photo_16081_20100504_1
Verhoudings

Egskeiding en kinders: Maak die seer makliker (Deel 1)

Egskeiding kan kinders se wêreld laat verkrummel – tensy julle as ouers dit reg hanteer. Maak jou huis steeds ’n plek waar hulle veilig en gekoester voel

Hy was maar vyf toe sy ouers geskei is. Vandag sê Albert Coetzee (16) van Kaapstad: “My ma en pa het besef dit werk nie om met mekaar getroud te wees nie. Maar al is hulle geskei, is hulle steeds vriende – en deel mekaar se vreugdes en leed.”

Maklik was dit beslis nie vir hom en sy suster, Isabelle (nou 18) nie, sê hul ma, Carol.

“Maar ons het almal gegroei. Hulle is gelukkige, gebalanseerde tieners. Ek glo dis omdat ek en Johan steeds goeie vriende is. Ons is lief vir ons kinders en hul geluk is belangriker as enige geskil wat ons kan hê.” Kon dít maar alle kinders uit gebroke huise se ervaring wees.

Sowat 33% van SA huwelike eindig in die skeihof. Maar dit hóéf nie ’n ramp vir die kinders te wees nie. Hoe julle as ouers saamwerk, is die belangrikste faktor wat bepaal hoe goed hulle die trauma gaan baasraak.

“Goeie egskeidings”

Studies wys “goeie” egskeidings het dít gemeen: die afwesigheid van kwaadwilligheid en ’n besorgdheid by albei ouers oor die kinders se welsyn.

Só belangrik is ouers se gedrag dat twee plaaslike boeke onlangs daaroor verskyn het. Duisende kinders is elke jaar by bitter en vyandige egskeidings betrokke, sê Anne Cawood van Kaapstad, skrywer van Aanpasbare grense: Help kinders en tieners om skeiding en egskeiding te verwerk (Metz Press, 2010). As maatskaplike werker in ’n private praktyk tree sy as fasiliteerder op tydens egskeidings.

“Dikwels is ouers skaars hoflik teenoor mekaar tydens die egskeidingsgeding. Dan vra ek hoe hulle kan dink dat hulle hoegenaamd ná die tyd oor die weg gaan kom.”

Dr.Tanya M. Robinson, skrywer van Divorce: What About the Children? (Struik, 2009) en direkteur van die Family Therapy Assessment Centre in Johannesburg, beaam dit.

“Die ouers stem dikwels glad nie saam oor besluite wat die kinders raak nie. Al besoek hulle ’n professionele mens vir hulp wil hulle nie kompromieë oorweeg nie.”

Maar daar ís praktiese maniere om dit vir julle almal makliker te maak. As jy dit voor oë hou, kan jy jou eie emosies opsy skuif en jou kinders se belange eerste stel.

Skei ter wille van die kinders?

Natuurlik is ‘n gesin waar ouers gelukkig saamlewe die beste vir kinders, sê Elize Morkel, sielkundige van Somerset-Wes. Maar mense skei nou eenmaal. En soms is dit selfs beter vir die kinders, soos as een ouer fisiek of emosioneel gewelddadig is, gedurig ontrou is of alkohol of dwelms misbruik. Boonop kan ‘n ongelukkige huwelik jou só beïnvloed dat jy nie regtig dáár is vir jou kinders nie.

“Ek weet van gevalle waar ‘n ouer bv. lang ure werk om die ongelukkige huwelik te vermy. Of waar uitgerekte argumente of koue oorloë ouers se energie opeis.”

My ouers moes geskei het, eerder as om “vir die kinders se onthalwe” bymekaar te gebly het, sê baie volwassenes wat in ‘n huis vol konflik grootgeword het. Volgens Elize voel volwassenes dikwels só as hulle terugkyk op hul ouers se liefdelose huwelik. Hulle kan selfs ‘n ouer verwyt wat hulle nie uit negatiewe omstandighede weggeneem het nie. Kinders wat nog op skool is, voel egter anders. Meermale ervaar hulle ‘n egskeiding as baie traumaties. In ‘n onlangse peiling het 1 600 Britse kinders jonger as 10 jaar gestem as hulle die wêreld kon regeer, sou hulle egskeiding héél eerste verban – selfs vóór ‘n geboelie.

Al voel kinders nie veilig, warm en gekoester in ‘n ongelukkige huwelik nie, is dit net so sleg as julle skei en nie hulle belange voorop stel nie, sê Lenie Naude,’n sielkundige van Pretoria.

 
Die wet help
Kenners verwelkom wysigings aan die Kinderwet (2005). Daarvolgens moet die kinders se beste belang altyd vooropgestel word in besluite oor hulle.
  • Kinders móét gehoor en in ag geneem word, sê Tanya. Anne voeg by daar is nie meer iets soos alleentoesig nie (behalwe in gevalle soos molestering), want dit lei te dikwels tot ‘n magstryd en ongelyke verspreiding van ouerregte.
  • Albei ouers moet nou besluite oor die kinders neem. Die opstel van “ouerskapsplanne” het op 1 April vanjaar wet geword, vertel Lindi Wademan, ‘n egskeidingsprokureur wat in Johannesburg en Kaapstad praktiseer.
  • Ouers wat skei en verskil oor hul regte en verpligtinge teenoor die kinders, word nou verplig om dit met behulp van so ‘n “ouerskapsplan” te probeer bylê. Dit omvat die praktiese besonderhede  van kinderversorging, van by wie hulle gaan bly tot wie hulle tandarts toe neem.
  • Ouers sal bygestaan word deur ‘n sielkundige of welsynswerker. Anne sê: “As fasiliteerder by egskeidings vertel ek die kinders: ‘Jul ouers het elkeen ‘n prokureur – ek is júlle s’n.’ Een meisietjie het dit só ter harte geneem dat sy haar ma gevra het om asseblief ‘haar prokureur’ te bel!”

Lees deel 2 hier

  • Louise Bergh

    Die is waar.ek weet nie hoekom mense wil skei nie.jy het mos voor God aan mekaar belowe.Gelukkig glo ek nie aan skei nie.Ek het gesien wat doen egskeidings aan kinders.Ek was self daar deur gewees toe my ouers skei.Dis nie grappies nie.Mense moet mooi besluit voordat hulle wil skei.Dis die kinders wat daar onder lei en seer kry op die ou einde.

  • anoniem

    Liewe Louise
    mense wat nog nie deur trauma in die huwelik gegaan het nie, kan glad nie saam praat nie.
    My gewese man was nog nooit in ons huwelik getrou aan my nie. Hy het telkemale my verneder, op my geskree, gevloek en my al rond geruk omdat ek hom aangevat het oor sy ontrouheid en agrisiwiteit. my dogtertjie wat 4jaar is, het hy telkemale met geweld so hard geslaan dat sy uit vrees haar bed nat maak en weg kruip as hy na werk huis toe kom.

    Na 4 jaar van ‘n hel huwelik waar my dogterjie saam my als moes deurmaak was my tweede swangerskap net so hel. hy was gearesteer vir verkragting oor ‘n minderjarige swangerskap terwyl ek ook swanger was met ons tweede kindjie.

    Ek wou inmekaar sak en het met my familie gereel saam die landros om my in die aand te kom haal met my kinders om te vlug. Vandag is ons geskei en my dogterjies se gedrag begin verander en ek begin stadig weer my ouself te word. ek sukkel geweldig met vertroue en my selfbeeld.

    So nou vra ek jou wat geen ondervinding het van geen aard nie, moenie ander oordeel wat skei nie, want jy kan nie saam praat met die trauma waat gepaard gaan nie. Ek is nooit spyt dat ek weg is van hom met my kinders nie en ook nie omdat ek nou geskei is van hom nie, want hy is ‘n monster en nie werd om ‘n pa te wees nie.

    Staan eder mense by wat deur egskeiding gaan as om te kreteseer of ander aan te val. Die Here ken elkeen se hart en omstandighede al het jy wat voor God belowe. kinders lei meer daar onder om in ‘n huwelik te bly waar erg dinge gebeur as om deur ‘n egskeiding te gaan want die trauma in die huis is baie erg.