FOTO: Phyllis Green

My kind

Ek is gay – nou’s my tieners woedend – DEEL 2

Dilemma van SARIE-leser: Ek het onlangs uit die kas gekom ná baie jare van wroeg en ontkenning. Ek was lief vir my vrou en het in byna alle opsigte ’n gelukkige huwelik gehad. Dit het baie van my geverg om uiteindelik eerlik met myself te wees en my seksuele identiteit te aanvaar.

My twee tieners is woedend, hulle wil niks met my te doen hê nie. Die jonger ene is eintlik nog te klein om die implikasies te verstaan. Hoe loop ons die pad vorentoe?

Lees hier: Dr. Jean du Plessis sielkundige en skrywer se antwoord

Gawie Brits (skuilnaam) antwoord

Gawie is ’n professionele 40-jarige van Pretoria

As gay pa kan ek nie genoeg beklemtoon hoe belangrik die rol van die heteroseksuele ouer is om kinders te help om hul gay pa (of ma) te aanvaar nie. As die heteroseksuele ouer nie begrip het vir die situasie nie, gaan dit heel waarskynlik vir die kind baie moeiliker wees om te aanvaar dat haar pa/ma nou gay is.

Dit was vir my baie moeilik om uit die kas te kom, maar ek en my eksvrou het ná ons egskeiding ’n goeie verstandhouding gehad. Ek het my kinders byna elke dag gesien en het ’n baie goeie verhouding met hulle gehad.

My dogter het eers ’n jaar ná ons egskeiding toevallig uitgevind van my seksuele identiteit. Aanvanklik het dit gelyk asof sy nie daarmee ’n probleem het nie, maar ’n jaar of
wat daarna het sy net een dag uit my huis gestap en nooit weer teruggekom nie. Sedertdien was die enigste kommunikasie tussen ons slegs uiters beledigende
teksboodskappe van haar. Ek was heeltemal onvoorbereid daarop.

My eksvrou se reaksie op my dogter se gedrag het my geweldig teleurgestel. Sy het my heeltemal uit my dogter se lewe gesny in solidariteit met haar. Ten spyte van verskeie versoeke kry ek net die absoluut noodsaaklikste inligting oor wat in
haar lewe aangaan.

Ek kan dit nie verstaan nie. Ek kan nie dink dat my en my dogter se verhouding ooit sal kan herstel as dit haar ma se houding is nie. Dit sit ook net ekstra druk op haar as enkelouer omdat ek nou gedwing word om heeltemal onbetrokke te wees by my dogter se opvoeding.

Hoe en wanneer om jou kinders in te lig oor jou seksuele identiteit hang baie af van die omstandighede en van die kind self. Ek was nog nooit in ’n gay-verhouding nie en voorsien ook nie een in die nabye toekoms nie. Daar was dus nog geen rede hoekom ek my kinders moes inlig oor my identiteit nie. (Ons het ook twee klein seuntjies.) Ek dink nie kinders is so aanpasbaar soos mense dikwels meen nie en ek sou verkies het om my dogter eers in ’n latere stadium in te lig wanneer sy meer vaardighede gehad het om sulke inligting te verwerk. Ongelukkig het omstandighede anders gedikteer.

Dis belangrik om te weet dat geen twee kinders dieselfde is nie en dat hul reaksie daarop aansienlik kan verskil. Kinders wat byvoorbeeld in huise grootword met twee selfdegeslag-ouers sal dalk baie anders reageer as kinders wat skielik
op ’n later ouderdom gekonfronteer word met hul ouer se “alternatiewe”
seksuele identiteit.

Ek is bitter lief vir my tienerdogter en ons was baie na aan mekaar. Haar hewige reaksie kon ek dus nooit voorspel het nie. Sy het in ’n liberale huis grootgeword waar sy geleer is om mense te aanvaar soos hulle is. Ek het haar byna twee jaar laas gesien, selfs al woon sy baie naby aan my. Vir my is die verwerping deur my eie kind ’n baie groot verlies en seker die grootste krisis wat ek nog in my lewe moes hanteer. Ek verstaan dat sy dit problematies vind om die pa wat sy geken het te vereenselwig met ’n gayidentiteit. Dis ’n groot kopskuif om te maak vir ’n kind van haar ouderdom. Die sosiale druk van haar maats en die ewige behoefte van ’n tiener om “in te pas” vererger dinge baie. Om gekonfronteer te word met enigiets wat buite die norm is op daardie ouderdom, is baie moeilik vir tieners om te aanvaar. Wanneer dit die groot “skande” van ’n gay pa is, kan jy seker groot aanpassingsprobleme verwag.

Ek voorsien nie dat ons verhouding ooit weer dieselfde sal wees nie, maar net tyd sal leer. My onvoorwaardelike liefde vir haar is nog net so groot soos altyd. Hopelik sal sy eendag leer dat my seksuele identiteit bloot ’n klein deel uitmaak van wie en wat ek is en sal sy my so aanvaar. Intussen duur die pynlike verlange daagliks voort.

Lees hier: Dr. Jean du Plessis sielkundige en skrywer se antwoord