keer vyf uur lank luister na ‘n date se vertellings oor haar vorige kêrel. Dit was die einde van dié romanse.

Wees ‘n slag ‘n lady

 
Verrassing: Mans – dié wat die moeite werd is – hou van goeie maniere. Sy dates is dikwels laat vir afsprake, vertel Daniël, of hulle drink te veel en vra dan ongemaklike persoonlike vrae. Om heeltyd te SMS of op jou selfoon te praat is ook ‘n doodskoot. En dis darem baie ongeskik om net ná ete te sê jy wil nou gaan slaap, jy’s moeg. Sommige vroue het ook swak tafelmaniere.”Dinge wat jy nie sou verwag van mense met ‘n goeie beroep nie,”sê Daniël.

Conrad beklemtoon vroue moet met ‘n toe mond kou,veral as hulle kougom eet. “En wees betyds. Nie eens vyf minute laat nie. As die ou iets verkeerds doen, sê dit op ‘n mooi manier.”

Vind ook eers uit hoe hy daaroor voel voor jy té liefdevol raak voor ander

“Maak seker van sy gemaklikheidsvlak voordat jy hom in die openbaar soen,”sê Eugene.  “Ek hou nie van openbare vertoon nie en het al talle ongemaklike oomblikke ervaar as die meisie dit dan persoonlik beskou. Maar jy mag jou waardering wys.

“As jul afspraak goed afgeloop het en jy het dit geniet, moenie bang wees om ‘n SMS te stuur en so te sê nie,” meen Eugene.

Marc sê ook: “Hoekom moet ek altyd eerste bel ná die afspraak? Sý kan mos die dag daarna SMS of bel en dankie sê.”

 

kyk hoe lyk Jy!

 

Mans hou van ‘n goedversorgde vrou.

Soos Marc dit stel: “Ek lyk goed vir my

ouderdom. Dis vir my belangrik om

my liggaam op te pas, skoon te wees en

myself te versorg. Ek is nie op soek na

iemand twintig jaar jonger as ek nie,

eerder na iemand min of meer so oud

soos ek, maar goed ‘gepreserveer’.”

Eugene voel té veel grimering lyk

‘n bietjie “desperaat”. En Marc hou

niks van vals naels nie. Hy vertel, erg

ontsteld, van ‘n vrou wat haar lippe “soos

‘n nar”gegrimeer het met lipomlyner.

Min parfuum ook, asseblief, sê

Conrad.

“Ek wil nie met ‘n parfuumbottel

uitgaan nie,”stem Eugene saam.

 

Is Jy meJ. perfek?

Mans hou nie van ‘n vrou wat voorgee

om iemand te wees wat sy nie is nie,

want dan kan hulle nie ontspan nie.

verhouding

 

 

Wees getrou aan jouself

Elmari Craig, ‘n seksuoloog van Pretoria, gee ook raad:

Moet nooit voorgee om iemand anders te wees as jouself nie. Wees

eerlik en reguit. Sorteer jou eie emosionele kwessies uit. Dit sluit in

jou kinderdae, vorige verhoudings en die lewe oor die algemeen. Hoe

gesonder jy emosioneel is, hoe groter die kans dat jou verhouding sal

werk. Neem verantwoordelikheid vir jouself – emosioneel en finansieel.

Begin die fisieke verhouding stadig. Soos jul emosionele verhouding

vorder, kan die fisieke kant groei. Praat openlik oor jul behoeftes en/of

grense. Pasop om versmorend, afhanklik of needy te wees. Moenie ‘n

man probeer “red” nie en wees veral versigtig om nie sy ma te probeer

wees nie. Dis vir mans baie belangrik dat vroue hulle “nodig” het en

belangrik laat voel, emosioneel en seksueel. Wees gemaklik met jou lyf

en jouself as seksuele wese. Dit gaan nie oor hoeveel jy weeg nie, maar

oor selfvertroue en goeie versorging.

Besoek www.elmaricraig.co.za of skakel 082 783 6633 vir nog raad.

Eugene “Mans hou van

misterie. Moenie op die eerste

aand al ‘n verkorte weergawe

van al jou vorige kêrels en jou

hele lewe gee nie. Dan gaan ons

verveeld raak.”

❤ Menno “Geen man weet

presies wat ‘n vrou dink nie.

Flankeer met hom en laat hom

weet jy stel belang. Dan wéét hy

dis oukei om jou weer te kontak.”

❤ Conrad “Moenie skroom om

komplimente uit te deel nie. Dit

tel baie punte.”

❤ Conrad “As hy jou na ‘n

rugby-wedstryd op Nuweland

pleks van ‘n duur restaurant

neem, wys jy kan dit geniet. Dit

beteken nie hy is cheap nie. Hy

is dalk jou trouman. As jy hom

laat pret hê, sal hy jóú ook die

tyd laat geniet.”

❤ Menno “Neem deel aan

die geselskap, lag, lug jou eie

menings en weet wat in die

wêreld aangaan.”

❤ Daniël “Hanteer my soos ‘n

man en luister met aandag en

belangstelling na wat ek sê.”

❤ Marc “Seks is belangrik.

Kommunikeer daaroor. As jou

verhouding goed is, sal die seks

goed wees.”

Daar is reëls vir elke spel

Dieselfde geld dating, sê Inge Kruse, lewensafrigter en

afspraak-konsultant van Perfect Partners, ‘n Kaapse

maatskappy wat afsprake vir enkellopendes reël. Haar wenke:

Behou die misterie. As die man jou die eerste keer telefonies uitvra,

moet hom nie dadelik onder “kruisverhoor” neem nie. Moet ook nie alles

oor jou eie lewe uitblaker nie. Hou jou stem lig en vriendelik. Dít stel hom

op sy gemak.

Ná die eerste afspraak of selfs ná ‘n paar afsprake: Moenie dadelik

begin om hom te bombardeer met SMS’e of oproepe nie. Mans hou

daarvan om die jagter te wees. Hy moet dinge eers verwerk.

Mans wil nie meeding met kinders, vriende, die uitgebreide gesin en al

jou stokperdjies nie. Hy beskou ‘n nuwe vennoot as iemand wat waarde

tot sy lewe gaan toevoeg. Behou jou eie belangstellings, maar dit moet

nooit só belangrik word dat jy naderhand geen tyd het vir afsprake nie.

Respekteer hom. Die meeste mans sal voel jy het nie respek vir hom

nie as jy uit die bloute aankondig jy het jou vriendinne saamgenooi op

een van jul afsprake wanneer julle mekaar nog leer ken – en dan moet hy

boonop die rekening betaal!

Moenie behoeftig wees nie. Wees positief, spontaan en vol energie en

wees goeie geselskap.

Mans is visuele wesens. Jou voorkoms ís belangrik. Jy hoef nie

superdun te wees nie, maar versorg jouself. Mans hou van iemand

wat gemaklik is met haarself en nie té ydel is nie.